Winterdood en die mens.
Winterdood en die mens.
Winter laat my onwillekeurig dink aan die woorde van Eugène Marais: “O, koud is die windjie en skraal. O, treurig die wysie op die ooswind se maat …”
Winter word ervaar as ʼn seisoen van koue, stilte en dood in die planteryk. Die mens se lewe verloop ook in seisoene, waar sterflikheid ʼn voldonge feit is. Ek kyk graag na die parallelle tussen winterdood en die mens se lewe. Winter in die natuur kan gesien word as die dood van ʼn spesifieke seisoen, maar terselfdertyd bied die begrip vir my ʼn veel dieper perspektief op die mens se sterflikheid.
In beide gevalle beleef jy verbygaande skoonheid. Voor die winter sy verskyning maak, vind jy bome getooi met blare, vol mooi blomme. In wintertyd vind jy dat daardie selfde bome kaal en weerloos staan. Winter het egter ook sy eie skoonheid. In sommige streke mag jy die wonder van vallende sneeuvlokkies beleef. Die mens se bestaan word ook gekenmerk deur verganklikheid. Soos blare aan ʼn struik, verskyn en verdwyn die mens met die tyd wat verbysnel. Daar is niks so mooi soos die geboorte van ʼn kind nie. Die broosheid van ouderdom ruk aan my hart. Aan die ander kant staan die hartseer en finaliteit van die dood. Die Woord herinner ons hieraan; ʼn tyd om te kom en ʼn tyd om te gaan, ʼn tyd om gebore te word en ʼn tyd om te sterf. Winterdood kom herinner ons ook aan die hierdie begrip.
Alhoewel die winter die einde van ʼn seisoen aankondig, hou dit ook vir ons die belofte van herlewing en nuwe lewe in. Winter is dit die tyd wanneer nuwe krag sluimerend skuil in weerlose kaal takke, net om later weer vol blomme te wees. Hier kan ons ook die vergelyking tref met die menslike gees wat ongelooflik veerkragtig is! Al gaan jy vandag deur die dal van die doodskaduwee, sal die son wel weer skyn. Winterdood herinner my aan die wonder van herstel, ongeag of jy tans in die donkerste seisoen van jou lewe is.
In die natuur vind ons dat winter ʼn tydperk van rus is. Dit is asof die winter die mens opnuut laat dink, ʼn tyd vir selfondersoek en besinning. As mens, ondervind almal die behoefte van stilte waarin jy kan asem skep en jou lewe evalueer. In stilte vind jy rus en besef opnuut die waarde van innerlike vrede. In hierdie koue seisoen herontdek jy warmte van ʼn kalm gees.
As jy dan in die koue van die winter bibber en beef, omarm die stilte en onthou die geleentheid tot groei wat aan jou gebied word. Mag winterdood met sy nederige wysheid ook vir jou die lewensles leer: daar is altyd herstel en vernuwing, selfs te midde van die koue om jou.
©MarleneErasmus
24/06/2023
(444 woorde, insetsel “O, koud is die windjie en skraal. O, treurig die wysie op die ooswind se maat …” nie getel nie.)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Junie 2023 – Winter projek