Adoons en Monster
Ek het Adoons en Monster ontmoet die dag toe ons in ons eerste huis ingetrek het. Die huise in die buurt was oud en verwaarloos, maar die prys was reg en ons het, soos alle jong getroudes, kans gesien om dit vinnig om te tower in die ideale gesins-nes. Aan die een kant van die huis was ‘n lang, grys muur wat ons afgesny het van die bure. Maar aan die ander kant was daar net ‘n ou vervalle draadheining. Agter die heining was ‘n huis wat ook maar beter dae geken het, en ‘n tuin wat aan woestyn laat dink het. Op die stoep aan die sykant van die huis, wat op ons oprit afgekyk het, het Adoons en Monster dié oggend vir ons geammuseerd, met groot oë, vrot tandjies en baie gefluister, beloer. Hulle gesiggies was dié tyd van die oggend nog skoongewas, al het die hare agter die koppies dan nou soos mossieneste gestaan. Ek het hulle uit die hoek van my oog dopgehou en toe ek later daar moés verbyloop, het hulle my vriendelik gegroet.
“Hallo tannie!”
“Ja julle twee. Hoe gannit?”
“Goed.”
My kinders, Joshua, toe vier en Jessica Skye twee jaar oud, was natuurlik heel eerste oor die draad, agter Adoons en Monster aan, by die vreemde bure se kombuisdeur in. Ek het hulle gelos – dis kinders. So het ‘n kortstondige, maar vir my ‘n baie emosionele, verhouding met Adoons en Monster begin.
Adoons was ‘n tingerige, blonde, blou-oog seuntjie van ongeveer vier jaar oud. En stout! Adoons kon ‘n matroos van ‘n boot af vloek en het gerook soos ‘n Ford-enjin. Sy klein handjies het vir geen stoutigheid in die boek verkeerd gestaan nie. Altyd gretig om iemand in ‘n josie in te help. Sy sussie, Monster, was omtrent drie en nog steeds op doeke en tiet. Sy kon nog nie baie mooi praat nie en was die proefkonyn vir haar boetie se sak vol planne. Monster het gevrek oor Rice Cripsies en het gedurig vir Jessica afgeknou. Menigte male het ek hulle huis toe gejaag oor hulle slegte maniertjies en geniepsigheid, maar het altyd agterna sleg gevoel – hulle was net kinders.
Siende dat die kinders van dag een af sulke groot tjomme was, was dit onvermydelik dat
ek met die grootmens-bure van langsaan moes praatjies maak. En kyk, ek is nie ‘n mens vir daai tipe ding nie. Jy weet, die koeitjies-en-kalfies-bedryf. Ek operate op my beste as mense my uitlos. Maar so het dit toe gekom die dag langs die draad dat ek en tannie Elsa, die kinders se ouma, ‘n geselsie aangeknoop het. My man was natuurlik al van vroegoggend af op hulle agterstoep saam met Oom Gawie, die oupa, aan’t whiskey drink. ‘n Discom-glas vol Prince Charlie en kraanwater sonder ys het hom nog nooit aangestaan nie, maar hy wou seker nie onvriendelik wees na die gul uitnodiging oor die draad nie.
Die kinders se pa is verlede jaar dood, het sy vertel. Aan bloedvergiftiging. Ons kom eintlik van Bloemhof af , jy weet. Sy familie het die visfabriek daar. Ja, dis my valley daai. Maar Gawie het ‘n beter werk gekry hier. Wilna en die kinders bly nou by ons. Waarheen moes sy gaan? Jong hierie Adoons was mal oor sy pa. Het altyd tussen sy bene gesit as hy aan die karre gewerk het. Sommer daar aan die slaap geraak ook. Hy verwerk nie sy pa se dood nie, die kind. Hy het allerhanne gedragsprobleme, maar ons los hom maar. Hy sal regkom.
“Wie’s die ander outjie met die blou bakkie wat hier by julle bly?” wou ek weet.
“Dis Gielie, Wilna se boyfriend. Hulle is al vyf maande saam. Gawie druk op dat hulle moet trou. Ons kry maar swaar, jy weet. Gawie se pay is nie baie groot nie. Wilna werk nie en Gielie dra nie eintlik by nie. Maar hy is goed vir die kinders, veral vir Adoons. ‘n Seun het maar ‘n pa nodig, jy weet.”
Later toe ek sien dat ons nie meer veel het om te sê nie, het ek die gekibbel kortgeknip met ‘n flou verskoning van ‘n berg wasgoed wat wag. Dit was ‘n vreemde familie – baie plat op die aarde, reguit mense. Geen fieterjasies of aangeplaktheid. Tog was dit vir my asof daar ‘n leemte was, ‘n onontginde diepte binne elkeen van hulle. Dit het my vir dae aaneen gepla. Die sondes van die vaders sal besoek word aan die kinders. Die kinders.
Die bure was baie raserig, veral Sondag namiddae wanneer die meeste mense ‘n uurtjie of twee wou skuins lê. Oom Gawie het gebulder wanneer hy wou kommunikeer. Gewoonlik was die gebulder gevolg deur ‘n weergalmende, komieklike lag. Ek weet nie of dit opgewondenheid of die whiskey was nie. Die kinders het nie van beter geweet nie, maar hulle gekap en geskrou was soos agtergrondmusiek. Oom Gawie het elke aand sy ou Dodge in die erf ingetrek, gesig na die hek, sodat hy vroeg-oggend ‘n running start kon hê. Een Sondag-aand jag ‘n helse lawaai my by die voordeur uit en om die hoek van die huis. Oom Gawie. Hy het toe sommer so met die intrekslag ‘n paar dounats in die agter-yard gegooi. Dis net stof en klippers. Hy wou hom vrek lag. Ek ook. Die man is nes ‘n kind, het sy vrou gesê. Nes ‘n kind.
Ek het nooit tyd gehad vir die boyfriend nie. Aardige karakter, hy. ‘n Beterweterige, slinkse, vuilgat laaitie. Grease monkey. Brandy-drinker. Pleb. En sy ogies was te na aan mekaar. Ek het my man later so opgewerk oor die boyfriend, dat hyself nie meer die man kon verdra nie.
Maande het verbygegaan. Eendag het ek opgelet dat die blou bakkie nie meer saans langsaan intrek nie. Ek het gewonder, maar nie gevra nie. My man het een weeksaand skielik verdwyn. Met die terugkomslag het sy whiskey-asem my opeens yskoud en kliphard. Hy’t gemaak of hy dit nie agterkom nie. Net gesê dat oom Gawie die boyfriend weggejaag het. Ek was die ene ore.
“Hoekom nogal?” wou ek weet.
“Wel, hy sê dat Monster per ongeluk ‘n one-point-two-five Coke-bottel op Gielie se vingers laat val het. Gielie het sy moer gestrip en het vir Monster met die Coke bottle oor haar rug geslaan. Oom Gawie het gesê Gielie moet sy goed pak en fokkof.”
“Nou sien jy nou! Ek het jou gesê daar is iets fout met die mannetjie. Die bliksim!”
Nou staan die huis langsaan leeg. Oupa en Ouma is terug na hul valley en Adoons en Monster bly saam met hul ma en die boyfriend in ‘n woonstel elders in die dorp. Wonder hoe dit methulle tweetjies gaan. Ek hoop maar vir die beste.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.