‘SKUUS MENSE!
Liewe Anze ♥, liewe medeskuldiges, liewe vriende, liewe [û-ûm, ûr, êrg, c]:o(…],
nouja, liewe mense,
‘n paar maande gelede het ek die beleefnis gehad dat ek nie tot inkorgza kon deurkom nie. Ek het in my onwetenheid allerhand mense geteister en getreiter – ook my seun wat in ‘n aaitie-firma werk – maar dit het niks gehelp nie. Ek het op „Teken uit” getik (daar was geen „Teken in” nie), op „Paswoord vergeet?” getik… Niks nie, sê ek, buiten dat ‘n masjien daar doer in die küberruim my laat weet het, in my posbus is ‘n nuwe paswoord afgelewer. Maar niks is daar nie. Tweekeer niks. Niks nie. In uiterste frustrasie neem ek toe ‘n voorslaghamer en maak dreigende gebaarde voor die monitor… Niks. Toe is ek afgeroep om êrens met iemand (met mense) ‘n week se vakansie te verbring. Dat ek nie lag nie! Vakansie? Onkruid (brandnetels) pluk en uitgrawe, laminaatvloer lê, deure uit- en inhang in oorlëe skoonpa se huis. Toe ek terugkom het ek die rekenaar vermy soos Beelseboep die priester se sproeiwater en Soduko gespeel (met slegte resultate origens). Kort ingeloer en ‘n gedig gelees.
Andersins niks. ‘n Tydjie later het mense my weer verplig om weer ‘n week se vakansie op dieselfde êrens weer te hou. Waarby die oorlewende brandnetels al drie meter hoog gestaan het.
In („uiterste” het ek al gesê, nè?)… In alleraller uiterstuiterste frustrasie skakel ek die ver#*♠≠₪ǿ¥#sde rekenmasjien aan en, siedaar!, „Welkom, Toom”! Ek glo dit nie, ek glo dit nie, ek glo dit nie! En as julle nie hierdie brief kry nie, is dit bewys. Mos. Nè?
Andersins, origens gaan dit my goed: Lewerfunksie, herpes, prostata. Dankie, ja. En jou? Bly om dit te hoor… Ook so, dankie.
[Tussen hakies: Nadat Richard Dimbleby in 1939 die tweede wêreldoorlog oor die BBC nuus aangekondig het, het hy in die mikrofoon gesê, „Ek weet nie hoe julle daaroor voel nie. Maar nou gaan ek ‘n bier drink!” So ook by my. Nie nou nie. Môre, Maandag. Miskien.]
Aa-ag, man! Julle en julle ver#*♠≠₪ǿ¥#sde elektroniekdataverarbeidingsgoeters!
Groetnis phanToom ☼☻ So. 30e. Okt. ’16
3 Kommentare
-

Viooltjie
Hehe, jammer om te hoor van die groot gesukkel, Toom. Baie welkom terug. Ek hoop dis 'n aangename ervaring. Lekker gelees aan jou skrywe 😊
-

Koekekranka
Jou aanwending van ons Taal is vir my 'n heerlikheid en jou humor vlymskerp, Toomman. Ek het jou gesukkel met die tegnologiese gedoentes en -stelsels nogal aanvaarbaarskaflik ervaar maar darem koes-koes mis gelees waar die bliksems en die donders in geheimeskrif stofslaan! Maar ek moet erken (en arme Anze kan be-aam!) dat ek baie erger as jy gestremd is as dit by die tegnologie kom want, alhoewel ek net met twee vingers kan tik -en dus veronderstel is om met die ander agt wat uit die pad is minder 'mishaps' te kry- sukkel ek nie net gedurig om die ou twee vingertjies tussen die toetse uit te wring nie, maar veroorsaak ek telkens ook nog onbedoeld uitsending van verkeerde kodes wat sommer alles wat ek spoedloos en met die grootste moeite getik het iewers in die kuberruimte ge-'dump' word! (En ek is bly om ten slotte te verneem van die gawe toestand van 'lewerfunksie, herpes en prosta.'!) Mooi bly en egte Ink-groetnis!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Welkom terug Toom