Jongste aktiwiteit:

Vertroue

Vertroue is ‘n onderwerp wat al holrug gery is. Maar tog ‘n onderwerp wat belangrik bly. In my voorbereiding vir die volgende program het die onderwerp vir my uitgestaan. Eers het ek lank wakker gelê in die vroeë ure van Dinsdag oggend en gewonder wat om te sê, woorde het bly maal. Op Facebook het ek die gedig raak geloop van Drienie Joubert Kelly, en dadelik haar toestemming gevra; wat ek later sal voorlees. Daarna, het Lorraine du Plessis se dagstukkie my aangeraak later die dag. Lorraine is ‘n ou skoolvriendin en ons het mekaar weer raak geloop op Facebook na baie jare. Vir die laaste 5 jaar, elke oggend, soos klokslag deel sy ‘n dagstukkie met my. In daardie tyd was ek nog baie verbittered was en ek wou niks van enige bybelversies wou weet nie, maar sy het getrou gebly.
Vertroue is by tye iets mooi maar kan ook groot skade berokken. Vroeër of later val ons in die strik, soms onbewustelik waar ons vertroue geskend is. Dit voel soms of ‘n mens net nie genoeg leer oor hierdie onderwerp nie. Die enigste manier om onsself te vrywaar daarvan is om op ‘n eiland te gaan bly. Maar omdat min van ons dit kan bekostig is ons tussen mense, omring deur wantroue en leuens. Of dit nou ons vriende, mede werkers, kerkgangers, mense wat jy op Facebook ontmoet, of op enige ander sosiale platform is. Selfs familie val onder hierdie kategorie. Of hulle nou na aan jou is, ver, of die hoogste sport bereik het – jy vertrou of vertrou nie daardie persoon nie.
Om jouself af te skakel is dan nie eintlik ‘n oorweging nie. Juis omdat jy mense nodig het vir ondersteuning, kuiers en die alledaagse omgang daarvan hetsy deur werk, kerk en op sosiale gebied. Mense immers maak deure oop, help jou om vorentoe e beweeg.
Facebook maak dit ook nie maklik nie. Daar leef soveel mense met dubbel standaarde wat nie rerig uitgevang word nie. Dit is ‘n doolhof van inligting wat jou eintlik bitter min help. En omdat jy nie werklik met mense kontak het nie, al dink jy jy het, vat dit langer om agter die kap van die byl te kom.
Tussen skrywers word plagiate ook uitgevang, eerder later as vroeër. Selfs toe ek in die eiendomsbedryf was, moes jy lig loop. Elke klient of mede agent word met ‘n vergrootglas bekyk en op armlengte gehou. Jy steek dit net goed agter ‘n professionele benadering weg. Laas week is so ‘n persoon tussen ons skrywers uitgevang, maar reeds nadat hy al ‘n geruime tyd gedigte gevat het en onder sy eie naam publiseer het. Dit het een persoon gekos wat wakker genoeg was om dit agter te kom. Daardie persoon het die fluitjie geblaas as te ware. Maar die skade is gedoen. Vertroue is geskaad.
Tussen enkellopendes vat dit nog langer. Indien jy nie oop oë is en letterlik 24/7 op Facebook is nie gaan jy dit nie sommer agterkom nie. Daar is net te veel inligting, te veel groepe wat in geheimenis gehul is sodat ‘n persoon wat oneerlik wil wees daarmee kan weg kom, vir baie lank. Selfs te veel profiele. Mense wat agter hondjies, hartjies of Jesus prentjies wegkruip of fotos steel en voorgee asof dit hulle is. En wanneer dit dan wel gebeur maak so ‘n persoon die blad toe en verdwyn. Net om weer onder ‘n ander skuilnaam op te pop en voort te gaan met sy/haar speletjies. Want hy is veilig. Sy identiteit nog steeds onbekend.
Maar hoe beskerm die normale enkellopende persoon homself daar teen? Wanneer ons in ‘n verhouding is dan word ons as te ware beskerm teen sulke mense. In ‘n verhouding kan ons mekaar waarsku, vir mekaar bid en beskerm in gebed. Maar alleen is ons oop teikens. Dan is daar niemand wat jou rug beskerm nie en veg jy die stryd alleen. Indien jy nie vriende het nie dan is jy soos ‘n magneet vir die mense. En hulle sal alles doen om jou af te breek en indien jy vrae vra laat lyk of jy verkeerd is.
Vertroue kortom is die geloof in iemand se eerlikheid en opregtheid. Soos ‘n kind wat opkyk na ‘n ouer vir sy welstand, gesondheid, aanvaarding, en beskerming so kyk ons op na ‘n persoon. ‘n Persoon wat ons welstand en beskerming in ag neem. Wat ons aanvaar vir wie ons is. Maar wat ook bereid is om vir ons presies te vertel wat aangaan en ons aanvaar daardie persoon se woord, ongeag. Omdat ons hom vertrou.
Ek hou van die Suits tv reeks. Vertroue word baie duidelik deur die storielyn omskryf en geleef. Jy verstaan dit op ‘n visuele vlak. Die verhouding tussen en Harvey en Mike die anker van die hele reeks. Van die begin af het die twee mekaar geskaaf, mekaar beskerm en toe gelaat om mekaar te help ten koste van. Maar dit het hul verhouding sterk gemaak. Dit het nie oornag gebeur nie maar deur die opbou van ‘n paar seisoene.
A. Maar wat is vertroue?
1. Vertroue is ‘n gedragsoptrede wat ‘n ander persoon doen om jou te laat glo daardie persoon is eerlik. Ons kan maar kyk na die pas afgelope stemmery en die uitslae. Die leier se praat en aksies moet ooreenstem anders glo niemand hom nie. Om van enige platform te se jy is teen korrupsie maar word kort-kort uitgevang maak jou ‘n leuenaar. Met ander woorde jou aksies veroorsaak dat vertroue ingeboesem word.
2. Vertroue is ‘n waardesisteem dat een persoon jou sal beskerm, ongeag. Hy / sy het of dra net jou beste belange op die hart. Sy optrede bly altyd dieselfde. Soos ‘n Harvey met Mike. Indien daar ‘n menings verskil is werk hulle dit uit.
3. Vertroue is ‘n abstrakte bewustheid wat jou laat glo ‘n persoon is betroubaar. Dit is nie iets wat jy aan iemand kan verduidelik nie want elkeen se gewaarwording is anders.
4. Vertroue wek ‘n gevoel van selfversekering en veiligheid by jou. Jou uitkyk verander, jy waag meer, doen meer want jy weet daar is iemand wat in jou glo. Die persoon kyk verby die normale en sien jou potensiaal raak. Wanneer iemand omgee gee dit jou vrymoedigheid om terug te baklei.
5. Vertroue is ‘n innerlike gevoel wat al jou emosies saam vat in een woord. Dit verwoord jou siening oor iemand en ander kry ‘n duidelike boodskap.
6. Vertroue is nie ‘n absolute wetenskap nie. En jy gaan nie noodwendig dieselfde persoon vertrou vir elke area van jou lewe nie. Jou man of vriend mag dalk ‘n baie goeie raadgewer wees maar sy kleur skemas is om dit reguit te sê, aaklig. Of hy weet niks van modes af nie. Dan het jy ‘n ander vertroueling daarvoor.
B. Wat sê die Bybel oor vertroue?
http://www.bybelkennis.co.za/wat-se-die-bybel-oor-vertroue-francois-malan/
Prof Francois Malan op die Bybel kennis webwerf beantwoord hy dit op die volgende manier:
“Sonder onderlinge vertroue kan ons nie lewe nie – ek vertrou die kos wat ek eet is nie vergiftig nie, anders sal ek nooit eet nie (maar dit kan gebeur); ek vertrou die kar wat aankom gaan by die rooilig stop, anders kan ek nie ry nie (maar soms gebeur dit wel). As mense my nie vertrou nie, sal ek nooit ’n werk kan kry nie, en geen vriende kan hê nie. Maar die aanleiding tot die vraag gaan eintlik oor wat die Bybel sê oor vertroue in mense, engele, ens.”
Die Bybel praat baie oor God wat ons absoluut kan vertrou, nie om óns wil uit te voer nie, maar om sy wil met ons deur te voer (wat soms met my wil kan ooreenstem, maar dikwels nie, en dan het die Here iets beters vir my in gedagte).
C. Wat is die geheim van vertroue?
Volgens Tommy Lessing se WordPress webwerf is dit die volgende:
Wanneer daar nie ‘n verhouding is nie, is daar ook nie afhanklikheid nie. Wanneer daar nie afhanklikheid is nie, is daar nie vertroue nie.
Afhanklikheid van God in ons daaglikse lewe bou ‘n sterk fondasie van vertroue. Dit maak weer die deur oop vir geloof wanneer jy dit nodig het. Ons moet ons daaglikse wandel instel op ons afhanklikheid van God.
Wanneer daardie vertroue gebreek word voel dit letterlik soos lemme wat in jou rug gesteek is. Drienie het dit werklik mooi saam gevat in haar gedig. Dit laat ‘n brandmerk van onthou wat altyd by jou bly. Soos ‘n vrou wat verneuk word. Sy is altyd op haar hoede, maak nie saak hoe goed die nuwe man lyk nie, sy gaan wonder, hom toets etc. Dit hang dan van daardie man af om haar reg te benader. Indien nie gaan die verhouding stop nog voor dit begin het. Dit is nie ‘n skakelaar wat sommer net afgesit kan word nie.
Hierby wil ek ook ‘n punt los aan die manne wat inluister. Wanneer ‘n vrou uit ‘n verbrokkelde verhouding wegstap het sy tyd nodig om te genees. Om haar te dwing om aan te beweeg sodat jy jou sin by haar kan kry is ‘n resep vir verloor. En jy is die een wat gaan verloor alhoewel jy nie so dink nie. As jou bedoeling eg is, gee haar tyd. Wees haar vriend. Moenie die onmoontlike verwag nie. Jou houding en omgee wek vertroue.
Vertroue kan ons siening van die lewe beinvloed. Dit kan ons depressief, en negatief laat en ons ploeter voort in ‘n donker wêreld, altyd soekend. Maar wanneer ek iemand vertrou gee dit my daardie ekstra krag om voort te gaan. Om die wêreld te oorwin.
Daar sonder is ons uitkyk baie leeg. Dit vat tyd om vertroue te bou. Nie elke persoon wat jy ontmoet of toelaat in jou lewe sal jou vertroue ontvang nie. Jy kan mense al jare ken en geen vertrouens verhouding hê met die persoon nie. Jy kan iemand net ‘n dag ken en hom of haar vertrou met jou lewe. Soms word jy in situasies gesit waar jy ‘n persoon moet vertrou vir die volgende stap in jou lewe. Hoe ook al, dit is ‘n alleen pad vol strikke. Daarom is dit belangrik om die regte ondersteuningsgroep te hê. Te praat en vrae te vra. Niemand kan jou gedagtes lees nie. Deur vrae te vra bekwaam jy jouself. Deur op te lees veroorsaak dat jy waaksaam word en ingeligte besluite kan neem. Moenie halsoorkop in ‘n ding in stap nie. Die meeste van die tyd sal dit ‘n duur les wees.
As enkellopende persoon is hierdie valstrikke selfs nog meer. So kom ons vra ‘n paar vrae.
1. Wat is jou behoefte in ‘n maat of vriend?
2. Moet julle saam die lewe kan geniet?
a) Is hy ‘n buitelug mens of huismuis?
b) visvang, kamp of tv mens?
c) besoek graag market, kunsgallerye, biblioteek, klein dorpies?
d) drink of rook hy?
3. Kan julle gesels, selfs oor die dinge wat onsmaaklik is op ‘n volwasse manier?
4. Is julle uitkyk dieselfde?
5. Hoe voel julle oor die politieke toestand in die land?
a) Wil hy die land verlaat?
b) Sal jy dit saam met hom doen?
c) Watter land, voel julle eensgesind daaroor?
6. Deel julle stokperdjies?
7. Kan julle mekaar vertrou, al is julle nie bymekaar 24/7 nie?
8. Is hy/sy standvastig in hul sieninge? Of word hulle maklik beinvloed?
9. Kultuur, geloof, ras, politiek – het jy ‘n siening daaroor?
10. Kinders is nog ‘n belangrike punt, hoe voel julle daaroor?
11. Indien daar kinders is, hoe voel julle oor dissipline? Dit kan ‘n verhouding maak of breek.
12. My goed vs jou goed? Hoe sal dit werk?
13. Hoe voel julle oor besigheid, kan die persoon my ondersteun?
14. Godsdiens – hoe belangrik is dit in die nuwe verhouding?
15. Hoe voel julle oor die seksuele sy van die verhouding? Dit is belangrik om hieroor te praat i.p.v om net in die bed te val.
Dit is baie vrae, maar noodsaaklik vir die voort bestaan van jou bestaande verhouding of voor jy met een begin. Net jy alleen weet die regte antwoorde vir elke vraag. Jy weet wat werk vir jou en wat nie. Hoekom het jou vorige verhouding verbreek? Hoe kan jy dit verander? Of is dit in jou vermoë om dit te verander? Is net ‘n paar punte om by te begin. Indien jy nie jouself kan vertrou nie hoe verwag jy moet ander jou vertrou.
Wanneer jy die dinge uitgewerk het kan jy vorentoe beweeg. Dit wek vertroue en samehorigheid by ander. Dit gee jou die nodige sekerheid om voort te gaan of eerder te stop. Soms kan iemand die beste en ‘regste’ woorde sê maar op die ou einde werk dit nogsteeds nie uit nie. Hoekom nie?
Omdat julle verskille groter is as die ooreenstemmings. Julle doelwitte is verskillend, en i.p.v om dit reg te hanteer maak julle mekaar seer en doen of sê onvanpaste dinge. Soos ons groei verander ons sienings ook. Jy mag dalk nie nou goedsdienstig wees nie maar môre kom jy tot bekering. Om net een voorbeeld te noem. Jy mag dalk nou werkloos wees en oor môre werk kry wat jou situasie verander. Dit alles speel ‘n faktor.
Die grootste punt wat ek wil byvoeg is, moenie beloftes maak sonder om deeglik daaroor te dink nie. Maak seker van jou feite. Gee ag op jou self en jou eie situasie. Moenie dinge belowe wat jy nie kan doen nie. Wees eerlik met ander en met jouself. Moenie ‘n ja-broer word nie. Dit is hoe baie opeindig met die verkeerde maat of gehou word aan iets wat jy nie in staat was om te doen nie. Want jy was eintlik dwaas in jou beloftemaking.
Iets anders wat ek hierby wil noem, weereens vir die manne – jy kan nie een vrou vra om met jou te trou en dan nog by ‘n ander vrou slaap nie. Jy is vals teenoor albei en sal uit gevind word. Jou woord is nie jou eer nie en jy wonder hoekom is jy alleen.
Jou aksies en reaksies bepaal of mense jou kan vertrou.
Om saam te vat. Wees ‘n betroubare persoon. Wees waaksaam en versigtig maar moenie dat dit jou weerhou van ware Vriendskappe nie. Soek antwoorde op die regte plekke en moenie blindelings vertrou omdat die persoon die regte woorde gebruik nie. Toets die persoon. Net soos wat jy God soms toets, gooi die vliesie uit en maak seker voordat jy seer kry. Bewaar jou hart meer as enige iets in hierdie lewe. Jy kan hom nie heel maak deur salf en ‘n pleister nie.
Jou vertroue is duur moenie dit uit deel soos smarties nie.
Tot ‘n volgende keer liewe vriendinne, skitter net waar julle is.
Kopiereg voorbehou
Kunstenaar van prentjie onbekend.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed