Erongoberg se blou
iewers tussen pers en grou
huiwer erongoberg se blou
in die verte net ‘n silhoeët
‘n hersenskim, ‘n skaduweeportret
sagblou soos uitgespoelde glas
deur die see uitgewas
mistieke diep geheime
lê in ravyne opgesluit
waar das en klipbok ligvoets loop
moet ek en jy, met onvas tred,
ons spore trap in die vae hoop
om iets hier wys te word
diep verborge antwoorde
op kataklismiese gebeure
bly slegs eggos van ons vrae
legkaart-stories wat ons las
in die hoop om dinge te maak pas
wie’t rotse, reuse balle
soos albasters rondgestrooi,
wie’t stories geskryf op klipmure,
rotsformasies soos figure
uit die ruwe rots gekap
– ‘n olifant, renosterkop, ‘n kaart van Afrika?
wasig blou tuur die erongos
– onverstoord –
oor die kaal, verlate vlakte
hul geheime in ‘n waas gehul
stories uit ‘n vroeër era
geskryf in rotsgravure
vae antwoorde slegs eggos
van ‘n baie ou verlede
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.