Lego Lewens
Ek kyk na die enorme bak Lego blokkies waarmee my seuns as kinders gespeel het. ‘n Hele groot bak vol helder blokkies wat altyd hulle gesiggies opgehelder het. Jare later het ‘n vriend se seuns daarmee gespeel as hulle kom kuier het en nou speel my boetjie se 4 jarige daarmee.
Soos ek die blokkies bekyk besef ek hoe elkeen van hulle verskillende mense in my lewe verteenwoordig.
Alhoewel almal kleurvol is, is party klein en maer, ander is sommer net dwars. Daar is die gemiddelde reghoeke en selfs die groot groen basis waarop meeste strukture gebou word. Verder is daar spesialis dele, ‘n boot, ‘n mannetjie, ‘n kanon of wiele.
Soos met alles in die lewe, het ons ‘n stewige basis nodig. Ons lewens sonder die groot groen basis van geloof, sal eenvoudig te onstabiel wees om hoë hoogtes te bereik.
Saam met die ander verskillende blokkies, kan ons almal bou aan ‘n geheel wat oneindige moontlikhede het. As elkeen dit doen waarvoor hy geskep is, kan ons saam n magtige toring of ‘n kasteel word.
Maar ongelukkig gebeur die lewe soms en die vyand of omstandighede, maak dat daardie kastele en torings soms omval. Gelukkig is daar altyd weer iemand met ‘n plan en fluks word die volgende projek gebou.
Dis nou hier waar die probleem inkom. Skielik pas die blokkie wat in die vorige toring jou maatjie was, net nie meer langs jou in nie. Die blokkies word anders rankskik en die doel wat julle saam vervul het, is net nie meer dieselfde nie.
In ons lewens pas mense ook soms vir lang tye presies in ons lewens. Hulle werk daar waar hulle is, maar soos die tye verander en mense verander, verander ook hulle doel en plek in jou lewe. Dit maak hulle nie minder belangrik in die rol wat hulle voorheen in jou lewe gespeel het nie. Sodra daardie rol egter verby is, pas sommiges wel in die nuwe strukture van jou lewe in, terwyl ander oorbodig is. Niemand het tog lego kanonne of wiele nodig wanneer hulle ‘n kantoor gebou oprig nie.
Begin deur altyd op ‘n sterk basis van geloof te bou.
Laat elke mens toe om sy spesifieke rol in jou lewe te vertolk.
Wanneer die lewe jou planne vernietig, sien dit as ‘n kans om weer van voor af te begin bou aan iets nuut en beter.
Moenie bang wees as dieselfde mense nie saam met jou aan die nuwe planne bou nie.
Respekteer elkeen vir die potensiaal wat hulle het op hulle spesialis gebied.
Gun elkeen hulle reg om anders as jy te wees.
Moet nooit vergeet om dit wat jy doen te geniet nie.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Mei 2025 – OOP projek