Naggedagtes
Wat is trane dan, meer gevoel as blote water
en is hunkering net ’n dieper soort verlang?
Hoe is hartbreek seerder as ’n wond wat klop?
Dalk is skeiding iets anders as ’n duisend myl;
is vrees die uiterste van bang.
Ek vrees verliese.
Ek vrees dit, dat jy weg sal gaan.
Is heen en weer se skoppelmaai
’n reis wat aan ’n groot boom swaai –
’n vlug deur hemele, oor lande?
En is die arms wat my keer en weer
momentum gee
meer as net twee arms –
spiermotore met ’n hart?
O laat my vlieg, die bloue ruimtes in
deur elke vreugde, al ken ek smart.
Maar
vang my, as ek wederkeer
vang my vir ’n oomblik
in die omgee van jou hande.
© Carma Shaw
5 Oktober 2019
5:50
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Seirdna
Jy mag maar