Jongste aktiwiteit:

Bobbejaan

BOBBEJAAN.
Rosina is besig om tafel te dek vir ontbyt toe Nico by die eetkamer instap. Terwyl sy besig is, neurie sy ingedagte ‘n tradisionele deuntjie. “Goeie môre, Rosina!” sê Nico agter haar. Sy wip soos sy skrik.
“Jô!!”, sê Rosina en sy druk haar hand teen haar bors, “jô-jô, Meneer laat my skrik! Eish!” Sy blaas haar asem hard uit. Nico lag. “Ek is jammer Rosina. Hoe is jy so ingedagte vanoggend?”
“Ek dink baie ver,” sê Rosina terwyl sy die laaste messegoed regskuif. “My kop is daar ver by die huis vandag.”
“Is daar probleme by die huis?” vra hy belangstellend terwyl hy gaan sit.
“Nee, daar is nie problem nie. Ek dink sommer maar net my ma. Christmas wil ek daar gaan, maar dis ver. Meneer moet mooi bonus gee hierdie jaar dat ek daar kan gaan. Dis lank wat ek het hom nie gesien nie.”
Nico skuif sy mes en vurk haaks langs sy bord. Rosina het dit reeds gedoen, maar uit die mag van die gewoonte doen hy dit weer. “Ons sal sien hoe lyk die bonus Desember,” sê hy met ‘n glimlag. “Desember is darem nog bietjie ver. Wat is daar vir ontbyt?”
Rosina swaai die vadoek oor haar skouer. “Daar is pap en die toast en die chicken livers en die gebraaide tamatie met die lekker spices.”
“Dit klink baie lekker. Skep asseblief vir my roosterbrood met hoenderlewertjies en twee eiers. Was Alet al hier?”
“Nee Meneer, hy was nog nie hier nie,” sê Rosina terwyl sy opskep.
“En Nicolette?”
“Hy het nog nie gekom nie. Moet ek die tamatie ook insit?”
“Dankie Rosina. Skep maar in.”
Sy sit die bord voor Nico neer. “Dankie,” sê Nico en hy vou sy servet op sy skoot oop.
“Koffie?”
“Ek is vanoggend lus vir bietjie vrugtesap. Is hier lemoensap?” vra Nico.
“Ek gaan haal by die fridge,” sê Rosina en sy stap kombuis toe. Nico sluit sy oë en doen ‘n stil tafelgebed. Daarna smeer hy in stilte botter op sy roosterbrood. Rosina kom ingestap met ‘n beker lemoensap. Kort op haar hakke kom Alet kom ook ingestap.
“Môre Nico, môre Rosina!”
Môre Mevrou. Hier is die juice, Meneer.”
“Dankie Rosina. Sit maar neer; ek sal kry. Môre Alet. Lekker geslaap?” vra Nico.
“Heerlik dankie. Ruik ek lewertjies?” vra Alet terwyl sy gaan sit.
“Die lewertjies en gebraaide tamatie is vanoggend baie lekker. Proe ek Tiemie iewers?”
Rosina kyk van Nico na Alet. “Dis ander recipe wat ek by ‘n tjommie van my gekry het.”
“Dis regtig baie lekker, Rosinah,” sê Nico as hy ‘n stukkie roosterbrood in die laaste sous rondstoot. “Jy is regtig ‘n bobaas kok ” vlei hy.
Nico en Alet eet in stilte verder. Die poging tot gesprek, hoe oppervlakkig ookal, kom tot ‘n einde. Rosina kyk van die een na die ander. “Eish,” sê sy vir haarself, “Hulle lewe soos mense wat mekaar nie ken nie. Total strangers; altwee van hulle. Dis lank wat hulle nie meer saam eet nie. Vandag, hulle sit saam by die tafel soos lank terug, maar die praat is nie die praat van die hart nie. Is net by bo die surface.”
“Skep asseblief vir my van daardie hoenderlewertjies van jou Rosina. Ek wil proe hoe smaak die spesiale resep van jou,” sê Alet.
“Met die toast of bietjie pap?”
“Skep maar ‘n bietjie pap daarby, dankie Rosina. Dit sal lekker smaak met die eier en tamatie.”
“Wat gaan Mevrou drink? Tee of juice?”
“Skink sommer maar vir my Rooibos dankie. Sonder melk of suiker soos altyd.” Rosina skink die tee en sit dit voor Alet neer.
“Dankie Rosina”
“Ek gaan solank by die kamers. Ek gaan die beddens opmaak,” sê Rosina en sy stap by die eetkamer uit.
“Jy is vroeg vanoggend?” sê-vra Nico.
“Ja,” sê Alet afsydig.
“Planne vir die dag?” probeer Nico weer.
“Ag, net ‘n vergadering ‘n bietjie later.”
“O”.
Alet kyk op haar horlosie en staan op. “Gits, kyk waar staan die tyd al. Ek moet wikkel, anders gaan ek laat wees.”
“Eet rustig klaar. Daar is nog baie tyd, Alet.”
“Ek moet nog eers met Annie en Petro gesels voordat die vergadering begin.”
“Waaroor gaan die vergadering?”
“Ons wil ‘n nuwe projek loods in die plakkerskamp by Swartkoppies. Toestande is haglik daar.”
Nico neem ‘n slukkie lemoensap. “Wat het van die projek by Rietkloof geword?”
“Ons sukkel om donateurs in daardie area te kry.”
“Met die ekonomie soos dit nou is moet almal maar die gordels stywer intrek.” Nico vee sy mond met die servet af. Hy kyk na Alet. “Alet, ons moet een of ander tyd praat.”
Alet ontwyk sy oë. “Waaroor” vra sy en vroetel met haar servet.
“Ons.”
“O. Jy moet maar sê wanneer,” sê sy half ongeerg.
“Wat van vannaand?”
“Woensdae aande is ek betrokke by …..” Nico val haar in die rede.
“Ons sal net eenvoudig tyd moet máák, Alet!”
“Ek sê mos ek is bésig,” kap Alet terug.
“Jy is altyd besig. As dit nie opheffingswerk hier is nie, dan is dit ‘n ondersteuningsgroep daar. Of ‘n seminaar.” Nico staan op. “Jy is net altyd besig!”
“Ek sal na my dagboek kyk”, sê Alet kil en skuif haar stoel agteruit.
“Jy het nog nie klaar geëet nie.”
“Ek is nie meer lus vir die kos nie, dankie. Verskoon my.”
“Alet …..”
“Los dit Nico,” sê sy terwyl sy van die tafel af opstaan. “Ek sal jou laat weet wanneer ons kan gesels.” In haar kop maal die gedagtes. “Hierdie gesprek moet ek uitstel solank as ek moontlik kan. Ek sien net nie kans hiervoor nie.”
Nico kyk haar agterna . “Waarheen is ons oppad?” vra hy aan homself. “Waarheen?!” Hy hoor hoe Alet agter in die huis na Rosina roep. Die gesprek gaan oor beuselagtighede in die huishouding wat nie Alet se goedkeuring wegdra nie. “Ek en Alet moet praat en gou ook. Watter kant toe die gesprek gaan en wat die uiteinde gaan wees; dit kan langer so aangaan nie. Dinge moet na ‘n kant toe. Vinnig.”

Nico is diep ingedagte terwyl hy kantoor toe ry. Hy bestuur amper werktuiglik. Hy stop waar hy moet stop; ry wanneer hy moet ry; draai af waar hy moet afdraai. Hy doen dit amper outomaties. “Alet is altyd besig met een of ander projek iewers. Ons leef op aparte kontinente. Ons deel een huis, maar nie dieselfde kamer of bed nie. Sy sloof haar af met welsynswerk, maar by die huis ….?” Die gedagte hang in die lug. “Is daar hoegenaamd nog ‘n huis? Ons leef soos baie bedagsame huismaats en glad nie soos huweliksmaats nie. Behalwe vir ‘n paar oppervlakkige geseldies soos vanoggend, is daar niks dieper nie. Waar het ons mekaar verloor? Wanneer het dit gebeur?” Hy skrik vir die skel geluid van ‘n ander motor se toeter . Hy het oor ‘n rooi verkeerslig gery sonder dat hy dit besef het. Nico blaas sy asem stadig uit. “Genugtig,” praat hy hardop met homself, “dit was amper. Hy tel sy hand op in ‘n verskoning. Hy bewe nog van die skrik toe hy minute later sy motor onder die afdak by die kantoor parkeer.

Antwa, sy sekretaresse, is haar ou opgewekte self toe hy by sy sekretaresse se kantoor instap. “Goeie môre Meneer!” groet sy vriendelik.
“Môre Juffrou,” groet Nico effens afwesig.
“Lieflike dag, is dit nie?” probeer sy weer.
“Eeee ja. Dit is ‘n mooi dag na gister se storm,” sê hy half ingedagte.
“Alles is so skoon gewas en die lug ruik so vars!” borrel sy.
Nico knip die gesprek kort. Hy is nie lus vir praatjies oor die weer nie. “Enige boodskappe?”
Sy kyk in haar dagboek. “Meneer se vrou het gebel en gesê dis reg vir Vrydagaand. O, dis so romanties! Ek sê altyd vir Jan ….”
Nico val haar geïrriteerd in die rede. “Behalwe vir die direksievergadering later; hoe lyk die res van my dagboek?”
Antwa sien sy gaan nie deur die pantser breek nie, dus raak sy baie saaklik. “Meneer het ‘n middagete afspraak met meneer Viljoen by die gholfklub om twaalfuur en dan is daar …. laat ek net sien …….. o ja! Meneer het ‘n afspraak met Meneer Pestana om drie uur hier by die kantoor.”
“Nog iets?”
“Dis al Meneer,” sê sy ietwat afgehaal. Sy haat dit as Nico sy brombeerjas aantrek as hy kantoor toe kom.
“Dankie Juffrou,” sê Nico saaklik. Kry asseblief vir my die Viljoen kontrak se lêer en vra vir Meneer du Toit om vir my die Mosambiek konsepontwerp te bring.” Hy stap deur toe.
“Ek maak so, Meneer.”
In die deur draai hy om. “Behalwe vir Meneer du Toit, wil ek nie gesteur word nie.”
“Reg so Meneer.”
“O ja; voor ek vergeet; maak tog seker dat daar vars lemoensap en water saam met die koffie en tee is vir die direksie vergadering.”
“Ek sal reel, Meneer ……”
“Dankie Juffrou,” sê Nico en stap by die deur uit.
Antwa se oog vang ‘n aantekening in die dagboek. “O ja eee …… Meneer!” roep sy hom terug.
Nico steek sy kop om die hoek. “Wát is dit Juffrou?”
Antwa hoor die irritasie in sy stem. “Meneer moenie vergeet van Meneer se afspraak môreoggend nege uur met Mevrou Sieberhage nie!”
“Dankie Juffrou. Is dit nou al?”
“Dis sover al Meneer.”
“Dankie Juffrou.” Nico stap na sy kantoor toe. Antwa hoor hoe Nico sy kantoordeur oopmaak en ietwat harder as wat nodig is toemaak.
“Oeeee,” sê sy vir haarself, “iets byt weer vandag! Ek sien hom so. Hy is nie meer die opgeruimde mens wat hy was nie.” Sy skakel ‘n nommer op die telefoon. “Meneer du Toit?” sê-vra sy toe die gehoorstuk aan die ander kant opgetel word. “Meneer Wagenaar vra dat jy asseblief vir hom die Mosambiek konsepontwerp moet bring.” Sy luister ‘n oomblik. “Nee, ek sê liewers niks. Trap maar net in jou spoor. Meneer Wagenaar loop nie juis oor van vriendelikheid nie,” sê sy en sit die gehoorstuk terug. Sy kyk by die venster uit. “Ek wonder wat byt hom so deesdae?” sê sy saggies. “Hy is regtig nie meer die ou Meneer Wagenaar nie.”

Die direksievergadering verloop ook nie heeltemal na Nico se sin nie. Dit maak hom nog meer geïrriteerd. Tydens die teebreek loop een van die direksielede na Nico toe. “Nico, kan ek gou met jou praat?”
“Nou?” vra Nico. “Gaan dit lank wees, Pieter? Ek moet twaalfuur by die gholfklub wees vir middagete saam met Dewald Viljoen.”
“Dit sal nie lank wees nie, Nico.”
“Ek luister?”
“Gedurende die vergadering …… jy is nie jouself nie, Nico,” sê Pieter terwyl hy ‘n hap aan ‘n toebroodjie.
Nico se skouers sak. “Is dit só ooglopend, Pieter?”
“Wat pla?” vra Pieter besorgd.
“Ag jong …… “
“Alet?” Nico knik met sy kop. “Jy moet …….. Nico, ek mag nie aan jou voorskryf nie, maar dinge moet tot ‘n punt kom. Jy kan nie so aangaan nie.”
“Ek weet Pieter, ek weet. Ek wens net ek het geweet wat om te doen. Ek dink teen ‘n muur vas!” sê Nico sigbaar moedeloos.
“Die maatskappy begin daaronder ly. Die ander direksielede begin ook brom.”
“Ek het moreoggend ‘n afspraak met Mevrou Sieberhage,” sê Nico om Pieter te laat verstaan dat hy nie net passief sit en niks doen nie.
“Nóg ‘n berader?” vra Pieter. Nico knik net weer sy kop bevestigend. “Die hoeveelste een is dit nou al?” wil Pieter weet.
“Ek weet nie. Ek het al opgehou tel.”
“Gaan Alet saam?”
“Nee ….. sy wil niks weet nie.”
“Jy kan maar los, my vriend. Dit gaan niks help nie.
“Ek kan nie net sit en niks doen nie, verdomp!” sê Nico harder as wat hy wou. Dit raak skielik stil in die vertrek. Die ander direksielede kyk vinnig na Nico en gaan dan voort met hulle gesprekke.
“Nico, voordat jy dan ………” Pieter vat Nico aan die skouer. “Kan ek dalk vir jou ‘n stukkie raad gee?”
“Enigiets, Pieter, enigiets. Solank dit dalk kan help is ek oop vir enigiets,” sê Nico en sluk aan sy lemoensap.
“ ‘n Goeie vriend van my was in ‘n soortgelyke situasie ….”
“En?” vra Nico skielik hoopvol.
“Jy sal nou dink dis ‘n lawwe idee, maar hy het een aand na werk sy skootrekenaar gevat en ‘n storie begin skryf …………..”

Nico wag totdat die laaste direksielid weg is voordat hy na Antwa se kantoor toe stap. “Juffrou,” sê hy as hy in die deur staan. Antwa wip soos sy skrik. ‘n Effense glimlaggie speel om Nico se mond. “Kanselleer asseblief my afspraak met Mevrou Sieberhage.”
“Meneer moet my nie so laat skrik nie!” sê Antwa met groot oë. “Ek sal haar bel Meneer.”
“Dankie juffrou. Enne ….. Juffrou …… “
“Ja Meneer?”
“Dankie vir die verversings. Dit was baie lekker,” sê Nico en hy stap in die gang af. Hy kan nie wag om vannaand by die huis te kom nie.

Dis ‘n volle tien dae later. Die klank van sagte, gewyde orrelspel kom deur die oop deure en vensters aangesweef. Nico staan met sy hande agter sy rug en kyk na die kis wat in die Kerk se voorportaal staan. Dis stukkend in hom. Hy kan maar net nie die gedagte verwerk dat sy dogter, Nicolette, dood is nie. Sy enigste kind. Dit kon so anders gewees het. Sy vrou, Alet staan ‘n entjie verder weg. Dis koud tussen hulle. Asof die verwydering wat om een of ander rede jare gelede begin het, net eenvoudig onkeerbaar verder uitgekring het. Gewoonlik bring so ‘n tragedie mense nader aan mekaar; stoot hulle die verskille en geskille opsy. Hy sien Tobias, Nicolette se vriend, waar hy in die portaal langs die kis staan. Sy hand streel oor die blomme; hy vee liggies oor die kis. Die jongman is gebroke; dit kan Nico duidelik sien.
Die begrafnisondernemer trek liggies aan sy baadjie se mou om sy aandag te kry. “Ek dink ons kan maar ingaan. Dis tyd,” sê hy.
Nico knik sy kop. “Ja, dis seker tyd.” Hy draai na Alet. “Kom Alet, ons moet ingaan.” Hulle stap soos vreemdelinge agter die begrafnisondernemer aan. In die portaal draai Tobias na Nico.
“Moet ons al ingaan oom?”
“Ja seun. Ons moet ingaan. Dis tienuur.” Nico sien dat Tobias gehuil het. Sy oë is rooi en waterig. Hy neem Tobias se hand en gee dit ‘n ferm druk. “Sterkte, Tobias,” sê Nico skor, maar sy eie hart wil ook in stukke breek. Alet stap by hulle verby sonder om na die kis te kyk of enige emosie te toon. “Wanneer het sy so hard geword?” dink Nico terwyl hy deur die groot dubbeldeure stap. “Wanneer het sy so koud en ongenaakbaar geword? Hoekom?”
“Sal die gemeente opstaan asseblief?” së die ondernemer net toe hy deur die deure stap. Daar is ‘n geruis soos wat die mense opstaan. Die kerk is stampvol. Terwyl hulle met die paadjie tussen die banke afstap na die voorste bank wat vir hulle gereserveer is, sien Nico vriende en familie asook skoolmaats van Nicolette. “U kan maar u plekke inneem,” sê die ondernemer toe Nico-hulle gaan sit. Die orrelis speel die laaste gedeelte van die lied en toe word dit stil in die groot gebou.
Dominee Nienaber maak keel skoon. Hy kyk van Nico na Alet en dan na Tobias. “Alet; Nico; Tobias; ons het nie die woorde om vanmiddag julle hartseer weg te neem nie. Hoe sê ‘n mens dit? Hoe sê ‘n mens …. wat? Daar is eenvoudig nie genoeg woorde om dit te kan doen nie. Maar ons as familie, vriende en skoolmaats het vanoggend alles gelos om hier saam met julle te wees. Om met ons hiérwees vir julle te sê ons dink aan julle. Ons is saam met julle hartseer en verslae. Namens die gemeente wil ek ook net weereens ons opregte meegevoel met julle betuig. Kom ons begin hierdie diens in gebed.” Hy vat sy hande saam en maak sy oë toe. “Here, vanoggend is ons hartseer. Dalk is ons kwaad. Elkeen van ons het ‘n duisend vrae waarvoor ons nie antwoorde het nie. Maar ons kom na U toe …………..
Nico se gedagtes dwaal weg. Hy hoor nie meer die predikant se stem nie. Hy hoor nie toe die orrelis die inleiding van die lied speel nie. Hy hoor nie die mense sing nie. Alles het om hom vervaag. In sy kop speel die gebeure van ‘n paar aande gelede hulle weer duidelik af.
Hy sit in sy studeerkamer met ‘n klomp dokumente om hom en sy vingers gly oor die toetse van sy skootrekenaar.Hy kyk op toe die deur stadig oopgaan. Nicolette steek haar kop om die hoek. Hy sien weer hoe sy senuagtig om die deur loer. Hy sien hoe Tobias saam met haar binnekom. Hy kry weer daardie beklemmende gevoel dat alles nie pluis is nie. Hy hoor haar sê dat sy swanger is. Hy kon dit nie glo nie. Nicolette swanger!! Hy sien haar angs. Weer beleef hy dit toe hy ‘n kort skietgebed doen. “My kind is swanger! Here, gee my asseblief wysheid. Laat ek nie nou die verkeerde ding doen of sê nie! Asseblief! Praat U nou namens my. Asseblief.” Hy beleef weer die oomblik toe hy opstaan en Nicolette in sy arms toevou. “Nicolettatjie, my kind! Kom hier,” sê hy simpatiek. “Kom staan hier in my arms.” Nicolette begin weer snik. ‘n Jammerte vir sy dogter wel in hom op. “Nicolettatjie my gogga, saggies nou.” Hy maak ‘n susgeluid deur sy tande soos toe sy klein was. “Saggies nou. Toemaar my kind.” In sy kop maal dit. Hoe gaan Alet dit hanteer? Hy vryf Nicolette se hare.
“Ek is só jammer, Pappa. So, bitter, jammer.”
“Ek is baie jammer, oom,” sê Tobias en vryf sy hande senuagtig en onbeholpe. Hy voel half uitgesluit, maar aan die ander kant gee hy nie nou om nie. Hierdie is ‘n pa en dogter oomblik. Hyself kan nou niks doen nie.
“Hoe seker is julle dat sy swanger is, Tobias?” vra Nico.
“Sy was vanmiddag by die dokter oom. Ek het haar gevat.”
“Toemaar my kind. Rustig wees,” sê Nico weer. Hy is nou meer in beheer van homself. “Pappa is nie kwaad vir my nie?” vra Nicolette met ‘n dun stemmetjie.
“Ek is nie kwaad nie, my klein Gogga. Teleurgesteld? Dit is ek wel. Ek kan nie vir jou jok nie. Geskok? Geweldig! Maar ek is nie kwaad nie. Maar ek is ook bly, want nou gaan ek Oupa word!”
“Wie gaan Oupa word?” vra Alet ysig van waar sy in die deur staan. Niemand het haar gesien nie. “Pla ek? Mis ek iets? Wie is nie vir wie kwaad nie? Wie gaan Oupa word?” vra sy met ‘n ysige stem.
“Sit Alet,” sê Nico terwyl hy steeds vir Nicolette in sy arms hou. “Daar is iets waaroor ons moet gesels.” Alet gaan sit op die diep armleuningstoel wat in die hoek van die studeerkamer staan. ‘n Stoel wat sy self met sorg uitgekies het.
“Laat ek hoor?” sê sy kil. “Naand Tobias,” sê sy sonder om na hom te kyk.
“Naand Mevrou,” sê Tobias nou meer op sy senuwees as tevore.
“En?? Ek wag.”
Nico stoot vir Nicolette na Tobias toe. Hy gaan staan agter die lessenaar. So voel hy meer in beheer. “Ek is bevrees dis nie goeie nuus nie, Alet. Nicolette is ….. wel ….”
“Sy is wát, Nico?”
“Wel, Nicolette is …. wel, sy is swanger,” kry hy dit eindelik uit. Hy gaan sit.
“Swanger?!! My dogter is swanger?? En dit op sewentien? En hoe pas jy in die prentjie, Tobias? Moet net nie vir my sê jý is die pá nie?!” Alet is op die rand van histerie. Nico kry vir Tobias oneindig jammer. Handewringend staan hy daar.
“Ek is jammer, Mevrou, maar eeeee, dis my skuld, Mevrou.” Nicolette vat sy hand.
“Jou skuld?” vra sy ysig. “Dink jy regtig jammer gaan alles net so regmaak??”
“Mevrou,” begin Tobias weer, maar word deur Alet in die rede geval.
“Ek blameer jou, en niemand anders nie vir hierdie gemors waarin ons nou is, Nico. Jy is die oorsaak. Ek was van die begin af gekant teen hierdie verhouding, maar néé!! Ons moet maar wag en kyk wat gebeur. Dit hét jy nou van wag en kyk wat gebeur. Nicolette is swanger ….”
Nico steek sy hand in die lug. “Kalmeer nou, Alet. Dit help nie ……”
Alet praat hom dood. Sy is amper buite haarself. Nico het haar nog nooit so gesien nie. “Kalméér, sê jy!! Kalméér!!” Nico kry weer beheer oor homself. Hy besef hy moet net kalm bly en nie sy humeur verloor nie.
“Alet, kyk ….”
“My dogter is sewentien, sy is swanger, en jy sê ek moet kalméér!!” sê sy afemete.
Nico staan op en staan half gebukkend oor die lessenaar. Sy kneukels druk op die Patryshout voor hom. “Luister,” sê hy berispend, “dit gaan ons niks in die sak bring om so tekere te gaan nie. Ons moet nugter en soos groot mense oor hierdie saak gesels.
“Die skande!” sê Alet fluisterend. “Hoe gaan ek ons vriende in die oë kyk as hierdie ding rugbaar word? En Tobias is die pa! Dis die ergste van alles!! En wat is jy van plan om te doen, Tobias? Jy is ‘n klerk by een of ander stáátsdepartement!” Sy gooi haar hande in die lug. “Wat gaan jy doen? Wat kán jy doen??””
Nicolette kom tussenbeide. “Tobias is ‘n goeie ou, Mamma!” Alet snork minagtend.
Nico wil hom half vererg. “Alet, die feit dat Tobias hier is en dit nie aan Nicolette alleen oorgelaat het om die nuus met ons te breek nie, vertel my baie van sy karakter.”
“Tobias en sy mense beweeg glad nie in dieselfder kringe as ons nie, Nico. Vir húlle mag dit dalk aanvaarbaar wees as hulle seun ‘n matriekdogter swanger maak, maar nie vir my nie! Beslis nie vir my nie!” Sy laat haar kop in haar hande sak. “Die skande!!” sis sy dit uit.
Nico se oë spoeg vuur. “Luister Alet! Vergeet van die sogenaamde skande en dink vir ‘n slag aan Nicolette. Óns kínd. Dink bietjie vir ‘n slag aan haar en vergeet bietjie van jouself vir eenkeer in jou lewe!”
Aan die trek om haar mond kan Nico sien dat Alet woedend is. “Nico, moet net nie vir my sê jy ……”
Nico val haar in die rede. “Nicolette is ons kind en sy is swanger. Met óns kleinkind. Nicolette gaan nie trou omdat sy moet nie. Sy gaan eendag trou omdat sy wil. En as dit Tobias is, dan is dit reg so. Hy is ‘n goeie seun. Sy gaan haar kind in die wêreld bring; sy gaan klaarmaak met skool en sy gaan verder studeer. En tot dan sal daardie kind soos ons eie kind in hierdie huis wees! Verstaan ons mekaar?!” Hy kyk Alet amper met haat aan. “Hemel,” dink hy “waar het ons dit verloor?!”
“Daardie ‘kind’ is niks van my nie!! Niks!!” Alet staan uit die stoel uit op. “Daardie ‘kind’ sal nié in mý huis grootword nie! Verstaan. Jy. My!!” vra sy met ‘n stem wat deur staal kan sny.
Nicolette sak in die naaste stoel neer. Sy begin sag, maar beheersd huil. “Mamma ….”
“Ek wil graag met Nicolette trou, oom. Ons is regtig baie lief vir mekaar,” sê Tobias. Hy voel so onbeholpe. Hy wens sy pa kon hier gewees het. Hy voel so uitgelewer.
Alet lag skel. “Trou?! Jy wil met Nicolette trou?!! Oor my dooie ligaam.!”
Nico het sy teenwoordigheid van gees herwin. “Tobias, dis baie … ek weet jy bedoel dit goed seun, maar ek het netnou gesê en ek sê dit weer. Nicolette gaan nie trou omdat sy moet nie, maar omdat sy eendag wil. As julle teen daardie tyd nog bymekaar is, dan is dit reg so. Maar nie nou nie.”
“Oom,” begin Tobias, maar Alet val hom in die rede.
“Hoe ver is jy?” vra sy en kyk na Nicolette.
“Die dokter sê ongeveer agt weke, Mamma.”
“Dis nog vroeg. Ek sal môre rondbel en uitvind waar ons ‘n veilige aborsie kan laat doen.”
“Asseblief Mamma,” kom dit pleitend van Nicolette. Sy huil nou onbeheersd.
Nico voel hoe die bloed uit sy gesig dreineer. Hy kan nie glo dat Alet so ongenaakbaar kan wees nie. Is dit moontlik dat Alet haar eie kind kan haat en hierdie insident as vergelding kan gebruik? “Dit kan tog nie moontlik wees nie?!” dink hy. “Oor my dooie ligaam!” sê hy woedend terwyl hy regop spring.
Tobias se oë trek skrefies. Hy voel hy gaan dit verloor. “Aborsie is móórd, mevrou. Dis niks minder en niks meer nie. Koelbloedige moord, dis wat dit is!”
“Jy het geen, maar geen seggenskap in hierdie saak nie, Tobias,” sê Alet kil. “Nicolette is nog minderjarig en daarom sal óns besluit wat vir haar die beste is.”
Tobias gee twee tree tot reg voor Alet. Hy kyk haar reg in die oë as hy weer praat; sy senuagtigheid vergete. Sy hande is in vuiste langs sy sye gebal. Hy veg vir sy ongebore kind. “Mevrou bedoel mevróu sal besluit wat is goed vir Nicolette. Ek is jammer, maar Nicolette verwag mý kind.” Hy tik met sy wysvinger teen sy bors. “Ek is bereid om pa te staan vir my dade en die gevolge te dra. Daarom is aborsie vir my totaal en al buite die kwessie!!” Hy bewe van woede.
“Dis óf ‘n aborsie, óf sy trek uit hierdie huis uit en sy is nie meer my kind nie!” sê Alet sissend. Sy kyk van Nioco na Nicolette en dan na Tobias. “Besluit julle! Nag,” en sy stap by die studeerkamer uit.

Nico keer weer terug na die hede toe die orrelis die inleiding van die slotlied speel. Hy staan saam met die gemeente op, maar sing nie. Hy kan nie. Na die lied gaan die gemeente met ‘n geruis sit. Iewers hoes iemand. Die predikant kyk oor sy bril na die aanwesiges. “Ek lees vir u die draers soos dit op die program staan en versoek dat hulle vorentoe sal kom. Daarna gaan ons die gebou verlaat en na die begraafplaas vertrek. Ek versoek u om asseblief u motor se hoofligte aan te skakel. Nicolette se klasmaats het ook gevra dat u hulle asseblief die geleentheid sal gee om ‘n erewag by die graf te vorm. Die draers is soos volg: Nico Wagenaar, vader. Tobias van Staden, vriend. Cecile Schmidt, vriendin. Trudie Pienaar, vriendin. Ronel Visagie, vriendin en Susan Wolhuter, vriendin. U is welkom om na die verrigtinge by die begraafplaas terug te kom vir ‘n koppie tee en ligte verversings in die saal hier langsaan.” Hy vat sy Bybel en ander boeke bykemaar en gaan met die trappe van die preekstoel af.
“Sal die gemeente staan asseblief?” sê die begrafnisondernemer terwyl hy voor die draers plaasneem. Die orrelis speel baie sag en met gevoel terwyl eers die familie en daarna die res van die gemeente uitbeweeg.
“Ouboet, jy kan sommer saam met ons ry,” sê Nico aan sy oudste broer, Willie, toe hulle buite kom. “Dankie Nico,dit sal gaaf wees.” “Tobias,” vra Nico, “wil jy nie ook saam met ons ry nie?” “Dankie oom, maar my ma-hulle wag daar oorkant. Ek ry sommer saam met hulle.” “Nes jy wil, seun,” sê Nico en hy maak die deur vir Alet oop. Willie klim agter in. Nico wag vir die lykswa om in beweging te kom voordat hy die motor aanskakel. Orals beweeg mense en kom voertuie in beweging. Die lykswa stop om die bus vol kinders kans te gee om vooruit te ry sodat hulle ‘n erewag by die begraafplaas kan vorm.
Aanvanklik is dit stil in die motor.
“Hierdie ding moes vir julle ‘n geweldige skok gewees het, broer,” sê Willie van die agtersitplek af.
“Ja Ouboet. Ek kan dit nou nog nie glo nie. Dis nie my Nicolettatjie wat in ‘n kis agter in daardie lykswa lê nie,” sê Nico, maar in sy kop bid hy: “Here, gee my asseblief net …. help my net daar by die graf!”
Alet kyk by die venster uit. “As hierdie dag tog net verby wil gaan!” sê sy vir haarself.
“Ja broer, wat sê ‘n mens,” sê Willie terwille daarvan om net iets te sê. Die stilte in die motor kan amper met ‘n koevoet gebreek word.
Alet maak haar oë toe en druk met haar vingerpunte liggies teen haar voorkop. “Bly net stil! Bly in Hemelsnaam net stil!” wil sy dit uitgil, maar sy bedwing haar. “Al hierdie gesanik! Ek is moeg, moeg, moeg!”
Nico sien die kinders wat in ‘n erewag staan wanneer hulle by die begraafplaas indraai. Hy hou onder ‘n groot boom stil en hulle klim in stilte uit. Hy en die ander draers stap na die lykswa waar die begrafnisondernemer reeds die agterste klap oopgemaak het. Hulle wag vir almal om by die groot hekke in te kom. Dit is ‘n groot stoet. Dit voel vir Nico of die tou motors nie einde gaan kry nie, maar uiteindelik staan almal om die lykswa.
“Meneer Wagenaar, kan u vir my hier vat asseblief? Meneer van Staden, vat vir my aan daardie kant. Dankie. Julle ander kan vir my links en regs vat soos die kis uitkom. Slaan asseblief die handvatsels plat wanneer ons by die graf kom. Is julle reg?” Hy kyk hulle vlugtig deur. “Stewig vat asseblief. So ja.”
Nico hoor die baie voetstappe op die gruis knars. “Vader, hou my net vas. Hou my asseblief net styf vas,” bid hy in stilte.
Hulle stap tussen die twee rye kinders deur. Nico wonder waar Alet nou is. Wat sy dink. Wat sy voel. Vandat Rosina die oggend histeries in die gang afgehardloop gekom het en hulle met moeite kon hoor dat Nicolette dood in haar bed lê, het hy en Alet seker nie eers tien woorde met mekaar gepraat nie. Dis asof die kloof wat daar was onoorbrugbaar verbreed het. By die graf lê hulle die kis op die bande neer. Die begrafnisondernemer maak seker dat die kis reg lê en met ‘n kopknik kyk hy na die predikant. Terwyl die predikant praat, vervaag alles om Nico. In sy gedagte sit hy weer op Nicolette se bed met haar brief in sy hande. Oor sy wange loop die trane. Hy kyk na Nicolette. Sy lyk so broos soos sy daar lê. Hy skeur die koevert oop.
“Liefste Pappa,” begin hy lees, “Wanneer Pappa hierdie brief lees, sal ek reeds by Jesus wees. Ek weet en ek glo dat Hy sal verstaan en my sal vergewe vir wat ek van plan is om te doen. Ek kan nie meer so aangaan nie, Pappa. Ek weet Pappa se hart is nou seerder as ooit. Vergewe my asseblief. Baie dankie dat Pappa altyd daar was vir my. Ek onthou die aand – ek was nog baie klein – toe Mamma per ongeluk my vingertjies in die kar se deur vasgeslaan het. Dit was so bitter seer. Mamma het dadelik baklei, maar Pappa het my handjie in Pappa se groot hand toegevou en dit aanmekaar gesoen. Pappa het nog gesê ‘Ek wens ek kan jou altyd so teen die wrede dinge daar buite beskerm, my klein Nicolettatjie. My Gogga.’ Maar daar het ‘n tyd gekom wat Pappa se hand my nie meer kon toevou nie. ‘n Tyd wat ek dinge vir myself moes ontdek. ‘n Tyd waar ek moes leer om op te staan wanneer ek geval het. Maar hierdie keer het ek te ver geval. Dit was te diep om te probeer opstaan. Ek kon nie. Dankie dat Pappa my wou beskerm. Dankie dat Pappa nie een keer verwyte na my geslinger het nie. Dat Pappa verstaan het al was Pappa so teleurgesteld. Pappa sal altyd my liefste Pappa bly. Tot ons weer ontmoet. Pappa se Gogga.”
Die begrafnisondernemer se stem ruk Nico terug in die hede. “Daar is nou geleentheid om blomme op die kis te strooi as ‘n laaste huldeblyk. Ons vra dat die ouers en naaste verwante eerste sal nader kom en daarna kan die res van u volg.”
Nico vat een van die langsteel rose, ruik daaraan en laat dit in die graf val. “Totsiens my klein Gogga,” sê hy sag terwyl ‘n traan oor sy wang rol, “ek gaan jou so vreeslik baie mis.”
Alet kom langs Nico staan. Sy vat ook ‘n roos, laat val dit in die graf, draai om en stap weg. “Dankie tog dis amper verby,” dink sy.
Een na die ander kom die mense verby. Familie, vriende, skoolmaats; elkeen het ‘n behoefte aan ‘n laaste afskeid.
“Is daar nog iemand wat ‘n laaste blom wil strooi?” vra die ondernemer. Hy kyk rond. “Niemand nie?” vra hy. “Daarmee is ons verrigtinge by die graf dan afgehandel. Namens die bestuur wil ons weereens ons opregte simpatie met u groot verlies betuig. Ry asseblief veilig terug.” Hy gooi die laaste roosblare oor die kis en begin dadelik met die opruiming van die toerusting.
Nico staan steeds ‘n entjie van die graf af. Alet kom langs hom staan. “Kom ons ry Nico. Ek wil net wegkom van hierdie plek af en van al die oë wat so na ‘n mens staar,” sê sy gedemp.
“Daar is nog en ding wat ek moet doen voordat ons ry,” sê hy.
“Wat?”
“Ek gaan my dogter se graf toegooi. Ek gaan dit nie vir vreemdelinge los nie.”
“Jy gaan ….. wat?!”
“Jy het my gehoor Alet.” Nico se blik is koud.
“Jy gaan jou soos ‘n …. soos ‘n árbeider gedra?!”
“In die Winter, toe Nicolette nog klein was, het ek elke nag opgestaan om te kyk of sy nog warm toegemaak is. Ek gaan dit nou vir die laaste keer doen. Ek gaan haar vir die laaste keer toemaak.”
“Hoe ver moet ek nog verneder word?” vra sy ysig. “My man doen die werk van ‘n árbeider! Ek kry jou by die motor.”
“Hier is die sleutels,” sê Nico en hou die bossie sleutels na haar toe uit. “As jy nie wil wag nie, kan jy solank vooruit ry. Ek sal wel ‘n geleentheid saam met iemand kry tot by die Kerk.” Alet vat die sleutels, draai om en stap met vaste tred terug motor toe.
Nico trek sy baadjie uit, rol sy moue op en buk om die graaf te vat. “Kan ek oom help?” vra Tobias agter hom.
“Dankie Tobias. Daar oorkant is nog ‘n paar grawe.” Nico kyk vir ‘n paar sekondes na die kis onder in die graf voordat hy die eerste graaf vol grond aan die voetenend ingooi. Die grond val teen die kant van die graf en spat oor die kis. “Totsiens Nicolettatjie, my kind. Vir my sal jy altyd my sonskynkind wees. My klein Gogga.”
Geleidelik word die graf voller. Ander vriende en familie staan ook nader om te help. Uiteindelik is die graf toe en begin Nico die vrag ruikers op die graf pak.
“So ja Tobias, ek dink ons is nou klaar. Dankie vir jou hulp, seun,” sê Nico nadat hy die laaste ruiker op die graf neergesit het.
“Dis die minste wat ek kan doen oom,” sê Tobias terwyl hy op sy beurt die sweet met sy sakdoek van sy gesig afvee. “Oom, ek wil net weer sê hoe jammer ek is.” Hy vroetel onbeholpe met die sakdoek se punt. “Ek weet jammer kan niks regmaak nie oom, maar ……..”
Nico vat hom aan sy skouers en kyk in sy oë. “Alles is reg, Tobias.”
“Oom …..,” probeer Tobias weer “oom … ek …..” Sy gemoed skiet vol.
“Ons het albei iets verloor, Tobias. Ek …. ek het my enigste kind en my kleinkind verloor. En jy, jy het die meisie wat jy liefhet en jou kind verloor. Ja …… ons het albei iets verloor. En nou ….. nou bly net die skerwe oor.” Nico vat Tobias se hande in syne.
“Oom ……. ek ….. hoe gaan ek vorentoe oom?”
“Ek weet nie Tobias. Ek het daardie vraag vir myself seker al tien duisend keer ook gevra. Ek weet eerlikwaar nie. Al wat ek weet, is dat ons gereeld by mekaar moet uitkom, Tobias.”
“Dis goed so oom.”
“Ons – ek en jy – moet saam ons verlies verwerk. Alleen …… ek kan dit nie alleen doen nie. Ek gaan gek word! Kom ons gaan terug kerk toe. Ek kry jou by die saal.”
Nico is verlig om te sien dat Alet tog vir hom gewag het. Hy het eintlik vergeet dat hy vir haar die motor se sleutel gegee het. In stilte ry hulle terug saal toe.
Nadat alles by die saal afgehandel en die laaste mense weg is, stap Nico en Alet na hulle motor toe. Hy sluit die motor oop en klim in. Alet skuif langs hom in die passasiersitplek in. Hy skakel die motor aan, sit dit in rat en ry by die groot hekke uit. Alet kom agter dat Nico nie die deur vir haar oopgemaak het soos sy gewoonte was nie. Tenspyte van al hulle probleme het hy dit steeds gedoen. Vandag is die eerste keer.
Alet sit terug in die sitplek en maak haar oë vir ‘n wyle toe. “Dankie tog die dag is so te sê verby,” dink sy. Sy kyk dan na Nico. “Ek is dankbaar dat ons uiteindelik huistoe kan gaan. Hierdie was ‘n uitmergelende dag.”
In Nico se kop ego dit. “Ek kan nie huistoe gaan nie. Ek kan net nie!”
“Hoor jy as ek praat, Nico?”
“Ek het gehoor ja,” sê Nico ietwat kortaf.
“Waar gaan jy nou heen? Die huis is in ‘n ander rigting.”
“Ek sien nie kans vir die huis nie, Alet. Nie nou nie. Dis net ….. dis té fináál. Die stilte. Ek wil net ry en ry en ry …… tot daar waar die pad opraak.”
Alet kyk by die venster uit. Sy sien die landskap by haar verby skuif. “Ek het nie meer ‘n plek in daardie huis nie,” dink sy. “As dit nie vir Nicolette was nie, dan het Nico seker lankal sy goed gevat en geloop.” “En dan?” vra sy hardop. “As jy gekom het daar waar die pad opraak? Wat dan?”
Nico gee ‘n lang sug terwyl hy praat. “Ek weet nie, Alet. Of …. of miskien weet ek en wil ek dit dalk net nie erken nie. Dalk …..” Sy sin breek af en hang in die lug.
Onrus wel in Alet op. “Dalk wát?” Emosies wil haar oorweldig.. “Net nie …. net nie ….” Sy maak nie die gedagte klaar nie.
“Ek weet nie Alet. Ons …. ek weet nie.” Hy skud sy kop in ‘n ontkennende gebaar en kyk by die venster uit.
Hoe ver hulle gery het weet Nico nie. Hy sien op ‘n stadium die Magaliesberg in die verte met Broederstroom se heuwels voor hulle. Hulle het deur die stadverkeer gery sonder om ‘n enkele woord verder met mekaar te praat. Elkeen is besig met gedagtes en woorde wat nie sinne word nie.
“Die son is besig om te sak,” sê Nico later. “Ons moet teruggaan. Ek het verder gery as wat ek gedink het. Moet ek iewers stop en vir ons ‘n wegneem ete kry?”
“Ek is nie honger nie, dankie.”
“Kyk hoe mooi is die sonsondergang vannaand. Nicolette het my altyd geroep om na die sonsopkoms of die sonsondergang te kyk.” Hy voel weer hoe rou emosie deur hom spoel. Sy oë voel branderig. “Vader,” dink hy, “gaan ek elke keer as ek iets sien of hoor wat ek en my kind gedeel het weer deur alles moet gaan. Hoe word hierdie stukkend ooit weer heel? Hoe lank gaan dit vat voordat ek net weer normaal kan dink?!”
Alet kyk in die skemer van die ondergaande son na Nico. “Ek het baie lanklaas na die sonsondergang gekyk. Ek kan nie onthou hoe lank terug nie.” “Wanneer het ek so geword?” vra sy haarself. Nico het oornag oud geword. Die hartseer het diep kepe in sy gesig gekerf. Ek sien dit nou eers. Ek wonder waaraan dink hy nou? Ek weet niks meer van hom af nie.”
Die stilte sak weer in die motor neer terwyl Nico terugry. Uiteindelik stop hy voor die groot swaaihekke. “Het jy die afstandbeheer by jou?” vra hy.
“Ek dink dis in die paneelkissie,” sê Alet en maak die kissie oop. “Ja, hier is dit. Ek het dit by die begraafplaas hier ingesit.” Sy neem die afstandbeheer en druk die knoppie. Die groot hekke maak stadig oop. Nico ry met die oprit tot voor die motorhuis en sluit die motor af. Hy skakel die sekuriteitstelsel af. “Bêre jy nie die motor nie?” vra Alet terwyl sy hom direk aankyk. “Hy gaan nie die motor bêre nie. Wil seker net pak en ry. Liewe Vader, net nie dit nie. Asseblief, net nie dit nie.” Sy maak haar oë toe en leun teen die rugleuning terug. “Ek het gebid” sê sy vir haarself. “Wanneer laas het ek dit gedoen? Bid?” Haar gedagtes is ‘n warboel. Soveel vrese; soveel gedagtes. Die spanning raak onhoudbaar.
“Ek sal later. Ek wil net eers ‘n draai in die tuin gaan loop.”
“Hy wil seker eers sy sinne agtermekaar kry. Die onvermydelike op ‘n sagte manier aan my oordra,” dink sy. “Ek mag hom nie alleen laat nie. Ek mag nie.” “Kan ek maar saamkom? “ vra sy beangs.
“Jy is welkom,” sê Nico.
Dis nou al sterk skemer; amper donker. Die tuinligte het outomaties aangeskakel en orals is daar kolle lig. Hulle stap met ‘n paadjie tussen die beddings deur. Alet stap half agter Nico.
“Die rose is mooi?” sê-vra sy. “Ek moet sy gedagtes wegkry van wat hy beplan,” dink sy.
“Hulle is ja,” antwoord Nico afgetrokke.
“Wat is daardie”
“Wat.”
“Daardie pers blommetjies daar oorkant.”
“O. Dis Bloukappies.”
“Hulle is mooi.”
Nico kom tot stilstand by die bos. “Hulle lyk amper soos ‘n miniatuur orgidee. In die helder son sal jy die klein, fyn kolletjies kan sien.”
“Die blom is so fyn. Delikaat,” sê Alet met opregte gevoel. “Jare terug sou jy ‘n takkie met blomme in my hare gesteek het,” dink sy.
Nico stap weer aan. Die sagte geluid van kabbelende water word geleidelik hoorbaar. Hy stop by ‘n ruwe tuinbankie. “Kom ons sit hier. Dit was Nicolette se gunsteling plek.”
“Dis mooi hier. Rustig. Waar kom die bankie vandaan?”
Nicolette het my drie Saterdae gelede saamgesleep na ‘n tuinsentrum toe om vir my hierdie bankie te wys..”
“Waar is die bankie wat altyd hier was?”
“Ek het dit daar onder die Olienhoutboom laat neersit.”
“Die gietysterbankie was altyd vir my baie stylvol.”
“Vir Nicolette was hierdie ruwe houtbankie die mooiste wat sy nog gesien het. Sy was so opgewonde daaroor.” Dit word weer stil tussen hulle.
Die nag begin om hulle wakker word. In die verte sis ‘n groot vragmotor se remme. Tussen die biesies in die water voor hulle kwaak ‘n padda met ‘n diep bas stem. Krieke orals in die tuin laat ook van hulle hoor. Iewers roep ‘n naguiltjie.
“Ek het my man en my kind iewers verloor. Iewers …. en ek weet nie waar nie. Ek weet nie wanneer dit gebeur het nie.”
“Ek het nie geweet van die bankie nie,” sê Alet en streel met haar vingerpunte oor die ruwe hout.
“Dit was ‘n gesukkel om dit op die bakkie en later hier op sy plek te kry. Toe het sy vir ons gaan koffie maak. Ons het hier gesit en vir die visse gekyk terwyl ons koffie gedrink het.” Die gesels droog weer op.
“Wanneer laas het ek en Alet net gesels?” wonder Nico.
Skielik praat albei gelyk. “Nico …” “Alet …”
“Toemaar, praat maar,” sê Nico.
“Nee, sê maar wat jy wou sê,” kom dit van Alet.
“Hy gaan seker nou vir my sê dat hy besluit het om te skei.”
Nico is onseker as hy begin praat. “Eeee nou maar goed. Alet, ons lewe …. ons héle lewe het hééltemal uitmekaar geval. Al hierdie goed; alles wat gesê is; alles wat gebeur het ….. ek bedoel,” sê hy onbeholpe. Hy sit vooroor met sy vingerpunte teenmekaar gedruk.
“Hier kom dit nou. Wat sê ek? Wat. Sê. Ek??”
“Wat wil jy sê,Nico?” vra Alet beheersd, maar die spanning slaan tog deur.
“Dis moeilik.”
“Sê dit”
“Waar het ons mekaar verloor, Alet?”
Alet laat sak haar kop in haar handpalm. “My senuwees is op breekpunt. Kry dit net oor en verby. Asseblief. Moenie lang praatjies maak nie,” ego dit deur haar kop. “Nico …..”
Nico val haar in die rede. “Kan jy onthou toe ons mekaar die eerste keer ontmoet het?”
Alet kyk op. “Dis lank terug,” sê sy. “Baie lank.” Ver weg loei ‘n ambulans se sirene.
“Ek was omtrent so oud soos wat Tobias nou is. Drie en twintig. Miskien vier en twintig?”
“Hoekom rek jy dit so uit?” wil sy dit uitgil.
“Ja,” sê sy met angs wat in haar oplaai. “Ja, ons was jonk. Ek was nog nie eens mondig nie.”
“Ons was so gelukkig.”
“Ons was dolverlief en báie gelukkig.”
“Ek was maar ‘n klerk iewers. Net soos Tobias nou is. Ek het nie geweet dat jou pa skatryk was nie. Trouens; ek het nie eers van julle bestaan geweet nie. Ons leefwêreld het ligjare van mekaar verskil.”
“Waarheen mik jy?” wil sy vra. “Hoekom vir Tobias hierby insleep?”
“Gelukkig het my pa later vir jou ‘n pos in die maatskappy aangebied. Het ek jou toe al verloor, Nico?” Sy vra dit met ‘n dringendheid.
Nico antwoord nie haar vraag nie. “Ek het lank gespaar vir ‘n ring. Daar was ‘n pêrel op. Onthou jy?”
“Ek onthou,” sê Alet. “Ouma het gesê ‘n pêrel bring hartseer. Dit was in die inry.”
“Inry?” vra Nico.
“Hy onthou nie meer nie. Dit maak seker nie meer saak nie,” flits die gedagtes deur haar brein.
“Ons was die aand inry toe. Met jou Datsun. Die ding het kort kort gekook.” Alet lag saggies. “Ons het …. ons was ….. Daardie aand het jy my gevra om jou meisie te wees. Jy het nog so gesukkel om die boksie oop te maak.” Alet snuif liggies.
“Die ring was bietjie klein en ek moes dit laat groter maak. Jy het nog gesê dis net in flieks waar ringe die eerste keer pas.”
“Jy met jou outydse waardes. Jy het nog vir my ma-hulle gaan vra of hulle sal omgee as ons vas uitgaan.”
“Jou pa was maklik, maar jou ma het vasgeskop. Ons was nie in dieselfde klas nie.”
Alet maak haar oë toe. “Waarom straf jy my so?!” dink sy.
Alet vou haar hande in haar skoot. “Later, toe ek haar die ring gewys het, het sy gesê sy hoop jy gaan later vir my iets beter koop. Maar vir my ….. vir my was dit die mooiste …. die kosbaarste. Dit lê nou nog in my juwelekissie.” Sy soek na ‘n sneesdoekie. Nico bied sy sakdoek aan. Alet snuit haar neus saggies.
“Waar het ons mekaar verloor, Alet? Alet? Waar. Wanneer? Hoe het dit gebeur?”
“Ek weet nie Nico. Ek weet nie. Dit het net gebeur.”
“Wat in my het jou aangetrek? Hoekom het jy lief geword vir my?”
Alet kyk lank na haar hande. Dan kyk sy op en sien die sterre. Sy hoor die krieke en die uiltjie in die verte. “Ek dink …… ek dink dit was jou rustigheid,” sê sy na ‘n rukkie. “Dalk jou innerlike krag. Miskien was dit jou trots. Jy wou niks daarvan weet om vir my pa te gaan werk nie.”
“Ek kon nie iemand word wat ek nie was nie. Vir myself het ek maar die arm outjie van ‘n gemiddelde voorstad gebly.”
“En jou menslikheid behou. Jy het nie verander nie. Ek is die een wat verander het. Wat ….. hoekom het jy lief geword vir my, Nico?”
Nico pluk ‘n blaartjie van ‘n struik wat langs die bankie staan om bietjie tyd te wen. Hy draai dit om en om.
“Nico?” vra sy dringend.
“Jy was so sorgvry …. so dartelend. Jy het maklik en lekker gelag. Soms vir die simpelste goed. Die son was in jou hare. Die hemel in jou oë. Ek het jou baie lief gehad. Jy was my godin,” sê Nico sonder om na Alet te kyk.
Alet luister met ingehoue asem na Nico. “Hét …. wás …. verlede tyd. Hier kom dit seker nou,” dink sy senuagtig.
“Ja, ons was lief vir mekaar, Nico. Die dae was vol sonskyn.” Sy gee ‘n skalkse laggie. “Al het jou Datsun so baie gekook.”
“Uiteindelik het ek tog maar bes gegee en vir jou pa gaan werk. Hy het vir my ‘n maatskappymotor gegee al was ek maar nog ‘n junior in die maatskappy.”
“En toe ons trou het hy vir ons die huis gekoop. Is dit nie dalk daar waar die spoor weggedraai het nie? Was dit nie dalk al daar wat …. wat ….”
Nico val haar vinnig in die rede. “Was dit nie dalk toe ek so aangehou het oor kinders nie, Alet?” Hy kyk haar reguit aan.
“Ek wou nie kinders gehad het nie.”
“Hoekom nie?”
“Moet ons weer daardeur gaan? Dis lank terug.”
“Soms ….. soms moet ‘n mens terugdraai op jou spoor.” Hy bly ‘n oomblik stil. “Partykeer het die wind die spore toegewaai. Soms kry jy net ‘n dowwe spoor. Ander kere het ‘n ander spoor jou spoor gekruis ….” Nico word stil.
“Of partkeer is daar soveel spore dat jou spoor heeltemal wegraak,” vul Alet aan.
“En dan kry jy dit glad nie meer nie.”
“Ja, dan kry jy dit glad nie meer nie,” beaam Alet.
“Miskien gooi ‘n mens te gou tou op. Die spoor is nog daar iewers. Jou oë moet skerp kyk. Die geringste tekentjie soos ‘n gebreekte takkie, ‘n geknakte blaar, ‘n skraapmerk aan ‘n klip; mens moet net fyn oplet.” Hy bly weer stil. “Hoekom wóú jy nooit kinders hê nie, Alet?” Nico kyk haar so deurdringend aan asof hyverwag om die antwoord in haar oë te sien as sy dit nie vir hom sê nie.
“Het ek jou nooit gesê nie?”
“Ek sou onthou het. Dis te belangrik om te vergeet. Jy het net altyd gesê jy wil nie kinders hê nie, maar by die hoekom …..” Hy bly ‘n oomblik stil. “By die hoekom het jy nooit uitgekom nie.”
“Ek was bang.”
“Bang?” vra Nico verward. “Bang vir wat?”
“Ons was so gelukkig, Nico. So gelukkig.”
“Maar hoekom was jy bang? Ek is … ek verstaan dit nie. Was jy bang vir die geboorteproses? Die pyn wat daarmee saam gaan?”
“Nee, dis nie waarvoor ek bang was nie.”
“Nou waarvoor dan?”
“Ek wou jou nie deel nie. Met niemand nie. Nie eers ‘n kind nie. Ek wou jou net vir myself hê.”
“Was dit regtig die enigste rede?”
“Ek was bang ek verloor jou in die proses van kinders kry en kinders grootmaak. Van huis toe, skool toe, sport, kultuur, oueraande, prysuitdelingsaande; noem maar op. Vir my was die risiko net …. dit was net te groot, Nico. Daardie kans wou ek nie waag nie.”
“Maar Nicolette het toe tog …. jy het tog swanger geraak.”
“Dit was ‘n glips.” Alet draai haar kop weg.
“’n Glips?”
“Iewers …… die pille …… ek was nalatig. Ek moes iewers vergeet het ….”
“Maar dit kon tog nie so erg gewees het nie, Alet!”
“Toe ek ontdek het dat ek swanger was, het ek my kind gehaat toe sy nog nie eers gebore was nie.”
“Jy het ‘n klein mensie gehaat vir iets … vir iets waarvoor hy of sy …..” Sy sin hang in die lug. “Ek glo nie wat ek hoor nie, Alet.”
“Voordat ek jou vertel het, het ek selfs ‘n aborsie oorweeg. Ek. Wou. Nie. Kinders. Hê. Nie. Glad nie.
“’n Aborsie?!” Skok en afgryse slaan in Nico se stem deur. “Asof …….. ek …….. ‘n abórsie? Ek was so bly toe jy vir my sê dat jy swanger is. Ek wou hê die hele wêreld moes dit weet. Ek het aangeneem dat jy tog maar besluit het om swanger te raak. Dat dit so beplan was. Nou …… ‘n glips. ‘n Abórsie!”
“Ek is jammer, Nico.”
“Hoekom het jy my nooit weer naby jou toegelaat nie? Jy het selfs in ‘n ander kamer gaan slaap.”
“Ek wou nie weer …… Daar moes nie weer ‘n glips wees nie! Verstaan jy nie?”
“Ek weet nie of ek so mooi verstaan nie. Jy het self jou grootste vrees bewaarheid.”
“Moenie my stenig nie, Nico! Asseblief!”
“Hoekom het jy nooit met my oor die goed gepraat nie, Alet. Ons kon oor álles met mekaar gesels. Ons het mekaar se diepste geheime geken!”
“Ek ………. ek ……..” Alet kry nie woorde vir haar gedagtes nie.
“Nag vir nag het ek in my bed gelê en smag na jou lyf teen myne. Ek kon nie tot jou deurdring nie. Eers het ek gedink dis nageboortedepressie, maar jy wou nie praat nie! Jy het my verwerp. Jy wou my nie meer hê nie!”
“Dis nie dat ek jou nie meer wou hê nie, Nico!! Verstaan tog! Daar moes net nie nog kinders wees nie. Ek het gedink….. ek het gedink jy het nou die kind wat jy so graag wou hê. Ek het gedink dis genoeg,” sê sy pleitend.
“En vir sewentien jaar het jy hierdie …. hierdie …..” Nico soek na woorde.
“Haat?”
“Ek is te bang om dit te sê.”
“Jy sal dit nooit ongedaan kan maak nie.”
“Iets so eenvoudig soos vrees het sewentien jaar se geluk en sonskyn by ons gesteel! Sewentien jaar!”
“Dis nie so eenvoudig as wat jy dit maak nie, Nico.”
“My pa het altyd gesê ‘n mens moet nooit die bobbejaan agter die berg gaan haal nie. Wanneer jy dit doen, kom die bobbejaan altyd na jou toe.”
“Wat beteken dit?”
“Dat jy nie onnodig bang moet wees vir goed wat dalk nooit eers gaan gebeur nie. Jou vrees mag jou dalk opvreet.”
“Het ek die bobbejaan agter die berg gaan haal?”
“Nee.” Nico huiwer ‘n paar sekondes. “Nee Alet. Daardie bobbejaan het na jou toe gekom. Presies soos my pa gesê het. Daardie bobbejaan het sewentien jaar se geluk by ons opgevreet!”
“Ek het vanmiddag vir die eerste keer in baie jare weer na die sonsondergang gekyk. Ek het gedink …. ek het gewonder wanneer het ek so verander.”
“Ek het weer aan Nicolette gedink. Sy het my altyd kom roep om na ‘n mooi sonsondergang te kyk.” Die stilte kom lê weer tussen hulle.
Om hulle begin die dag breek. Tussen die gekwaak van die padda tussen die biesies en die krieke in die tuin begin die geluid van bosduiwe en die vleiloerie ook deurkom.
“Daardie bobbejaan van jou,” roer Alet weer die onderwerp aan.
“Verkeerd. Dit was my pa se bobbejaan.”
“Joune of jou pa s’n; dit maak nie saak nie. Dit het ‘n monster geword. Sal dit ooit weer terug gaan na sy blyplek in die kranse?”
“Nee Alet. Ek is bevrees nie. As ‘n wilde dier eers daaraan gewoond geraak het dat mense vir hom kos gee, dan pas hy nooit weer in die natuur aan nie. Jy sal daardie bobbejaan moet baklei tot hy dood is.”
“Of ek.”
“Of jy, ja.”
Alet kyk om haar rond. “Daardie bobbejaan het vir my ‘n bedreiging geword,” dink sy. Ek het daardie monster vir sewentien jaar kos gegee.”
“En nou? As jy so stil is?”
“Ek dink sommer.”
“Aan?”
“Ek sal moet soek vir my spoor. Ek sal diep moet soek en fyn moet kyk.Ek sal moet soek vir gebreekte takkies. Vir geknakte blare en skrape teen ‘n klip. Daar is hoeveel jare se spore wat my spore gekruis het. En wanneer ek my spoor gekry het …..” Sy bly stil.
“En dan? Wat dan Alet?”
Sy kyk vir Nico. “Dan vat ek daardie bobbejaanmonsterding aan sy nekvel en ek sleep hom tót daar by die begin.”
“En dan?”
“En daar by die begin …… daar slaan ek hom met ‘n plank dood.”
“En dan?”
Voordat Alet kon antwoord raak hulle bewus van voetstappe wat in hulle rigting kom.
“Shhhhh. Wat hoor ek?” vra Alet.
“Ek hoor voetstappe. Dit klink of dit hierheen kom,” fluister Nico.
“Wie sal dit wees?”
“Ek weet nie. Sit net stil.”
“Dis dalk ‘n rondloper.”
“Hoe kom hy by die sekuriteit in die tuin verby?”
“Het jy dit weer aangeskakel nadat ons gisteraand hier kom sit het?”
“Goeiste nee. Ek het skoon vergeet. Kom.” Hulle staan vinnig op. ‘n Skerp gil weerklink in die vroegoggend stilte.
“Hoe skrik ek vir julle!” sê Nicolette. “Julle sal maak dat my hart gaan staan! Wat maak julle die tyd van die oggend saam in die tuin? Wat maak julle hier?”
“Ons sit net ‘n bietjie,” sê Nico met ‘n glimlag.
Nicolette wys met haar wysvinger van die een na die ander. “Julle. Sit. Net ‘n bietjie hier. Met ‘n laptop op die skoot. In die tuin?”
“Ja. Ons het gisteraand hier kom sit en deur die nag gesels tot jy hier aangekom het. En dit in jou slaapklere? Skaam vir jou!” roep Alet gemaak verontwaardig.
“Ag Mamma.”
“Eintlik is ek bly dat jy ook hier is. Jy kan ons nou help om die storie klaar te skryf,” sê Nico.
“Storie?” vra Nicolette verbaas. Van Wanneer af is Pappa ‘n skrywer?”
“Ons skryf ‘n storie, ja. Jy sien, met al die moeilikheid die laaste paar weke het ek gedink dit sal goed wees as ons drie by ‘n berader kan uitkom.”
“Maar toe kom Pappa op die plan om ‘n storie te skryf.”
“Okei? Maar hoe pas die storie en die berader dan nou by mekaar?” vra Nicolette. Die saak bly vir haar bietjie in die duister.
“Gogga, as Rosina verlede Dinsdag nie jou koffie vroeër as gewoonlik kamer toe gevat het nie, sou ons te laat op jou afgekom het.”
“Sy het die halwe bottel pille op jou bedkassie gesien en dadelik twee en twee bymekaar gesit,” vertel Alet verder.
“Genoeg daarvan,” sê Nico beslis. “Ek wil dit nooit weer beleef nie. Dis net ‘n genade dat jy vanoggend daar op daardie klip by ons kan sit.”
“Maar vertel nou van die storie.”
“Ek het die storie begin by jou begrafnis.”
Nicolette trek ‘n gesig. “Dis ghrous!” roep sy uit.
“Nee wag nou,” sê Nico. “Ons was vanmiddag kerk toe. In ons kerkklere. Soos vir ‘n begrafnis.”
“Ek wou sê julle lyk ‘n bietjie te deftig om net sommer nag deur in die tuin te gesels,” kom dit van Nicolette.
“Nietemin,” begin Nico weer, “Daar by die kerk het ons elkeen dit wat deur ons gedagtes gegaan het, neergeskryf. Geen doekies omdraai of niks. Een honderd persent eerlikheid anders sou die storie nie werk nie. Elkeen moes skryf wat op daardie oomblik in sy of haar kop aangaan sonder dat die een die ander in die rede val of ‘n geveg aanknoop. Dit was ’n gesprek in absolute stilte. Van die kerk af is ons begraafplaas toe. Van daar het ons ‘n ent gaan ry en toe het ons huistoe gekom en hier kom sit.”
“Nou hoe pas ek in die prentjie as julle dan die hele storie amper klaar geskryf het?”
“Jy moet help om die storie klaar te skryf,” sê Nico optimisties.
“Ek dink jy moet die hele einde skryf,” sê Alet. “Ons speel jy is die berader en ons moet maak soos jy sê.”
“Okei. Dit klink of dit kan werk,” sê Nicolette versigtig. “Wys vir my waarvandaan moet ek verder skryf.”
“Nico maak die skootrekenaar weer oop. Kyk hier. Hier het ons geskryf: ‘En daar by die begin …… daar slaan ek hom met ‘n plank dood.’ ‘En dan?’ Daarvandaan moet jy nou verder skryf. Ons gaan nou stort en ander klere aantrek. Ons kry jou weer hier oor ‘n uur. Dan lees ons wat sê ons berader.” Nico glimlag.
“Nou maar okei. Weg is julle. Laat ek eers sien wat het julle alles geskryf. Die dokter sal dan die operasie klaar maak,” sê Nicolette terwyl sy van die klip af opstaan en op die bankie gaan sit. “Onthou om koffie en koekies saam te bring, hoor!” roep sy hulle agterna as hulle wegstap. Sy lees van die begin af.

‘n Uur later sit die drie van hulle weer by die dammmetjie. Nico en Alet sit met die skootrekenaar tussen hulle. Nicolette sit met ‘n beker vars koffie in die een hand en ‘n koekie in die ander. “Julle moet nou mooi lees. Doktersvoorskrifte!” sê sy gemaak kwaai. Nico lag.
“Goed,” sê Nico. “Kom ons vat dit van hier af.”

“Ek sal moet soek vir my spoor. Ek sal diep moet soek en fyn moet kyk.Ek sal moet soek vir gebreekte takkies. Vir geknakte blare en skrape teen ‘n klip. Daar is hoeveel jare se spore wat my spore gekruis het. En wanneer ek my spoor gekry het …..” Sy bly stil.
“En dan? Wat dan Alet?”
Sy kyk vir Nico. “Dan vat ek daardie bobbejaanmonsterding aan sy nekvel en ek sleep hom tót daar by die begin.”
“En dan?”
“En daar by die begin …… daar slaan ek hom met ‘n plank dood.”
“En dan?”
“Sal jy daar vir my wag, Nico. Daar by die begin. Sal jy vir my wag; jy en Nicolette?”
“Ons sal daar wees, Alet. Ek en Nicolette sal daar wees vir jou.”
“Nico, ek weet ….”
Nico val haar in die rede. “Ek het ‘n beter idee.”
“Wat?”
“Hoekom wil jy daardie bobbejaan alleen baklei? Ons sal saam met jou spoorsny tot ons jou spoor weer optel. Dan vat ons drie saam daardie bobbejaan en sleep hom tot daar waar jy hom met die plank gaan doodslaan.”
“Julle wil nie daar vir my gaan wag nie?”
“Ek is bang.”
“Vir?”
“Ek is bang jy word moeg en dan glip daardie bobbejaan uit jou hande uit. Ons sal hom sleep en jy spaar jou energie vir wanneer jy hom met die plank gaan doodslaan.”
“Dink jy ek sal hom met een hou kan doodslaan?”
“Nee,” sê Nico, “Ek glo nie. ‘n Mens wis nie sewentien jaar in een oomblik uit nie. Ons sal dit hou vir hou moet doen. Dag vir dag. Maar die dag sal kom dat daardie bobbejaan dood aan ons voete sal lê. Ek kan nie wag vir daardie dag nie.”

Nico maak die skootrekenaar toe. Alet vee haar oë met ‘n sneesdoekie uit. Nico voel ook ‘n klammigheid in sy ooghoeke.
“Ek is lief vir jou, Nico,” sê Alet. “So baie lief vir jou.”
“En ek vir jou Alet. Ek het so baie gebid dat hierdie dag weer sal aanbreek.”
“Amper het dit nie.”
Nico neem Alet in sy arms en druk haar styf teen hom aan. Sy wikkel haar effens los en kyk in sy oë. “Jy is ‘n ….. ‘n …..”
Nico val haar in die rede. “’n Wat?”
“Ek sal jou vanaand sê.”
“Belowe?”
“Ek belowe.”
Die tyd het gaan stilstaan. Die aarde het opgehou met draai. Alles om hulle vervaag. Niks en niemand bestaan meer nie. Dis net hulle twee op die planeet.
Nicolette neem die skootrekenaar en stap stilletjies weg. “So ja,” dink sy. “Laat ek hulle nou los. Hulle het baie om op te vang. Ek het nog ‘n wiskunde vraestel wat voorlê.”
In haar hart juig dit. “Hoe mooi kan die liefde nie wees nie?” dink sy.

(© Herman du Plessis)




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed