Afrika-pyn
Afrika-pyn
Ons strompel deur Afrika-stowwe,
ons breek, ons skend en verwond –
ons geskiedenis rus swaar op ons skowwe
waar ons leef op rooi Afrika-grond.
Ons haat klink teen Afrika-kranse,
ons vloek en ons skree en ons raas.
Ons skuil agter self-opgerigte skanse,
staar blind deur ‘n rassehaatwaas.
Die Afrika-son skyn rooi
oor Afrika-kinders,
maar haat bly ‘n skadu gooi
en vergifnis vlieg weg soos vlinders!
Dit kraak deur die kranse en klowe
soos ons op mekaar bly vuur!
Ons is askiesgestremd, bly belowe
en die haat en die nyd kos ons duur!
Ons stormskree, vergeet om te luister
hoe ons bloeddeurdronge
Afrika-gond vir ons fluister
en ons saamleef bly maar verwronge.
Lorraine Smit
2019
NEOLOGISMES:
rassehaatwaas
askiesgestremd
stormskree
BRONTEKS
Die Ossewa
Jan FE Cilliers
Die osse stap aan deur die stowwe,
geduldig, gedienstig, gedwee;
die jukke, al drukkend hun skowwe –
hul dra dit getroos en tevree.
En stille, al stuiwend en stampend,
kom stadig die wa agterna –
die dowwe rooi stowwe, al dampend,
tersy op die windjie gedra.
Die middagson brand op die koppe,
gebuk in hul beurende krag;
hul swaai heen en weer in die stroppe –
en ver is die tog van die dag.
Dit kraak deur die brekende brokke:
die opdraans is ver en is swaar;
die knars in die knakkende knokke,
maar hul beur, en die vrag bring hul daar.
So, stom tot die stond van hul sterwe,
blyf ieder ‘n held van die daad…
Hul bene, na swoeë en swerwe,
lê ver op die velde verlaat.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2019 projek