2020 deur my oog
net na eerstelig
trek die son sulke ragfyn strale
oor die diep blou hemeltrans
met die eerste sonsopkoms van twintig twintig
lê my duin stil en oral oor die land se kant
weerklink die stilte uit wit huisies
na ‘n nag van jolyt
meeue oes ongestoord voort
aan al wat eetbaar is wat in die water dryf
skep slakke op en gooi dit neer
sit dan en smul op strand
wat wag op die mens in hierdie nuwe jaar
‘n wêreld van humeure, geldsug en dalk oorlog
sou ons volk weer ‘n gesig kan wys hierna
staan ek op my knieë en bid peinsend
sal die Lig hierdie jaar nog deur ons skyn
sal ons dit kan weerkaats om ons en oor ander
mag ons hierdie jaar eers om ons vee
voordat ons die ander se stof sien
©Teárlach
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.