Jongste aktiwiteit:

Tussen leeg en vol #silwer

Tussen leeg en vol

Soos die Prediker sou sê: daar is ‘n tyd om bymekaar te maak en ‘n tyd om uit te gooi; ‘n tyd om uit te deel of saam te vat. ‘n Tyd wanneer die leegmaak van kaste ‘n vreemde vryheid bring.

Soos die herfsblare jaar na jaar val en die grond bedek met ‘n geel-oranjebruin karos, so het my huisraad drie keer uitgestrooi gelê op die sitkamervloer.

Die eerste keer het skielik en onverwags gekom. Ek en my man het ‘n geleentheid gehad om by my broer in Engeland te gaan kuier. Engeland, met sy reën wat nooit ophou nie. Tog was die gras, helaas, groener aan die anderkant van die draad. Toe die deure na die vreemde skielik wawyd oopgaan, het ons met hart en siel geglo dit is tyd om te trek na die land van melk en heuning. Of so het ons gedink.

Met groot opgewondheid het ons voorraad opgeneem en lysies gemaak van by wie ons wat kon stoor. Vier jaar het nie lank geklink nie. By die huis gekom het ons gewoel, gekrap en gespook om elke kas, elke laai, elke gaatjie deur te soek, en te besluit: deel ons uit, vat ons saam of gooi ons weg?

‘n Week of twee voor die vertrekdatum was daar geen meubelstuk in ons huis oor nie, en dit wat niemand wou hê nie, het uitgestrooi gelê in die voorhuis, vir verbylopers om te besigtig en te vat, al het daar ‘n “Te koop”-bordjie buite op ons gras gestaan.

Ons kon net vyf tasse en twee bokse saamvat.

Die moeilikste vir my was om te aanvaar, dat dit wat vir my kosbaar is, vir ander geen sentimentele waarde het nie.

Die tweede keer was ná tien jaar, toe die verlange en hunkering na ons geboorteland net een te veel geword het. Ja, die vier jaar het tien geword. Ons vyf tasse het in daardie tyd gegroei tot ‘n huis vol goed. Ander mense se weggooigoed het ons wins geword. Daar was meubels wat luuks en duur was, goed wat ons nooit vir onsself sou koop as dit nie op ‘n herwinningsplek weggegooi was nie. Ons was maar te bly om ons huisie op die kampus vol te maak. Die kaste het waarlik boepens vol gestaan.

Maar dit was weer tyd om te trek. Weer is daar geskrop en uitgesoek, totdat net die nodigste geboks is en soos boublokkies in die sitkamer reggestaan het vir die groot driedimensionele legkaart in ‘n 40-voet-skeepshouer.

Terug oor die oseaan na ‘n nuwe begin waar die beeste en skape op die bruingroen gras wei. Terug na ons mense, na dié wat vir ons omgee, wat ons daar wou hê, wat tyd saam met ons wou spandeer, nadat ons so lank weg was. Of was dit net in ons hunkerende gedagtes gewees?

Die derde keer, hopelik die laaste keer, het ons weer probeer om die groen gras anderkant die oseaan aan te durf, lankal vergeet van die aanhoudende nat en koue.

Dertien jaar se aanhou probeer om wortel te skiet het ons gelos met vol takke, maar gebreekte siele.

Ons wou net wegkom van die oormag van vlieë en ongewenste omstandighede. Weer is daar geskrop en uitgesoek, maar dié keer het geen kind of kraai saamgetrek nie. Dit was net ek en manlief. Boeta het al die meubels gevat, net betyds vir sy groot huis. Die res van die kaste se inhoud het weer uitgestrooi op die voorhuis se vloer gelê. Soos herfsblare aan die begin van die winter.

Aasvoëls het ewe kordaat deur ons huis gestap, op soek na stukkies van ons lewe. Vir ‘n sent of twee het hulle gevat wat eens ons s’n was. Ons sentiment het lankal verlore gegaan.

Nou, drie jaar later, staan ons kaste weer boepens vol. Oor en oor het die Vader voorsien. Ons het uitgedeel en weer ontvang.

Soos bome kaal gestroop moet word voor die winter, sodat hulle weer krag kan put uit die Skepper se voorsiening, so moet ons ook leer om los te laat.

Ons moet ontslae raak van die dinge wat ons lewens so boepens vol maak en met leë takke na die hemel reik, want wanneer die seisoen draai, word ons kaste weer vol.

Christa Diederiks ©




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed