waters van onrus (silwer)
waters van onrus
woordvloede van leë beloftes
wat oor blinknat lippe stroom
word ’n vrygewige rivier
wat my meanderend
meevoer
verspoel
onderdompel
die opdam van antwoordlose vrae
kommer en vrees
maalkolk in my
ek verdrink in onsekerheid
dit sleur my mee
deur donker
wat-asse en sê-nou-maars
ek hou my asem op
verswelg deur woedende waters
oor rotswande van twyfel
dit kerf slote in my weerstand
ontwortel my
donga my siel sidderend
en spoeg my uit op ’n sandbank
ten spyte van die beste bedoelings
©Hester Steenkamp
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Junie 2024 – Die onbekende projek