BALLADE: SILWER VROU
BALLADE: SILWER VROU
sonder aarsel in ‘n blink silwer baan
voltooi saggies kring na kring
dag en nag sonder om eenmaal te staan
elke einde ’n nuwe begin
sleep ‘n mantel vol sterre om hoop te bring
te saai soos sy om die aarde gly
te bemoedig met elke omwenteling
te troos waar sy trane kry
haar oë tel die seer op so ver soos sy gaan
smee dit in ‘n blink silwer ring
polleer dit nog blinker met gebed en ‘n traan
plant ‘n vlag waar genesing begin
sy gooi lig op die pad van die swerweling
sodat dié sy Vader kan kry
vleg ‘n lof-melodie vir hul om te sing
want sy weet ‘n ode maak vry
ek wens dat ek kon begryp en verstaan
hoe jou lig deur die donker bly dring
waar kry jy die krag vir jou kringebestaan
sê my tog, my liefsteling
waar die lewensvreugde in jou ontspring
terwyl almal om jou hul swaarkry bely
terwyl leed die wêreld verwring
word jy nooit moeg nie, bly jy gedy
“ek is my Heer se gunsteling
dis in Hom wat ek my verbly
Sy helder lig se glinstering,
Sy liefde, spieël terug in my”
Job 22: 23 – 30
© – Barbara Smit – 06/01/2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.