Jongste aktiwiteit:

Die rivier en die viertrek

Die rivier en die viertrek

Daar is verskeie paaie en roetes wat ‘n mens gebruik om by ‘n plek te kom. Daar is ook ‘n goeie rede hoekom ons meestal viertrek-voertuie in Tanzanië gebruik. Die reënval in die reënseisoen is van so ‘n aard dat die paaie sommer binne ’n halfuur oorstroom, en dan het jy ʼn viertrek nodig. Vriende van ons het ‘n entjie buite die stad gewoon, naby Tangi Bovu. Tangi Bovu beteken letterlik “stukkende tenk”, want daar het vroeër jare ‘n tenkwa verongeluk en die ding het daar gelê en roes en dus vandaar die naam. Die pad na Tangi Bovu was so ‘n pad.
Die pad was maar swak en ook sommer redelik ver as jy nou met die teerpad langs sou ry, maar daar was ook ‘n korter pad, ‘n grondpad wat gangbaar was vir viertrekvoertuie in enige seisoen, maar daar was ‘n rivier om oor te steek. Die rivier het nie ‘n brug gehad nie, en omdat dit taamlik naby die strand was, was dit ook taamlik breed by die oorsteekpunt. Die rivier was blakkerig, veral in die droë seisoen, maar in die reëntyd was dit nie altyd ‘n goeie idee om daar te probeer oorsteek nie.
In ‘n stadium bou ‘n wêreldbekende maatskappy ‘n nuwe hotel in Dar es Salaam. Dis enig in sy soort en word bemark as die enigste vyfster hotel in die land. Die diens was puik en ons het met ons vyftiende huweliksherdenking die nag daar deurgebring. Alles met komplimente van die hotel en ons was ook genoem in ‘n opskrif in die oggendkoerant. Ons het heelwat mense geken wat op die projek gewerk het, en ook die nuwe hoofbestuurder en sy vrou leer ken toe hulle hulle uiteindelik in Dar es Salaam vestig.

Met die intrapslag wou hulle ‘n netjiese huis huur en dit kom toe so dat die huis wat netjies genoeg is, aan die oorkant van die rivier is, op die pad na Tangi Bovu. Met die nuwe uitdaging besluit hulle toe om vir hom ‘n groot viertrek te kry en vir haar ‘n meer “vroulike” kleiner viertrek, een met net twee deure en ‘n sondakkie. Ek was nogal betrokke by die aankoop van die voertuie want my werkgewer het voertuie uit Japan ingevoer en verkoop.
Dinge gaan toe mooi aan en ons en die hotelbestuurder en sy gesin sien mekaar elke nou en dan by die hotel of by ‘n sosiale geleentheid in die stad. Na ‘n paar maande besluit hulle dis tyd vir ‘n vakansie in Suid-Afrika en Kerstyd by hul tuis familie is die aangewese ding. Hulle begin sommer vinnige voorbereidings tref. Iemand moet na hul huis en hul honde kyk. Hy besluit toe dis ‘n goeie plan om sy assistent bestuurder van die hotel te vra om hierdie belangrike taak te verrig. Hy sal die man betaal vir sy opoffering, en die man kan dan sommer in hul huis bly en sy vrou se klein viertrek gebruik om werk toe en terug te ry.
Dit werk toe alles mooi, maar die reënseisoen begin in laat November, en niemand het die jong man vertel dat die rivier in reëntyd liefs vermy moet word nie. Hy sou ook nie weet nie, want hy was self maar net twee of drie maande daar en die “avontuur” was vir hom nog iets nuuts. So begin die reëntyd toe en die man ry en let nie op dat die rivier elke dag net sterker en sterker loop nie. Een dag is die water rustig, ander dag is dit bietjie dieper, maar elke dag kom hy deur en als gaan goed.
Een goeie middag, so net na die middag se donderstorm, toe al die straatkanale en gate tot oorlopens toe vol is, kom die man by die werk uit. Hy is moeg van die dag en wil net by die huis kom. Hy spring in die voertuig en skiet sommer kortpad, reguit rivier toe. Toe hy by die rivier kom sien hy dit vloei nou sommer sterk, maar hy is min gepla, hy ry mos in ‘n ding wat permanent vierwiel aangedrewe is.
Hy ry die water binne en alles gaan goed tot die enjinkap skielik onder die water verdwyn. Hy wil nog stop en agteruit, maar die waterdruk teen die kant skuif die voertuig sywaarts. Hy begin paniekbevange raak en besluit hy moet liewer vinnig probeer deurdruk. Hy gooi eerste rat en beweeg vorentoe en dis net hier waar die voorwiele in ‘n sloot inval en dinge begin baie nat word.
Die water begin by die vensters instroom en die enjin vrek net daar. Hy besluit toe hy moet uit, want anders gaan hy hier verdrink. Hy klim by die venster uit, net betyds om te sien hoe die vloedwater die voertuig op sy sy rol en in die see se rigting begin saamsleur. Met ‘n geweldige gespook en gespartel kom hy op die oewer waar daar nou reeds mense begin saamdrom om die situasie te bekyk. Sy selfoon en beursie in die voertuig wat nou half onder water op ‘n sandbank lê. Met handgebare en gebroke Engels beduie hy dat hulle ‘n tou moet bring. Dit was ook nie lank nie, of een van die manne daar verstaan wat hy bedoel en gaan haal ‘n lang tou. Dis nou nie ‘n tou soos die een wat voor op ‘n Afrika-toeris se viertrek geknoop is nie, maar liewer ‘n tou soos die een wat ‘n boer gebruik om kafbale op sy bakkie vas te maak, lig, dun en nie vir voertuig sleep nie.
Met meer handgebare en gesmeek kry hy toe manne om hom te help om die tou om die trekstang vas te maak. Hulle is borsdiep in die water en hou mekaar vas en uiteindelik is die tou aan die voertuig vas. Daar tree hy toe ‘n stuk of twintig manne aan en almal begin beur en rem aan die tou, maar die water hou die karretjie styf vas. Na ‘n uur se gespook het hulle niks reggekry nie en die man is moedeloos. Hoe gaan hy de situasie aan sy baas verduidelik, wat gaan hy sê en hoe gaan hy ooit dit skade kan terugbetaal op sý inkomste? Net toe hy dink als is verlore, kom daar ‘n moontlike redder op die toneel.
Na ‘n ruk kom daar ‘n ou aan wat verduidelik, met handgebare en tekeninge in die sand, dat hy iemand laat kom het met ‘n trekker. Die man is opgewonde en begin lig sien in sy duistere situasie, maar toe die trekker daar aankom, is dit nie ‘n trekker nie, maar ‘n masjien met ’n gryphaak aan soos ‘n ding wat boomstompe optel. Aangehits deur die masjien se vermoë maak die manne toe die tou aan die monster vas en probeer die vasgevalle voertuig uitsleep, maar ongelukkig is die tou nie opgewasse vir die taak nie. Die watermassa is net te veel en die tou breek herhaaldelik en word met elke breek en nuwe knoop net korter.
Uiteindelik is die tou te kort en te stukkend om nog te help, maar met al die getrek en geworstel het die water die karretjie gewoel en hy staan ten minste op sy wiele, al stroom die rivier nou gedeeltelik deur die venster. Die Tanzaniër wat die monster bestuur besluit toe hy het ‘n plan. Hy druk die gryphaak se vingers deur die oop vensters en sonder om die dak in te duik begin hy ‘n optel-aksie in ‘n poging om die voertuig uit die water te lig. Die man het blykbaar nie die gewig van die water in ag geneem nie. Skielik, met ‘n knars en ‘n aaklige metaal-op-metaal skeurgeluid, kom die hele dak van die voertuig af. Dit skeur los van die bakwerk en swaai soos ‘n blaar aan die gryphaak se tande. Met die gekarring en gelig kry die water toe weer die oorhand en die voertuig word weggevoer na die strand. Daar is die kanaal van die water reeds diep uitgekerf en die watermassa vloei vinnig.
Voordat enigeen iets kon sê of doen, is die voertuig die see in. Daar het hy weer op ‘n sandbank vasgeval en so het hy tussen die branders en golwe gestaan, dakloos en vol water en die son sak. Die arme man was radeloos. Die volgende dag het ‘n paar manne met viertrek-voertuie en regte toue die voertuig uit die see gaan sleep, maar die skade was van toe al reeds van so ‘n aard dat herstel en heelmaak nie ‘n opsie was nie.
Ek dink nie hy het ooit weer geslaap of ontspan nie. Hy moes sy baas bel en vertel wat gebeur het, elke detail verduidelik en toe het hulle maar ‘n ooreenkoms gemaak dat hy vir die nuwe “vroulike” tweedeur-viertrek sou betaal. My eie werkgewer het weereens ‘n voertuig aan hulle verkoop en so was alles toe weer terug na normaal.
So dink ek mos aan mense wat nie weet nie, maar altyd stroomop wil beur. Amper soos mense wat tans in ons land aan die roer van sake staan en tog die pad deur die rivier kies terwyl dit hard reën, en dit sonder roeispane of sambrele.

© Grootvissie
September 2017




1 Kommentaar

  • Toom

    Dag-ook ou vriend, maar eerlik nou: Wat sou 'n sambreel of 'n roeispaan in daai rivier gehelp het? En 'n trekker of 'n aaklike monster met 'n gryphaak gaan ook nie jou laasgenoemde ,roermense' uit húlle penarie help nie. Besonders as hulle self nie merk dat dit 'n penarie is nie! Goed geskryf. Dankie. GvT

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed