Daar’s iets in jou kraan
(Woordtelling : 711)
Venterstad, ʼn rustige plattelandse dorpie in die Karoo waar die beeste in die strate stap en die hoenders vir kos op die sypaadjies skrop. Boerbokke help hulself sommer aan die plantjies uit die tuine. Ten spyte van die somerhitte, is die inwoners vriendelik en hulpvaardig.
Dit is nou nie juis die dorp wat aandag trek nie, behalwe vir die feit dat dit langs die Gariepdam geleë is, die grootste dam in Suid-Afrika. Om dit kortliks op te som, Venterstad is die algehele teenoorgestelde van ʼn stad. Daar is nie ʼn bank op die dorp nie en die dokter kom net een maal per week besoek aflê. Die enkele winkeltjies op die dorp hou ook net die nodigste produkte aan.
Om op ʼn klein, stil dorpie te woon is egter glad nie die probleem nie, maar die groot skande is wel dat dit reg langs die Gariepdam geleë is en die omliggende dorpe se krane het spinnerakke in plaas van water in. Kersfees van 2024 sal seker altyd onthou word as die tyd toe daar vir 20 aaneenlopende dae nie ʼn druppel water uit die krane geloop het nie. Die kraaie het gegaap en die mense het verstom gestaan.
Gedurende 2024 was die krane vir ʼn skrikwekkende 128 dae dolleeg. Dit is ʼn volle derde van die jaar! As dit nie was vir die boorgate van ʼn paar inwoners en twee kerke nie, was Venterstad seker lankal ʼn spookdorp.
Dit moet nogal frustrerend wees om te sien dat die Gariepdam van kant tot wal blink staan van die water, maar die moedelose inwoners word gedwing om kilometers ver te stap, net vir ʼn paar broodnodige liters. En dit gebeur dag na dag, week na week. Jou hele lewe en denkwyse draai later om daardie volgende stap in die bakkende son, net vir nog ʼn lekseltjie water.
Intussen trek die Joe-Gqabi-distriksmunisipaliteit wat Venterstad, Burgersdorp, Steynsburg en Maletswai insluit, net hul skouers op, maak groot beloftes en verder gebeur daar maar eintlik niks. Een van die dorp se vier bergingswatertenks loop letterlik oor terwyl die ander drie dolleeg staan. Ten spyte van groot beloftes word die toevoerpype net nooit vervang of reggemaak nie.
Die munisipaliteit is ook nie oorgretig om watertenks na die dorp aan te ry nie, en die ongelukkige inwoners moet maar self sien en kom klaar.
Hier was dit egter nie ʼn groot droogte se skuld nie, maar die munisipaliteit se onkundigheid en onwilligheid om iets aan die saak te doen. As dit nie ʼn sogenaamde watertekort is nie, is die krag af en kan die pompe nie werk nie. Of die pype het onderhoud nodig en die parte moet van die groter plekke aangery word. Soos met baie ander probleme in hierdie land, is daar altyd ʼn lamlendige verskoning. Vergaderings met die burgemeester, munisipale bestuurders, raadslede en ander “waterkenners” los bloot nie die probleem op nie.
Die feit bly staan dat daar altyd ʼn verskoning is, enigiets behalwe om verantwoordelikheid te neem vir die aanstel van onbekwame personeel. Almal wil ʼn sewe- of selfs agt-syfer salaris hê, maar wil nie hande uitsteek om dit te verdien nie. Elkeen dink hy het die wêreld se kennis, maar weet selde hoe min hulle eintlik weet. En niemand wat iets weet is bereid om hul nek uit te steek en dit hardop te sê nie. Sulke uitsprake, waar of onwaar, mag jou werk kos.
En hierdie watertekort in Ventersdorp is nie ʼn onlangse probleem nie, maar iets wat jaar na jaar, vir naastenby die laaste dekade voorkom. Wanneer gaan daar iets aan die situasie gedoen word? Wanneer gaan onbevoegde personeel in die pad gesteek word sodat die distrik bekwame mense kan aanstel wat die nodige kennis het om ʼn plek goed te bestuur? Besoekers wat kanne water saambring help nie om die werklike probleem op te los nie. Dit is soos om ʼn pleister op ʼn gebreekte been te plak.
Besoekers sal minder word en inwoners kry nie meer ʼn inkomste uit toeriste nie. Die dorp se historiese geboue sal heeltemal verval. Dit klink soos ʼn nou-al bekende storie van vele ander klein dorpies in ons lieflike land. Ongelukkig kan mens nie van sonskyn en maanlig lewe nie, en nie almal is tevrede om ʼn lappie mielies vir eie gebruik te plant nie.
©Susann Moolman
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Februarie 2025 – Water projek