Dans asof niemand kyk nie.
DESEMBER 2019 PROJEK – DANS ASOF NIEMAND KYK NIE
Rubriek
Deur Marlene Erasmus
ʼn Baie ou bekende gesegde lui so: “Dans asof niemand kyk nie, gee liefde asof jy nog nooit seergekry het nie en sing asof niemand jou hoor nie.” Ten laaste ook: “Leef asof dit hemel op aarde is …”
Woorde wat so maklik geuiter word, maar ook terselfdertyd so moeilik is om te onthou in alledaagse situasies en uitdagings wat aan ons gestel word? Is dit regtig moontlik want hoe kry mense dit reg om lief te hê asof hulle regtig nog nooit seergekry het nie? Ons word dikwels so diep seergemaak dat dit sommer net onmoontlik vir ons lyk.
Die vraag wat by my opduik is dan ook: “Hoe leef ons so in volkome vryheid?” Die goeie nuus is dat ons in vryheid kan leef as ons in ons Skepper se grenslose liefde vir ons begin glo. As ons die begrip van liefde kan begin glo, ken, vertrou en aanvaar, kan ons begin dans van blydskap. Dan, en alleen dan kan ons dans – asof niemand kyk nie! Dit gaan nie daaroor of ons ons dans voltooi in volmaaktheid nie – maar of ons die dans van die lewe met volle oorgawe kan geniet …
Om te dans asof niemand kyk is moontlik en binne ons elkeen se bereik. Carpe Diem en begin vandag met daardie dans wat knipoog vir jou lê en wag …
©Marlene Erasmus
30/12/2019
Woorde: 239
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2019 projek - Dans asof niemand sien nie