
Ek groet 2019
Dis die laaste dag van die jaar . . .
‘n dag soos enige ander
wat kom en weer sal gaan
vaalwit spoegwolkies
beklad die kobaltblou lug
asof die aarde
met staccato-wasem sug
die kwik sal styg
sweet pêrel op vlees
terwyl veld en dier
dorstig na water hyg
‘n jaarsak tot barstens vol
ingeprop vol lief en leed
sukses en mislukkings
trane en sweet
en al wat nou oobly
is om dit toe te knoop
te bestrik en etiketteer
voor ek dit finaal
op my lewensrak wegpak
kyk, daar hang al klaar
‘n 2020 inpaksak –
skoon en leeg
(wonder wat ek als
daarin gaan pak)
ek gaan poog om selektief te wees in keuses
te sif kwaliteit van kwantiteit
en om elke inpak versigtig te benader
met kundigheid, insig en wysheid
(natuurlik verkry van Bo)
raak te sien die ware skatte
wat lewenswaarde bied
en my sak vir 2020 vul
met dit wat werklik
in die lewe saak maak.
Mag 2020 ook vir jóú wees
‘n jaar van insig en wysheid
met oorvloed
en ongekende
voorspoed.
©Driekie Grobler
2 Kommentare
-
Kiekies
Pragtig Driekie! Applous vir jou!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2019 projek - Dans asof niemand sien nie