Jongste aktiwiteit:

AS die skoen jou pas

As die skoen jou pas.

 

Vrouens is anders.  Ons is net op ‘n heel unieke manier aanmekaar gesit.  Niks werk heeltemal soos die oorsproklike model, die man, verwag dit moet werk nie.  Ons huil as ons bly is, ons lag soms as ons boos kwaad is.  Wanneer ons iets kry, is dit in ons natuur om dit te vermenigvuldig.  Gee jy vir ons n paar bestandele, dan word dit ‘n koningsmaal, gee jy vir ons ‘n bietjie moeilikheid… laat ons net sê, die kanse is goed dat jy jammer gaan wees.

 

Ongelukkig werk ons oë ook op hierdie vermenigvuldingsbeginsel.  Wanneer ons iets mooi sien, wil ons dit ook verdubbel.  Dit sluit natuurlik ‘n sny koek of ‘n lekker stuk biltong ook in.

 

Indien mens nou met hierdie nuutgevonde inligting in ‘n klere winkel instap, kan dit dalk liederlike gevolge hê.  Daarvan kan Sanet met oorgawe getuig.

 

Danie het gisteraand met groot nuus by die huis gekom.  Die bevordering waarvoor hy al so lank werk, het uiteindelik gerealiseer.  Haar vreugde was egter van korte duur, want haar liewe man kom staan langs haar in die badkamer terwyl sy gereed maak vir die bed.  Sy besef dat hy seker goeie bedoelings gehad het, of dis wat sy verkies om te glo.  Hy het sy arms om haar gesit.  “Jy weet, jy kan gerus more winkels toe gaan en vir jou iets nuut gaan kry om aan te trek vir die aankondiging.  Dit gaan ‘n formele dinee wees”.

 

Sanet het geglimlag.  Sy kan doen met ‘n nuwe formele nommertjie, maar was dit bedoel om haar te laat verstaan dat sy dalk nie genoeg aandag aan haarself skenk nie?  Is hy skaam vir sy vrou?  Sy is dalk nie meer ‘n spring chicken nie, maar sy oefen elke dag, versorg haarself….  Ja okei, sy word deesdae meer as normaal verlei deur ‘n lekker stukkie sjokolade, maar sy is darem nie ‘n olifant nie.

 

Die volgende more skuif Sanet die krapperigheid opsy.  Sy weet sy oordink waarskynlik alles.  As sy haarself kan oortuig dat hierdie uit ‘n plek van omgee kom, kan sy dalk selfs die inkopies geniet.

 

Haar ma het dit altyd benadruk dat mens nooit gaan inkopies doen op ‘n leë maag nie.  Sy maak dus eers ‘n draai by haar gunsteling koffiewinkel.  In die vertoonkas by die toonbank hoor sy ‘n geweldige geskree.  Dis die aarbei kaaskoek wat haar naam oor en oor roep.  Sanet kan mos nooit so lawaai om haar toelaat nie, so sy gee maar toe.

 

Met haar soet tand wat nou weer rustig is, stap sy na die eerste winkel.  Dis ‘n Chinese winkel wat altyd die mooiste formele nommertjies in die venster vertoon.  Sy voel sommer vandag lus vir iets heel anders as die stemmige rokke en pakkies wat sy gewoonlik na formele funksies dra.  Wat van ‘n smarag groen nommertjie.  Groen vir die nuwe opwinding en die nuwe Sanet.  Sy kies ‘n paar nommertjies en stap vol selfvertroue na die aanpaskamer.

 

Die anti steel polisie oorhandig haar nommer met ‘n “OOHH, special occasion?”

 

“Uhm, yes” is al wat sy uitkry en skud haar kop.  Die ou Sanet sou tien teen een iets kwytgeraak het soos, Nee, dis wat ek dra as ek soos Aspoestetjie die stoof skoonmaak”.

 

Die ligte in die aantrekhokkie is baie skerper as gewoonlik.  Dis mos nie lekker om jouself so in al jou naakte broosheid te beskou nie.  Sy is ook redelik seker dat daardie spieëls gebuik is of iets.   Refleksie of refraksie of iets wat haar heupe dan nou hopeloos uit proporsie laat lyk.

 

Die groen nommertjie is eerste aan die beurt en nie eers met die vasberade wilskrag in haar oë kan sy die rok verder as halfpad oor haar borste kry nie.  Die heupe is nie eens ‘n vae opsie nie.  Blerrie Chinese nommers.  As jy normaalweg ‘n 16 dra, moet jy in hierdie winkels ‘n 5XL koop en bid van die rak tot by aanpaskamer.  Sanet is oortuig dat dit is hoe die Chinese die wêreld gaan probeer oorneem.  Hulle breek alle selfbeeld wat ons opbou so gou af, dat niemand meer teen hulle wil veg wanneer dit nodig word nie.

 

Skielik verwens sy die kaaskoek.

 

Die tweede nommertjie is ‘n rooi.  Sy sou normaalweg nooit in ‘n rooi nommertjie gesien word nie, want sy is blond.  Meeste blonds kom in twee kleure, melk of tamatie.  Sonbrand was nog nooit vir haar ‘n opsie nie, tensy die doel is om soos ‘n half gaar kreef te lyk.

 

Die rooi rok sit heelwat beter en maak ten minste haar skeppingsbates toe.  Maar sy het beslis nie genoeg bates ontvang om hierdie Dolly Parton bostuk te kan dra nie.  Betsie en Louise sal uitval nog voor sy uit die kar is.  Sy sal heel aand moet loop en pluk-pluk soos iemand met Tourettes.  Dalk is Tourettes nie so slegte idee nie.  Dan sou sy kon wegkom om te sê wat sy rerig dink van die kokketerige klein snobs wat gewoonlik by hierdie funksies aan die arm van een of ander grootkom ingestap kom.  So asof hulle probeer sê, Kyk wat het ek en my lyfie losgeslaan.

 

Kyk, sy het rerig nie ‘n probleem met iemand wat goed lyk nie.  Sy gaan gym immers self ‘n paar keer per week, maar wat die jong poppies nie besef nie, is dat mens na kinders en na 45 by die punt kom waar jy eenvoudig nie meer lus het om te spoeg teen die wind nie.  Die lyf sal nooit weer lyk soos dit 20 jaar gelede gelyk het nie, al voel die gees dat dit moet.

 

Jy sit met vel voue op plekke wat jy nie geweet het bestaan nie.  Hemel, sy lag darem nie 24 uur ‘n dag nie, maar die kraaie stap blykbaar sirkels om haar oë.  Sy is nie oorgewig nie, maar iemand het op een of ander stadium bakke jellie in haar sitvlak ingeplant.  Die goed dril as sy beweeg, of sy dit nou wil hê of nie.

 

Daar is velle en vlappe aan haar arms wat soms vir haar lyk soos ‘n vreemde voël wat wil vlieg na een of ander bestemming waar mens nie hoef te baklei teen die tekens van ouderdom nie.

 

Vir een of ander rede is sy nie meer lus vir die rok soek ekspedisie nie.  Sy sal maar gaan kyk watter skoene het hulle.  Skoene praat nie terug in dril bewegings nie.  Skoene verstaan.  Hulle gee nie eers om as mens ‘n stukkie kaaskoek eet nie.

 

Sanet besluit om annerdag weer te probeer vir die rok.  Maar by ’n winkel wat klere maak vir normale mense.  Nie uitgehongerde bevolkingsgroepe nie.  Ons Afrikaners weet van eet en lekker eet daarby.

 

Dalk moet sy sommer ‘n paar goedjies kry en vanaand ‘n romerige pasta gereg maak. Dan kan sy Maandag begin met ‘n nuwe dieet om in die simpel rok te pas.  Intussen gaan sy moet aanvaar dat sy lyk soos sy lyk as gevolg van haar ouers – Vader Tyd en Moeder Natuur.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed