Jongste aktiwiteit:

Die huis met goue vensters

Daar kom soms ’n tyd wanneer ’n mens moet trek. Dan kyk jy met ander oë na huise. Dit lyk of daar altyd iewers ’n huis met goue vensters is.

Vir party mense staan daardie spesifieke huis in ’n ander buurt, soms staan dit oorkant ’n vallei. Vir ander staan dit op Facebook, agter ’n netjiese gesinsfoto met almal se hare gekam en niemand se humeur sigbaar nie. Perfek. Soms staan dit sommer net in die straat waar jy elke dag verbyry, daardie huis met die groen grasperk, die nuwe motor agter die hek en die mense wat lyk of hulle nooit voor die leë yskas staan nie.

Ons kyk. Ons vergelyk. Ons sug en begeer.

Ai, dink ons, was ek maar daar.

Daar waar die vensters altyd so vreeslik mooi blink. Daar waar kinders seker uit hul eie kamers opruim. Daar waar mans seker onthou om die asblik uit te sit voordat die vulliswa verby is. Daar waar vroue seker nie soggens voor die spieël staan en wonder wanneer die blou kringe onder hulle oë ingetrek het nie.

Van ver af lyk ander mense se lewens altyd veel netjieser.

Ons sien die vakansiefoto’s, nie die argument in die motor net voor almal moes glimlag nie. Ons sien die verjaarsdagtafel, maar nie die skottelgoed wat tot elfuur daardie aand gewag het nie. Ons sien die nuwe kombuis, maar weet nie van die skuld wat saam met die blink kasdeure ingetrek het nie. Ons sien die trouherdenking met rooi rose, maar nie die vorige week se ete wat in ysige stilte geëet is nie. En dan draai ons terug na ons eie huis. En ons sug.

Die kraan drup. Die hond se kosbak is leeg. Die rekening lê onder die koerant, asof hy minder waar word as ons hom nie sien nie. Die stoep se matjie lê skeef. Iemand het alweer met modderskoene deur die gang geloop. Die roosterbrood het aangebrand, die koppie rooibostee het koud geword, en die dag het meer gevra as wat ons kon gee.

Dan lyk ons eie vensters maar erg dof.

Ek dink ons almal doen dit. Ons staan op ons eie stoepe en kyk na ander mense se verligte huise. Ons vergeet net dat afstand ’n goeie skoonmaker is. Hy vee krake weg. Hy maak vuil vensters blink. Hy laat karton in ’n stukkende ruit lyk soos goud.

Van naby is elke huis maar net ’n huis.

Daar is altyd iets wat lek, iets wat breek of nog iets wat wag om betaal te word. Daar is altyd ’n kas wat te vol is, ’n hart wat seer is of ’n moeilike gesprek wat uitgestel word. Agter elke netjiese voordeur lê daar ten minste een ding wat niemand vir gaste wil wys nie.

Maar o, van ver af.

Van ver af kan selfs ’n gewone ou huis gloei.

Miskien is dit hoekom ons versigtig moet wees vir daardie sug: was ek maar daar. Want “daar” is ook net iemand anders se “hier”. Iemand staan dalk op haar eie stoep, met ’n wasgoedmandjie teen die heup, en kyk na jóú huis in die laatmiddagson.

Sy sien glad nie jou druppende kraan nie. Sy sien nie die rekeninge onder die koerant nie. Sy sien nie die koue rooibostee of skewe mat nie. Sy sien beslis ook nie die moegheid in jou skouers nie.

Sy sien net die goue lig teen jou vensters.

En dalk wens sy ook sag: “Ai, was ek maar daar.”

Ons hoef nie op te hou droom nie. Drome is nie die probleem hier nie. Die probleem begin wanneer ons ander mense se blink kant met ons eie agterplaas wil vergelyk.

Miskien moet ’n mens party dae net ’n bietjie terugstaan van jou eie lewe. Nie om weg te loop nie, maar om weer te kyk.

Kyk na die huis waarin jy al soveel keer gehuil en weer opgestaan het. Kyk na die tafel waar mense al gelag, gebid, gestry en brood gebreek het. Kyk na die venster waar jy al gewag het vir iemand om huis toe te kom. Kyk na die stoep waar stof lê, ja, maar ook voetspore.

Teen skemer val die lig anders.

Dan sien jy dit dalk raak.

Jou eie huis het ook goue vensters.

 

©MarleneErasmus

31/05/2026

(706 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed