Jongste aktiwiteit:

As die berge roep

 

Lente skrik wakker. ‘n Korset van onheil druk om haar bors, kompleet asof sy weer gedroom het.  In die donker gloei 05:00 rooi op die bedkassie.  Onverwags vul die Groot Mars uit Aida die slaapkamer.  Dawie se slaperige stem beëindig die musiekuitvoering.

“Waar? …  Waar’s jy nou? … Ek kom dadelik!”

Tussendeur hoor Lente  slegs “Bergbrand … net na middernag … almal se volk slaan brand.”

Dawie praat vinnig, terwyl hy blitsig terugklim in die klere wat hy gisternag langs die bed laat val het.

“Dit was Willie.  Daar’s brand.  Hy’s al oor Jaco se grond.   Hy’t ‘n deel van sy wingerd verloor.  Dit brand nou op Kobus se plaas.  Die wind maak dit moeilik.  Jy moet vir Mientjie bel as jy iets wil weet, ek sal jou ook op hoogte hou.” Hy piksoen haar wang so in die draf en gryp die bakkie se sleutels. Die agterdeur slaan toe.  Sy brandplakke lê altyd op die agterstoep.  Lente hardloop agterna, Dawie se selfoon in haar hand, maar sy wiele skop reeds klippers op teen die afdraand plaaspad. Haar bene vou onder haar in en sy gaan sit verlam op die rand van die bed.  “Hemelse Vader, U is almagtig.  Bewaar ons elkeen asseblief vannag.”  Sy voel hulpeloos. Daar is niks wat sy kan doen om te help nie.

 

Vandat hulle hier bo-op die berg gekoop het, is bergbrand Lente se grootste vrees.   Dawie het juis verlede week gesê die fynbos bou op.  Die brandbeskermingsvereniging het boere verbied om voorbrande te maak, selfs dié met permitte en bossiekappers kan ‘n vonk veroorsaak, sou die lemme teen ‘n klip kap.  Elke Februarie gaap die kraaie en hierdie jaar is die droogte op sy felste.

Lente dink aan die beklemende gevoel wat haar wakker gemaak het.  Haar eienaardige droom van golwende vlamme wat haar soos wilde diere jaag.  Sy hardloop, maar die vlamme is vinniger en sy kan nêrens skuil nie.  Sulke nagte skud Dawie haar wakker.  Snags as sy wakkerlê, wonder sy wat mens in ‘n kort tydjie sal gryp om saam te neem.

Die wind ruk-ruk aan die sinke op die dak.  Lente strompel kombuis toe en sit die ketel aan.  Jeb moet inkom.  Die hitte stuit haar soos ‘n muur toe sy die voordeur oopstoot.  ‘n Sieklike oranjegeel glans verkleur die donker en die wind dra ‘n sterk rookreuk.  Sy streel die onrustige donkerbruin Africanus om sy ore, haal ‘n snoephappie uit die blikkie en maak al die vensters dig toe.  Sy dink aan hulle agt-en-sestig hektaar plasie.  Op ‘n dokument het daar twaalf haar gelede gestaan “Nie geskik vir landbou nie.”  Hulle het vir die uitsig gekoop; die hoë lappie grond tot op die kruin van die berg.  Dawid en sy het self die werkershuisie opgeknap, ‘n stoep voor en agter, asook ‘n gerieflike kombuis en badkamer aangebou.  Die eenvoudige huisie met die fynbostuin hou vir haar ‘n bekoring in.  Dawie en sy het sonder hulp vierhonderd gate gegrawe en klein olyfboompies geplant.

 

Sy skakel vir Mientjie om te hoor of sy al iets gehoor het.

“Toe ek laas met Willie gepraat het, het die brand van Kobus se plaas af wyer  versprei.  Hulle het groot skade, maar die huise is nog buite gevaar.”

“Het hy iets van Dawie gesê?  Is hulle veilig?”

“Klink vir my hy en Dawie is nie saam nie.  Die grondspanne is wyd verspreid.  Hy het gesê dit gaan maar moeilik in die intense hitte en die wind is onvoorspelbaar.  Willie sê die boere en die brandbeskermingsvereniging het vir lug-ondersteuning gevra.  Dit sal baie makliker gaan ná dagbreek as die helikopters water uit die half vol opgaardamme kan skep.  Ai, die droogte … Lente, my vriendin, ons kan maar net bid vir beskerming vir die brand- en reddingspanne en dat die wind sal gaan lê.”

 

Lente weet dat die helikopters nie kan opstyg voordat die wind bedaar het nie.  Skielik voel dit vir haar asof sy in haar droom is.  Vir die eerste keer word die droom vir haar werklikheid.  Sy onthou ‘n kartondoos in ‘n donker hoekie onder Ouma Essie se rakke vol ingelegte vrugte en konfyt.  Sy was bang.  Almal het na haar geroep, maar sy was te lam om te beweeg of ‘n geluid te maak.  Daar was groot vlamme op Ouma en Oupa se plaas.  Mamma het bly roep en roep.  Sy kan niks verder onthou nie.  Dan onthou sy skielik van die groot swart wat al om die huis gelê het en dat haar ma vir ‘n paar dae weg was.  Niemand het ooit weer van daardie dag gepraat nie.

Sy hoor die ritmiese polsing van die eerste helikopter se lugskroef.  Verlig merk sy dat die wind gaan lê het.  “Dankie Hemelse Vader!”   Sy wip van die skrik toe die Groot Mars van Aida laatmiddag opklink.  Lente druk die antwoordknoppie gretig.

“Dawie!  Ek weet nie waar jy nóú is nie, maar maak dat jy by jou huis kom!  Julle moet dringend ontruim.   Die pad daar van julle af, na die pas toe, brand nou aan weerskante.  Julle moet maar dieper berg in,” skree Willie se stem gejaagd.

“Dawie, waar ís jy?” prewel Lente bekommerd.  Sy gryp hulle dokumente en skootrekenaarsakke, prop sommer hulle kroniese medikasie ook daarin.  Sy druk ‘n stel skoon klere vir Dawie in ‘n inkopiesak.  Sy sit alles by die voordeur neer saam met ‘n kan vyf liter water.  Lente sukkel om die onrustige Jeb se harnas aan te knip. Sy moet seker ook maar aantrek, dink Lente en skakel die radio aan vir geselskap.

”die Kaap, die Kaap, die Kaap se berge roep

maak, maak die sluise van die hemel oop,”  

sing die refrein van Bok van Blerk se liriek.

 

“Dawie, Dawie!”  Haar onrus veroorsaak woede.  Is hy dalk beseer?  Verlig hoor sy die bakkie op die grondpad aankom.

“Sping!” Hy gooi alles agter op die bakkie.  “Paul het ons genooi om by hulle te bly totdat die brand onder beheer is.”

“Jeb sit binne,” sê Lente ferm.  Die son is onsigbaar, verskans deur verstikkende rook.  Haar longe brand. “Dawie!” roep sy beangs uit.

“Toemaar, ons is veilig.  Die bloekombome en digte fynbos is brandstof vir die vuur,” sê Dawie uitgeput.  Sy klere en lyf lyk so verinneweer dat dit Lente se beskermingsdrang wakkermaak en sy plaas haar hand op sy knie.

 

Daardie nag, terwyl hulle slaap, maak die sluise van die hemel oop. Die reën giet tot vroegoggend.  ‘n Wonderwerk in Februarie.

Later ry Dawie en Paul om na die skade op hulle plasie te gaan kyk.

“Die brand het oor ‘n groot deel van die plaas gehardloop, maar is onder beheer.  Die veld smeul nog oral.” Sê Dawie.

 

Twee dae later keer hulle terug.  Lente sien die groot swart al om haar.  Hulle ry met die kronkelpad teen die opdraand uit.  Dawie praat nie.  Die olyfboord is verwoes en die watertenke is gesmelt.

 

Hulle staan verslae op die voorstoep.  Die plasie is onherkenbaar verniel.  Verstom sien Lente skielik waar die brandlyn gestuit is.  Die groot swart eindig slegs 2 meter van die voorstoep af.  Die berge het betyds geroep.

“Dankie Hemelse Vader, dankie,” fluister sy.  Sy slaan haar arms om Dawie se lyf.  Hulle sal weer oor begin.

Dawie en haar skuilplek is veilig.

 

© Rika Gerryts

(1200 woorde)

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed