Bennie en braaihoender
Benny en braaihoender
Goeie raad vir enigiemand wat in Afrika reis en in die straatrestaurante wil eet: Kyk hoe besig die plekke is. As restaurante besig is, dan koop hulle nuwe produkte in, anders word Maandag se braaihoender Dinsdag se hoenderkerrie en Woensdag se hoendersop. Ons het by vriende uitgevra en is uiteindelik verwys na ‘n spesifieke restaurant. So kom dit dan dat ons die restaurant in een van die systrate van Dar es Salaam ontdek. My seuns sien die naam, “Chef’s Pride”, en kondig luidkeels aan dat daar “mzungu” (blanke mense) daarbinne sit. Dit alleen is ‘n baie goeie aanduiding dat die kos gangbaar is.
Ons stop en ek gaan doen inspeksie na die gangbaarheid van die situasie. Ons is gewaarsku teen die gruweldinge wat in eetplekke skuil en maagaandoenings veroorsaak, en die laaste ding wat ek wil hê is twee jong seuntjies met maagwerkings. Die plek lyk toe heel goed en ek ontmoet selfs die eienaar, Shafiek, en hy nooi ons in om te kom eet. Daar is verskeie tafels met jong blankes, buitelandse rugsakreisigers, wat ‘n aanduiding is dat die kos goed én goedkoop is. Langs die hoof ingang is ‘n toonbank wat na buite wys. Dit lyk amper of dit ‘n aparte besigheid is, want hier staan ‘n knaap en braaihoenders maak, en dan verkoop hy hulle sommerso in stukke gesny aan verbygangers, maar jy kan sy hoenders ook in die restaurant bestel. Die hoenders lyk en ruik heerlik en glinster goudbruin gebak soos hulle deur die oond draai.
Ek stap uit om my gesin te kry en word dadelik bewus van die aanhoudende getoeter van ‘n voertuig. Toe ek nou nader stap, let ek op dit dit my vrou is wat so toeterblaas, want hier sit ‘n knaap op die voorste buffer. Op die sypaadjie staan ‘n ry van ongeveer agt stoele en hier sit ‘n paar manne met kopdoeke en rook en gesels in die koel aandluggie. Hulle bekyk die petalje, en toe ek verbystap, vertel hulle my die ou wat daar op my motor sit is ‘n moeilikheidmaker. Ek sien hy steur hom min aan haar en die getoeter, en hy glimlag so half uitdagend, sodat my bloed sommer dadelik kook. Ek stap nader en die getoeter hou op. My vrou maak my venster oop en sê my die man is moeilik en wil hulle nie uitlos nie. In geen onduidelike taal vertel ek hom dat hy van my motor moet afklim en moet skoert, maar hy bly halsstarrig sit.
Ek beduie die gesin om uit te klim en in die restaurant in te beweeg, en soos ek beduie en wink, so aap die knaap my na, wat my nog meer ontstel. “Meme kaburu mbaya sana kwa Afrika kusini!” (ek is ‘n baie kwaai boer van Suid Afrika!) verduidelik ek, “Nenda, nenda sasa hivi!” (gaan, gaan nou dadelik) las ek sommer by dat hy nou mooi kan verstaan wat ek bedoel. Intussen loop my gesin oor die straat en gaan die restaurant binne, terwyl my oudste seun by die hoederbraaier vassteek en hom bevriend. Sy naam is Benny en hy en my seun knoop dadelik ‘n gesprek aan. Benny vertel hom dat die ou ‘n moeilikheidmaker is en dat hulle sukkel om ontslae te raak van hom, want hy maak moeilikheid vir al die kliënte. Met die gesprek kom ek ook by hulle aan en ek en Benny groet.
Hier moet ek net verduidelik dat daar in Swahili ‘n naam vir blankes is. Blanke mense word “mzungu” genoem, en dit dit sluit alle blanke Europeërs in. Gedurende Suid-Afrika se apartheid-dae was daar heelwat politieke figure uit die land verban. Baie van hulle het ‘n heenkome in Tanzanië gevind. Tanzanië was destyds ‘n kommunistiese staat en het baie hulp vanuit Rusland en Sjina gekry. Op daardie tydstip is die woord “kaburu” gebruik om Suid-Afrikaners, veral blanke Suid-Afrikaners, te beskryf. Die woord is afgelei van “boere”, en tot vandag dra dit ‘n betekenisvolle beskrywing, hoewel dit nie meer die afsku van die apartheidbeleid beskryf nie.
“Pappa!” waarsku my seun, “die ou maak Pa se naam gat hier in die straat”. Ek draai om net om te vind die knaap is reg agter my en hy trek vir my gesigte en wys my hoe lank sy middelvingers is. Ek let uit die hoek van my oog hoe die manne op die stoele die petalje dophou en ook aanmerkings na die ou gooi. Ek is ‘n vredeliewende mens en tel nie maklik my hande vir enigiemand op nie, maar die knaap was vinnig op pad om my te ontstel. Weer waarsku ek hom dat ek ‘n baie kwaai boer is en dat hy moet skoert. “Pappa” koggel hy my en probeer my oudste seun se stem namaak, maar dit moes hy nie gedoen het nie.
Ongelukkig vir hom was ek nog bo-op die sypaadjie, en hy was in die staat, so ‘n hele paar sentimeter laer as ek. Ek dink nie hy het die eerste klap teen sy oor sien kom nie, maar toe die tweede vuishou op sy neus land het hy hom beslis gesien en gevoel. Sy voete het so ‘n snaakse wankeling gemaak wat tot in sy knieë opgestyg het en toe val hy soos ‘n sak patats in die pad. My oudste seun het nog nader gestaan om te help met die strafuitdeling, maar dit was alles binne ‘n bestek van drie sekondes verby.
Die manne op die stoele het almal opgespring en begin hande klap. Benny het uit sy braai-area gekom en Shafiek en ‘n paar van die kelners het uitgekom om die petalje te aanskou. Hulle het ook staan en hande klap en die moeilikheidmaker ‘n paar dinge toegesnou. Hy het opgestaan en homself uit die voete gemaak terwyl alles en almal weer tot ruste gekom het. Shafiek was so dankbaar dat hy ons tafel ‘n hele braaihoender gegee het, net om dankie te sê dat ek bereid was om die knaap wat so sy kliënte terroriseer, ‘n les te leer.
Ons gesin het daarna gereeld by Chef’s Pride gaan hoender en ook ander Tanzaniese kos gaan eet en ons was wel bekend daar. Eendag het Shafiek ons aangemoedig om by sy broer se straat-restaurant in Upangastaat te gaan eet, en dit het ook mettertyd ‘n groot gunsteling-uiteetplek geword. Ons het selfs vriende soontoe geneem, net vir die absolute unieke ondervinding.
In die dag is daar winkels wat motoronderdele verkoop, maar saans as die winkels toe is, word die sypaadjie ‘n restaurant. Ons daag daar op en die kelner, Adamu, wys ons ‘n parkeerpek aan reg daar waar ons gaan sit. Terwyl ons uitklim vra hy hoeveel stoele ons wil hê. Ons gaan groet eers vir Raju, Shafiek van Chef’s Pride, se broer en skud hand met al die kelners en bekendes wat ons daar sien. Intussen dra Adamu ‘n plastiektafel op sy kop nader en dan vyf of ses stoele, wat nie een soos die ander lyk nie, en maak vir ons ‘n plek daar naby die motor.
Op die sypaadjie is braaiers en tafels opgestel. Die vure is warm en die koeldranke is lekker koud. Die kos word hier voor jou gaar gemaak, so die kanse vir maagaandoenings is taamlik min. Ons bestel elkeen ‘n botteltjie koeldrank en ‘n bakkie tjips om mee te begin. Dan bestel ek so tien stokkies “njama” (vleis), ‘n heel gebraaide hoender, drie stokkies “nundu” (gebraaide stukkies vet), ‘n paar “naan”-brode en slaai en souse. Die vleis is beesvleis wat in klein blokkies gesny is en dan in gerasperde gemmer gedoop is en gebraai word. Die hoender is ‘n heel hoender wat dieselfde sous oor het as wat Benny gebruik en dit is absoluut heerlik. Die “nundu” is net blokkies beesvet wat op ‘n stokkie gebraai word tot dit amper knars onder die tande, en dit is baie smaaklik. Die “naan”-brood is ‘n plat en dun Indiese brood, met ‘n ligte bottersous op en op die kole warm gemaak. Mens gebruik repe hiervan om die ander stukkies eetgoed in toe te draai en dan eet jy met jou vingers, want eetgerei is nie beskikbaar nie. Die slaai is net vars gekerfde kool, maar dit is heerlik, soet en smaaklik. Die heerlikste sous bekend as “amli” word gemaak van tamaryn en is absoluut heerlik op die tjips én die vleis, met so ‘n effense suur smakie wat baie lekker is. Die vermenging van geure en die eksotiese sypaadjie-restaurant, met die motors wat verbyry, is alles deel van die ondervinding.
Dit is dan ook nie lank nie of Mohammed daag van die moskee af op. Hy begin al van ver af luidkeels groet en gesels met almal oor alles en nog wat. Heel eerste groet hy vir Mama Oshkosh, ‘n taamlik gesette Indiese dame wat altyd daar eet. Sy kry altyd twee tuinstoele op mekaar om op te sit, want hulle is bang sy sit die stoel stukkend en dan kan niemand haar optel nie. Dan word ons gesin elkeen met die hand gegroet en daar word groot blydskap uitgespreek dat die “wazungu” (meervoud van mzungu) daar kom kuier en eet het. Daarna kry hy ook iets te ete en het gewoonlik stiller geword tot ons groet.
So deur die loop van die aand het verskeie verkopers van allerhande produkte by die tafels aangekom. Party wou skoene verkoop, ander wou weer lakens of waslappe of verestoffers verkwansel. Tussenin het daar ook elke nou en dan ‘n bedelaar opgedaag wat eetgoed gesoek het. Ons het altyd met Raju en Adamu gereël as ons vir ‘n bedelaar iets wou gee sodat hulle nie die kos van ons tafel vat nie, maar ‘n kospakkie kry wat ek dan later by my rekening gevoeg het en betaal het.
Wanneer ons klaar geëet het, het ek maar altyd met Raju gaan praat en my bestelling herhaal. Hy het dit dan met Adamu bevestig en op ‘n baie klein stukkie papier neergeskryf. Dan het hy die totaal op ‘n sakrekenaartjie, nie veel groter as ‘n sigaretboksie nie, uitgewerk. Ek het altyd so ‘n rapsie meer betaal en seker gemaak dat Adamu ‘n fooitjie daaruit sal kry.
So kan ‘n mens geweldig lekker eet vir baie goedkoop as jy weet waar om te gaan en wat om te bestel. Ek het altyd gewonder oor blanke vriende wat net in die mooi hotelle se restaurante en by die seiljagklub eet. Hulle het so baie verbeur van die avontuur van die mense en die plek as gevolg van hul gewaande hoër waardes, en nooit juis daar gelééf nie, net daar gewerk en hulself verskans agter veiligheidsmure waar net mzungu gaan en kaburu maar liewer wegbly.
© Grootvissie
September 2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.