Jongste aktiwiteit:

As die geestesgesondheid-blaartjies begin val

Ons sit langbeen en kiertsregop op die vloer en luister na die eentonige stem van die instruktrise. “Lift your arms high above your head and take a deep breath innnnnn and outttttttt – phwwwwww. Again. Deep breath, releasing all resentment and anger”. “I am in love with my life.”

In plaas daarvan om met geslote oë in ʼn beswyming te sit, hou ek eerder die geel akkerboom buite die venster dop. Met die naderende winter is die blare al mooi geel en wanneer die wind speels daardeur roer, dwarrel dit vrolik grond toe. Herfs – my gunsteling-gunsteling tyd van die jaar. Maar deur my wimpers hou ek ook die instruktrise dop en saam met die mooi blaar-gedagtes, gooi ek vlymskerp dolke in haar rigting. Hierdie “positive affirmations” waar Unicorns pienk spookasem-wolkies en reënbogies p**p, maak my wiele vandag meer as gewoonlik pap.

Dit is so dat mens se gedagtes jou dag mooi kan tooi of jou hele lewe in ʼn kits kan omkrap maar om jouself te oortuig dat jy nou nie eintlik so die duiwel in is vir sekere goed wat onophoudelik skeefloop nie, is dieselfde as om net ʼn mooi pleistertjie op ʼn gapende wond te plak. Ek kan al die soetste glimlaggies op my gesig plak en hul agterend lek, maar dit help niks as die personeel te onbevoeg is om hul werk behoorlik te doen nie. Vir drie maande lank smeek en soebat ek vir internet en die verskonings is legio.

Die stryd het reeds laat somer begin en nou is die heerlike herfsdae besig om vinnig korter en kouer te word. Eers kon hulle nie ons huis kry nie en ek slaan my hande in stomme verbasing saam. Die gebou is immers al meer as twee dekades oud en die woonbuurt aansienlik ouer, so hoe op dees aarde kan hulle nie hierdie straatadres opspoor nie? Die kersie op die koek is dat enige ander mens met meer as drie breinselle dit sonder moeite vind want hier was alreeds ʼn hele paar besoekers en koeriers, maar volgens Telkom bestaan die adres nie. Uhm, ja. En die aansoek vir internet word summier gekanselleer – sonder om ons in kennis te stel natuurlik.

Ano is nou nie met ʼn oormaat geduld gebore nie en haar bloeddruk styg by die dag – nie net oor die maatskappy se onvermoë nie, maar ook oor Hubby se oormaat geduld en sy volstrekte weiering om iemand met die probleem te konfronteer. Net voor my bloed kookpunt bereik, storm ek die naaste Telkom tak binne en eis ʼn verduideliking. Ons het immers nou al ʼn tweede aansoek ingedien en kry steeds geen reaksie nie! Dit is ook al meer as ʼn maand en my hele lewe lê in skerwe.

Geen welkome ontvangs van die ongeskikte klerk nie want sien, ek is maar net Hubby se vrou en daarom nie waardig om navraag oor ons rekening te doen nie. Never mind dat die stempel op ons huweliksertifikaat al meer as drie dekades oud is en ek amper meer van sy sake af weet as hyself, maar dit beïndruk die klerk nie ʼn dooie duit nie. As die houer van daardie ID nommer nie self sy opwagting maak nie, kan/sal/wil hy ons nie help nie, sorry.

Met groot moeite en onder dwang sleep ek my half-dood eggenoot aan die punt van sy oor terug na hierdie kantoor toe, net om uit te vind : jul (tweede) aansoek is gekanselleer – sonder rede en sonder om ons in kennis te stel natuurlik. Was dit nou so moeilik? Kon hy nie maar net sy vingers op die rekenaar se toetse gedruk het en dit vir my gesê het nie? Moes ek nou wragtag deur al die drama gaan, Hubby se gramskap op die hals haal omdat ek hom onder soveel onnodige druk plaas en petrol mors, net om te hoor dat ons aansoek alweer sonder rede gekanselleer is?

Na agt verwysingsnommers en drie keer wat die aansoek in rookwolkies opgaan, sien ek niks anders as rooi nie. Ek stel ʼn ultimatum aan eggenoot : ʼn ander diensverskaffer (ONMIDDELLIK) of ʼn egskeiding/moord – jou keuse. Geen verskonings en “nog ʼn kans” nie. Niks, nada. Hiervandaan is daar net een afdraande pad en dit lyk nie mooi nie. My hart klop so wild dat ek begin wonder waar die naaste hospitaal is, maar ek weet ook dat dit alles deur my gedagtes aangevuur word. My geduld het die einde van die pad bereik en gaan daardie pienk Unicorns en klein pleistertjies werklik keer om by die kern van die probleem uit te kom en ʼn kalm oplossing vind? Ek haal diep asem en blaas dit hoorbaar uit, maar my gedagtes steek vas en my hartklop wil net nie stadiger nie. Teen hierdie tyd wil ek ook soos ʼn barbaar tekere gaan en ʼn plek gaan afbrand, verkieslik ʼn Telkom kantoor.

Dit lyk my die pad tronk toe word nou vinnig uitgestippel, ek moet net die roete kies. Skielik kan ek voel hoe my eie blaartjies ook een na die ander begin val. Toe hierdie lewensaar opgedroog het, het my geestesgesondheid ook onverwags gekantel en in groot moeilikheid beland. Hoeveel keer het ek al gewonder hoe die mens ʼn paar dekades gelede sonder internet oor die weg gekom het? Dit is nou al so lank gelede dat ek byna nie meer kan onthou dat daar ʼn tyd was toe ons in ʼn ry moes staan om elektrisiteit te koop en rekeninge betaal, of ʼn telefoonboek moes gebruik om ʼn adres of telefoonnommer op te soek nie. Ek het selfs van ʼn padkaart gebruik om ʼn nuwe bestemming te bereik! Daar was ook gewoonlik ʼn kantoor wat jy kon besoek met ʼn versoek of klagte, maar Covid het seker gemaak dat jy nie sommer-maar-net by ʼn besigheid kan instap nie en alles moet per telefoon en e-pos onderhandel word. As jy nou nie toegang tot daardie dienste het nie, is jy pretty much screwed, jou handjies afgekap. Dit krap nogal jou balans in die lewe lelik deurmekaar.

Internet het soos ʼn vrou se handsak geword : die plek waarin jy jou hele lewe ronddra. Van bankkaarte en beursie tot by haarknippies en alles tussen-in. Alles wat enige tyd, enige plek nodig gekry mag word, behalwe die hond natuurlik. Internet is miskien nou net ʼn baie groter handsak, maar die beginsel bly dieselfde – dis jou lewensaar na die buitewêreld. ʼn Kabeltjie met draadjies so fyn soos spinnerakdrade en ʼn paar liggies wat brand kan jou hele bestaan vergemaklik of omkrap. Na drie maande is my besigheid in sy aai, sukkel om elektrisiteit gekoop te kry, kan nie banksake doen nie en kan slegs met groot moeite e-pos ontvang en antwoord.

Ek wonder of daar internet toegang in die tronk is?? En as ek maak of ek mal is, sal ek my eie rekenaar kry? Of wag, liewers nie probeer nie, dalk word die toegang tot die wyer wêreld ook bietjie beperk.




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed