Waar die Namib asemhaal (Goud)
Waar die Namib asemhaal
In die oudste woestyn droom tyd stadig,
en die stilte draai jou binnestebuite –
’n duiselige niks wat ook alles is.
Reusesandputte fluister van vryheid,
waar vrede dik hang in die hitte.
Wit lelies sprankel tussen gruis en doringgras,
terwyl gemsbokke baldadig wei,
staan springbokke in songeel trots,
en sebras staar stil in bruin silhoeët.
Die sprokiesbome, krom soos ou stories,
staan wag oor feetjiesirkels van verlore hoop.
In die verte lê panne waar water blink
en grasvlaktes soos ryk geweefde matte uitrol.
Rooi duinstrate breek deur die gruisvlaktes,
in kontras van vuur teen maanland se swart.
Onder in die skeur sien jy die Kuiseb-rivier,
hou jy jou asem op, hoor jy die rivier roggel.
Brulduine sug, glyduine droom,
waaigate sluk die wind se geheime in.
Die oggendson dans in pienkrooi maroen,
en as die son verkrummel in sonsondergang
vind jy slaap
onder sterre wat skitter soos vlammende fakkels.
Hierdie is my Namib.
©MarleneErasmus
17/05/2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Tearlach
So ken ek ook die Namib. Pragtige poëtiese beskrywing daarvan