Die Enigste Waarheid
Die Enigste waarheid
soos ń idioot het ek hier beland
opsoek na waarheid
in oorgroeide vergetelheid,
het ek geglo in ‘n dieper wysheid
in dogmatiese skrifte verstrengel
bloedgraveerde wette
oordeelsklokke wat altyd beier
gebrande glas wat staar
stapeltorings wat inperk,
gevange hou…
ambisie omvorm deur justisie
kerklik ingeperkte perkament
uitgerol op mosvloer onder voet…
is ek terug om verlede af te lê
om geestelike boeie te breek
om vernuwing na te streef
om nuutmaking na te volg
staar ek na Drie Eenheid
verhelder, verlig, verhewe –
skyn Sy lig oor alles wat wás!
want wat ís, wás ook reeds
wat reeds wás, sál weer wees
en elke maaksel sal terugkeer,
terugkeer na sy Maker.
sal weer die weg vind,
die weg van een Waarheid alléén
die Weg wat alles en almal
tot in alle ewigheid verbind.
©️Bonita van der Berg
19/03/2021
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.