Draai van ‘n seisoen (Silwer)
“As ek moeg word vir die lewe se gewoel …”
Soms het mens nodig om bietjie weg te breek. Om weer stil te kan word en die eenvoud en ongekunsteldheid van die barre natuur te voel en te beleef. Geen boom kan vir ewig bly voortbot en -groei nie. Daarom is daar seisoene, ‘n tyd vir groei en ‘n tyd vir rus en vernuwe.
Dit het ek weereens besef toe manlief uit die bloute voorstel dat ons vir ‘n week moet gaan uitspan op ‘n wildsplaas in die hartjie van die bosveld. Hy kon seker sien hoe my blare begin afval. Hoe ek kaalgestroop en verwese oral skuiling soek.
Hy het besef en het behoefte aan ‘n plek waar die stilte en rustigheid diep in my gemoed kom trap en fyn stofspoortjies agterlaat. ‘n Plek waar my blare in vrede kan afval, sonder dat iemand die kaal, gelittekende stam raaksien en bevraagteken.
‘n Plek waar ek die natuur kan hoor en toelaat dat dit my sintuie afstof en opnuut bekoor.
Wanneer mens diepstil word en selfs jou binnelawaai hokslaan, hoor jy die fladder van sielsmoeg-blare op maat van die lied van die natuur. Bome wat saggies fluister, hul takke swaaiend in die wind, met blare wat dansend applous op elke fluisterkraak.
Soggens, wanneer die son sy perskewang oor die rante stoot, hef verskillende voëlspesies hul loflied aan om die nuwe dag vrolik te verwelkom. Skarrel grondkruipers tussen die verweerde blaretapyt.
Hoor mens die proes van ‘n bok wat naby wei, die skwatter van eekhorinkies in die bome hier bo jou wat luidkeels oor een of ander iets gesels of stry.
En as mens gelukkig is, sien jy die lui, gemaklike gang van ‘n kameelperd wat stadig, statig verbystap, stil gaan staan en sy kop draai om jou vanuit die hoogte met sy groot langwimperoë stip aan te kyk terwyl sy tong krul om die laaste groen blaartjies wat nog verwoed vasklou.
Niks jaag mens nie, tyd is geen faktor nie. Geen dringende e-posse of telefoonoproepe wat wag of gemaak moet word nie. Geen tydrowers wat jou natuurlike gang kom stuit nie.
Met ‘n stomende beker koffie groet ek die dag en kan vir ure buite sit en net luister. Die vrede om my dorstig indrink en my siel verkwik met die lied van die natuur. Salf smeer aan my kaal stam, waar gister se blare reeds afgeval het om plek te maak vir ‘n nuwe seisoen.
Na ‘n salige dag van ontspan sit ek terug en staar na die dansende vlamme van ‘n knetterende vuur wat saamsmelt met die naggroet van die natuur, voordat ‘n swart wolkombers dig oor alles trek.
En wanneer alles uiteindelik tot ruste kom, die blarefluister minder word, hoor ek die veraf huil-roep van ‘n jakkals wat ontwaak. Sal hy my seisoensverandering merk of maak dit vir hom geen saak?
©Driekie Grobler
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2021 – As die blare val projek