Jongste aktiwiteit:

In die tuin

In die tuin, deur Stephan Uys

ʼn Vreemde geluid maak die jongman wakker wat op die geil groen gras lê en slaap. Dit is ʼn geluid wat hy nog nooit vantevore in sy lewe gehoor het nie, en hy sal weet, want hy ken elke voël en elke dier se geluid in hierdie pragtige tuin. Terwyl hy so met gespitste ore lê en luister, groei sy nuuskierigheid. Elke keer as die wind in sy rigting draai, is hy seker hy hoor woorde. Nog nooit vantevore het enige lewende wese ʼn geluid gemaak wat hy kon verstaan nie, buiten vir die papegaai wat hy besig is om te leer praat. Dit wat hy nou hoor is beslis nie sy papegaai se skril stem nie. Hy draai sy kop sodat sy oor die geluid beter kan opvang. Sowaar! Daar is iets wat praat êrens in die tuin, en wat meer is, hy kan verstaan wat gesê word. Hy raak bewus van ʼn ander geluid langs hom. Hy draai sy kop na links en sien dat een van die groot maanhaarleeus langs hom kom lê en slaap het. Die groot leeu se gesnork het sy aandag vir ʼn oomblik afgetrek van die stem in die tuin.
Die jongman lig homself op sy elmboë en voel ʼn effense ongemak in sy borskas. Hy sit sy hand op die sensitiewe plek en voel net vlees waar daar voorheen ʼn ribbebeen was. Hy wonder of Hy gedoen het wat Hy gesê het Hy gaan doen. Hy kyk oor die groot leeu se kop en sien die res van die trop leeus wydverspreid oor die gras lê en slaap, selfs die woelige welpies is in ʼn rustelose droomland van hul eie. Hy moes werklik in ʼn baie diep slaap gewees het, want die welpies sou vir seker met hom kom speel het toe hulle op hom afgekom het. Hy weet uit duur ondervinding dat hulle hom nie uitlos nie. Al slaap hy sal hulle oor hom en met hom speel totdat hy saam met hulle speel. Hy het egter nie eers wakker geword van hulle spelery nie. Hy sit versigtig weer sy hand op die plek op sy bors, maar voor hy verder kan tob oor die verlore rib, hoor hy weer die stem wat praat. Wie of wat dit ook al is wat so praat is besig om in sy rigting te beweeg, en dit is nou so naby hy kan hoor hoe dit tussen die digte bosse deur beweeg.
Die jongman spring regop toe hy Sy stem ook hoor! Nog nooit het Hy hierdie tyd van die dag vir hom kom kuier nie. Dit wil vir hom voorkom of Hy en die onbekende wese met die hoë stem saam met mekaar deur die tuin stap. Hy probeer loer na waar die geluid vandaan kom, maar daar is ʼn paar groot vyeblare wat sy visie versper. Die jongman stoot die blare met sy linkerhand uit die pad, en dan sien hy die onbekende wese vir die eerste keer! Hoewel daar baie blare en takke tussen hulle is, kan hy wel sien dat dit glad nie lyk soos enigiets wat hy al ooit vantevore gesien het nie.
Die eerste ding wat hy opmerk, is hoe die vreemde wese loop. Dit stap regop op twee bene saam met Hom, maar daar is geen waggel in die stap soos by die groot aapspesies nie. Baie van die ape probeer om soos hy te loop, maar hulle kry dit nie reg nie. Die ape waggel ongebalanseerd op twee bene rond totdat hulle verveeld raak met die na-apery. Die wese wat langs Hom stap, loop net so regop soos hy, en dit beweeg met ʼn vreemde ritmiese heupswaai wat hy baie aanloklik vind.
Die tweede ding wat hy opmerk, is dat die wese, net soos hy, ook nie baie harig is nie. Dit het eintlik nog minder hare as wat hy het. Die jongman is nie gewoond aan ʼn amper haarlose wese nie, want omtrent al die diere hier in die tuin is baie harig. Weer beweeg sy hand na die plek waar die rib weg is. Hy is byna seker dat Hy gedoen het wat Hy gesê het Hy gaan doen.
Die jongman se oë bly vasgenael op die twee figure wat deur die bosse beweeg. Hy is nou seker die twee van hulle is op pad na hom toe. Elke nou en dan lig Hy ʼn tak op of stoot Hy takke uit die pad vir die nuwe wese wat met ʼn hoë stemtoon praat. Die wese praat so baie Hy sê amper nie ʼn woord nie, maar daar is ʼn sagte en geamuseerde glimlag om Sy mond. Toe hulle in ʼn opening tussen die bome en struike kom, kan die jongman duidelik nog ʼn paar belangrike verskille sien. Hoewel sommige van die verskille baie effe is, is dit verskille wat iets in hom wakker maak wat hy nog nooit vantevore ervaar het nie. Om die een of ander rede het die wese ʼn baie vreemde invloed op hom. Die jongman het gereeld na sy eie gesig gestaar as hy gaan water drink in die rivier of by die waterpoele wat oral in die tuin voorkom. Die vreemde wese se gesig lyk baie soos sy eie gesig, maar dis net kleiner en baie mooier. Nog iets wat hom ook onmiddellik opval is die wese se helder blink oë, en die pragtige rooi lippe wat spontaan glimlag. Die lippe is so rooi soos die bessies wat regdeur die tuin groei en wat die ape en voëls so geniet om te eet. Die jongman skeur met moeite sy oë van die wese se gesig af en begin die kontoere van die wese se lyf te volg. Die wese het klein skouers en ʼn nog kleiner middellyf, maar dan klok die heupe uit om ʼn figuur te vorm wat nêrens in hierdie tuin voorkom nie. Hy trek sy oë van die wese se heupe af en kyk na die bors. Skielik het hy sekerheid oor wat dit is wat daar in die opening staan. Dit moet ʼn wyfie wees wat daar staan! Hoewel hy en sy op die oog af na mekaar lyk, is daar ook ʼn paar belangrike verskille tussen hulle; verskille wat hy nou duidelik kan sien. Hierdie wyfie wese se bors lyk baie soos die van die wyfie ape, maar die ape sin is harig. Die rondings trek sy oë soos magnete. Nuuskierig loer hy weer in haar heupe se rigting. As daar enigsins twyfel kon wees, is dit nou iets van die verlede. Die wese is vir seker ʼn wyfie en nie ʼn mannetjie nie, dit is vir hom baie duidelik.
Die jongman is ongelooflik beïndruk met die wyfie wese wat hy so deur die vyeblare beloer. Sy het nog glad nie van hom bewus geword nie, en hy geniet dit om te hoor hoe sy net aanhou gesels en vrae vra, sonder om Hom eers kans te gee om te antwoord nie. Skielik sit Hy sy vinger op die wyfie se mooi rooi lippe en vra vir haar om bietjie op te hou praat. Toe sy stil is, roep Hy hardop na die jongman op die naam wat Hy vir hom gegee het: “Adam, kom gou hier. Ek wil jou voorstel aan iemand baie spesiaal.”
Adam, die jong man wat deur God geskape is en toe in die tuin gesit is om al die diere name te gee, stoot die vyeblare heeltemal uit sy pad en stap in die opening in. Vir ʼn oomblik is selfs die voëls stil, en hoor jy net die stroompie se sagte gemurmel terwyl dit oor die rotse vloei. Terwyl hy uitstap sien hy hoe daardie pragtige amandelvormige oë van die wyfie wyd rek van verbasing, of dalk selfs vrees. Sy skarrel vinnig agter God se rug in, maar oomblikke later sien hy hoe sy nuuskierig na hom loer – die vreemde wese wat sommer so uit die bosse verskyn het. Wanneer hy met haar oogkontak maak, spring daar vuurrooi vlamme op haar wange uit. Adam het nog nooit so iets sien gebeur nie, en hy voel hoe sy hartklop versnel en hy kan sy eie hart hoor klop in sy ore. Sy sit haar hand voor haar mond om ʼn fyn gil te onderdruk, en raak weer weg agter God se rug. Adam wens sy wil weer uitkom, want sy is verskriklik mooi en hy kan nie ophou om na haar te kyk nie.
“Is dit die maat wat U gesê het U vir my sal vorm uit my ribbebeen?” vra Adam vir God. God knik bevestigend en vra dan vir die wyfie om op te hou om weg te kruip. Adam is baie ingenome met homself. Hy wens dat hy baie vroeër ingestem het om ʼn rib te offer. As hy net geweet het wat God daarmee sou doen sou hy lankal ʼn rib gegee het. As hy maar geweet het wat God gaan doen, sou hy selfs bereid gewees het om meer as net een ribbebeen te offer. Adam weet nou dat hierdie vrou uit sy ribbebeen gevorm is, ʼn ribbebeen wat God uit hom geneem het nadat Hy vir Adam in ʼn diep slaap laat val het. “Kan ek haar maar my “vrou” noem, want sy is mos uit my geneem?” In Adam se taal is “vrou” ‘n verbuiging van sy eie naam. Weer knik God bevestigend vir Adam. Adam kom staan langs God en steek sy hand vriendelik uit na die vrou. Versigtig steek sy haar hand na hom uit. Hy vleg sy vingers deur haar fyn vingers en trek haar stadig en saggies agter God uit en agter hom aan. Hy wil vir haar die trop leeus gaan wys. Hy is seker daarvan sy sal gek wees oor die welpies. Adam sit sy arm beskermend om haar as die groot maanhaar diep uit sy maag brul en die vrou agter hom versteen. Nog voor hy vir haar kan sê sy hoef nie bang te wees nie, het sy reeds die groot geel kat se kop begin vryf. Ingenome kyk Adam na die pragtige mens wat God uit hom gevorm en aan hom gegee het. Skielik onthou hy dat hy iets belangrik vergeet het. Hy draai haastig om en stap weer na die opening waar God nog steeds staan: “Baie dankie vir die wonderlike geskenk wat U my gegee het. Ek is baie lief vir jou.” God vryf Adam se hare deurmekaar en met ʼn stem vol liefde antwoord Hy die jong man voor hom: “Ek is net so lief vir jou ook Seun. Gaan nou en gaan wees ook net so lief vir my dogter.”




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed