Jongste aktiwiteit:

Lentemooi (Silwer – 480 woorde)

Een van die doendinge op my wenslysie was nog altyd om eendag blomme te gaan kyk. Daardie blomme, doer ver in Namakwaland, waaroor almal so liries raak en ek nog net op foto’s kon sien.
Toe realiseer hierdie wens onverwags. Aan die begin van September (hierdie jaar) kry ons, dis nou manlief en ek, die voorreg om af te toer Kaap toe. Vir die eerste keer beleef ons die mooi van die Kaap in wintertyd. Wat ‘n oogfees!
Ons is op ‘n koue, Gautengse wintersoggend weg uit ‘n vaal, besoedelde omgewing, met amper 900 km se eentonige winterveld as omtrent enigste besienswaardigheid langs die pad. Het ‘n nag oorgeslaap in ‘n yskoue Carnavon, met die temperatuur onder vriespunt. Maar toe ons motortjie se wiele die volgende dag die Kaapse skoonheid tref, veral vanaf Calvinia, was my mond permanent oop van verbasing en my tone gekrul van lekkerkry.
Alles is groen en oral spog die veld met sy Josefskleed. My ge”oe” en “aa”; “kyk daar!”; “kyk hier!” het manlief later begin irriteer, maar mettertyd het ek hom net so liries gehad, soveel so dat ons kort-kort langs die pad stilgehou het om foto’s te neem. Ons was soos twee kinders wat op ‘n skatkis afgekom het. Hoe verder ons gery het, hoe mooier het dit geword.
Oral waar ons afgepak en gekuier het, Hopefield, Somerset Wes, Bredasdorp, Swellendam, en nog so ‘n paar ander plekke, is ons met trots rondgevat om ons versadig te kyk aan die mooi van die Kaap. Die plate en plate geel Canola-lande het uitgestaan tussen die kleurvolle blommeprag in die veld en teen die berge. Oor die berge kan ek natuurlik lofliedere sing. Ek was nog altyd gaande oor berge, en dis nêrens in die wêreld mooier as in die Kaap nie, veral hierdie tyd van die jaar.
‘n Hoogtepunt was ons besoek aan Vergelegen, by Somerset Wes. Die tuine is asemrowend mooi en ek het soos “Alice in Wonderland” gevoel. My siel is oorvoed met skoonheid, met ‘n diepe besef van hoe groot die Skepper van al hierdie mooi is.
Na ‘n heerlike vakansie, met ‘n arsenaal foto’s as bewys en herinnering van dit wat ons beleef het, het ons die terugtog aangepak. Deur die vaal, plat Karoo, met sy eie unieke bossie-skoonheid, tot by ons eie heimat.
Die raaksien van soveel ongekende skoonheid en blommeprag het weer iets in my wakker gemaak. Dit het beslis my “raaksien” verbreed, want nou kyk ek verby die alledaagse vaal en sien weer ons eie mooi raak.
Teen begin Oktober het die Jakarandas begin blom en hierdie jaar is dit besonder mooi. Verwonderd ry ek deur Pretoria se strate en verlustig my aan die blou-pers blommeprag. Ek neem foto’s en spog ook op Facebook oor óns eie lentemooi. Daar is groot waarheid in die Engelse spreekwoord wat sê: “The beauty is in the eye of the beholder.”
©Driekie Grobler




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed