Wanneer Die Amarillas Blom.
Vir my Pa.
Wanneer Die Amarillas Blom. (Brons)
Wanneer Die Amarillas Blom. (Brons)
Wanneer die Amarillas blom
weet ek in my hart
die Lente het weer gekom
ek sien jou voor my geestesoog
en jy vertoef ‘n wyle weer
dan onthou ek jou
waar jy in die blombedding skoffel
die son wat koelbloedig brand
en jou fingers wat grawe in die sagte sand
hare windverwaai, kuif heel deurmekaar
die sweet wat op jou voorkop pêrel
ek onthou jou gekreukelde hande
wat liefdevol
oor die droë bruin kluite vee
vir wanneer die Lente
voor die Somer kom
om haar ondergrondse geheime te gee
die vaaltes met haar Skepperskleure te beklee
nat grond en kompos, genade
jy is dankbaar….
ek sien van binne na buite
jou hart wat oorloop van hoop
het ‘n glimlag van vergenoegdheid
oor jou stowwerige gesig geloop
Amarilla, wie het jou skoonheid
in duisternis aanmekaar geweef
wie het jou asemrowende prag bepaal
en jou met Lente uit die donker dieptes gehaal
die Roos, Angelier, Katjiepiering en Jasmyn
is jou, Amarilla, een voor
met hul parfuum wat vroue eeue al bekoor
jy is wel weeskind van geur
maar,
wat jy ontbreek in reuk
is jy geseën met prag dubbel prag
in wit, pienk en rooi
glinster jou skoonheid
wat die mensdom betower
jou blomblare wat blink
soos die fynste sy
Amarilla, mooiste mooi
van al die blomme is jy
en,
wanneer ek die die Amarillas sien blom
het jy weer vlugtig teruggekom…
Amarilla mooiste mooi
blomme kind is jy.
Vera Booysen ©
INK 28/05/2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Mei 2025 – OOP projek