Jongste aktiwiteit:

WAARHEID.

Sê nou net jou man (of jou vrou) foeter rond met ’n ander man of vrou. Gelukkig besef hy/sy dat dit verkeerd is en dat julle twee saamhoort. Hy/sy kom terug na jou toe, maar stel ’n nuwe reël in: jou verjaardag word van nou af op die verjaardag van die skelmpie gevier. Sal jy dit aanvaar? Sê dit gerus maar: ‘Verdomp, dit sal die dag wees!’

In die 4e eeu het die kerk die fees van Saturnalia ingevoer, met die hoop om heidene te lok en te red. Leiers het dit reggekry om heidene na Christenskap te swaai, met die belofte dat hulle nog altyd Saturnalia mag vier. Al probleem was dat daar geen Christelike konnotasies aan Saturnalia was nie en hulle besluit toe (ja, hulle besluit sommer self) dat Jesus se verjaardag op die finale dag van dié heidense fees gevier moet word. Sodat daar darem tog ’n Christen geurtjie aan sal wees.

En vandag? Die meeste mense doen als wat almal doen, want dis maklik en vanselfsprekend. Dis egter baie moeiliker om die waarheid te hoor en aanvaar en om te draai. Lees mens nie dan iewers dat dié wat ore het moet hoor nie? Vandaar hierdie fees met geen gelyke, as dit kom by die kommersiële aanhitsing tot spandering, oor-ingestie en vierings nie.

In die 5e eeu gelas die Westerse kerk dat daar verewig feesgevier sal word vir Christus se verjaardag, op die dag wat Mithraïsme ook geboorte van die son herdenk (The Sun of Righteousness) en die laaste dag van Saturnalia. Omdat daar geen sekerheid oor die datum van Jesus se geboorte is nie. (Hulle het sommer besluit)

Deesdae is die algemeenste verskoning en regverdiging vir Krismis, dat die ou heidense gewoontes vervang is en mense verklaar dat hulle nou op Christus fokus. Baie sê hulle eer Christus in húlle Krismis. Die probleem is dat God dit nie aanvaarbaar verklaar het nie. Eintlik gebied Hy daarteen. Om Krismis te vier, onteer Christus. Regoor die wêreld doen miljoene der miljoene mense dit op 25 Desember. En ek het dit ook vir baie jare saamgedoen. Ek kry skaam.

Christus self verwys daarna dat ons Hom nie kan dien deur die leerstellinge van mense, voor te hou as gebooie van God, nie – Matt. 15:9. Krismis is nie ’n gebod van God nie. 25 Desember is die absurdste datum wat hulle kón kies, want daar sou geen herders met hulle skape buite in die veld gewees het nie. O ek vergeet, ons almal wéét mos dat dit die verkeerde datum is, maar fees dié vier ons.

Dit was ook die gebruik van die heidene om hulle huise met liggies, dennebome en ander groenigheid te versier, van doerie tyd af al. En die kinders en armes was met geskenke bederf. Die slim politiese predikers het dié heidense middel-van-die-winter-fees deeglik vasgevat as die kamtige verjaarsdag van Christus en sommer ook ’n paar ander heidense goeters, net om dit meer aanvaarbaar te maak.

Onder andere die Sinterklaas-leuen wat die kindertjies moet aanhoor. ’n Oorgewig ou man in sy verspotte rooi pakkie, met ’n lang baard en bokke wat sy slee trek, hou hulle glo dop. Nie God nie, maar Sinterklaas. Hy sien alles wat hulle verkeerd doen en daarvolgens word ’n geskenk bepaal. Hy is nie soos God wat hulle vergifnis bied nie. Kan ons ’n méér blatante, onbeskaamde liegstorie opdis? Ek het vir baie jare saam gelieg.

’n Klompie jare gelede het ’n man in New Jersey vir sy Sondagskoolklas vertel dat Sinterklaas net ’n mite is. Hoogs ontstelde ouers was rats om hom te beskuldig: ‘Hy het Sinterklaas vermoor! Hy het tradisie vernietig! Hy het die mag van die familie omsluip!’ Sy base het hom afgedank omdat hy onsensitief was, bid jou aan. Sy oortreding? Die waarheid!

Sinterklaas is afgelei van ‘Saint Nicholas’ of ‘Santa Claus’ “Santa” was ook ’n algemene naam vir Nimrod. Washington Irving het in sy Knickerbocker History of New York, die eertydse, hardkoppige ou biskop Nicholas, herbenoem as die ‘jolly St Nick’ wat natuurlik ook na die duiwel verwys, soos alom bekend. In Op2:6 lees ons ook van die afskuwelike Nikolaïete, vir wie God verwerp. Nikos beteken verwoester of vernietiger. Laos beteken mense wat volg. M.a.w. volgelinge van die verwoester. Gedink Krismis is onskuldig? Dink weer. Ek het.

Nog ‘n ironie is dat meeste mense glo hulle volg die praktyk van die wyse manne wat geskenke aan Jesus gegee het. Tog gee hulle altoos nét geskenke vir mekaar. As jy ’n verjaardagpartytjie sou bywoon wat vir jou verjaardag gereël is (’n paar maande laat) en almal gee presente vir mekaar, maar jy kry niks. Hoe sal dit jou laat voel? Jy sal mos sê hulle is selfsugtig. Inderwaarheid gee meeste mense Krismis presente omdat hulle verwag om presente te ontvang.

Terloops, het jy geweet die Bybel praat nie van drie wyse manne nie? Gaan lees maar in Mattheus en Lukas. Ewenwel, hulle hét geskenke vir Jesus gebring, maar nie omdat dit sy verjaardag was nie. Dit was omdat Hy die Koning was en hulle het dit geweet. Hulle het nie in Sy teenwoordigheid, vir mekaar presente gegee nie. Tradisie in die Ooste het bepaal dat as jy voor ’n koning kom, bring jy vir hom iets.

Die Krismisboom word uitgesonder en direk bespreek in Jer. 10:2-5, kan jy dít glo? In vers 3 praat hy spesifiek van die boom wat afgekap word. Gaan lees maar self. Ook word ons vermaan om nie die gebruike van heidene aan te leer nie. Alles wat ons moet weet, dis daar in die Woord.

Krismis is egter ook nog nie verby, tensy jy iemand onder die Mistletoe/ Voëlent gesoen het, nie. Dit was ’n bekende gebruik by die heidene, op die aand van hulle feestigheid en dronk orgies. Hierdie plant het, soos hulle geglo het, spesiale kragte vir genesing vrygestel vir dié wat daaronder gevroetel en gevier het.

God het die Israeliete uit Egipte en weg van die heidense gebruike gelei. Hy wil voorwaar nie hê sy kinders moet daarheen terugkeer nie. Al hierdie dinge is definitief nié ter aanbidding van die ware lewende God en Skepper nie!

Jesus moes sy lewe gee sodat ek aanvaarbaar is vir God. God sal nie toelaat dat iemand met Jesus se bloed mors nie. Ons sit so lekker gemaklik in die kerkbank en sluk alles wat aan ons opgedien word, sonder om dit in die Woord op te soek. In die hele Bybel, van voor tot agter, van agter tot voor, kon ek nêrens die geboortedatum van Jesus vind nie en nog minder opdrag van God om op 25 Desember ‘n oorvreet, oordrink fees daarvan te maak nie.

Hoekom doen mens dit dan? Seker omdat ons skape is. Skape wat sommer net volg, waarmee die wêreld ons verlei. En ons mors met die bloed van die Kind en Koning wat iewers in die herfs, tussen September en Oktober gebore was. Ek sal nooit weer vir Jesus as verskoning gebruik om fees te vier op 25 Desember nie. So help my God.

Die waarheid oor die waarheid is, as jy eers die waarheid ken word jy tot verantwoording gehou.




Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed