Jongste aktiwiteit:

Loftus Marais
vir

Loftus Marais

Wederkoms

en wanneer die ramshorings blaas
en die hele wêreld terugtrek jerusalem toe
in gypsy-karavane en campers
en in busse en busse vol afgepisde ateïste
sal ek myself mooimaak
regmaak
ek sal my sondes soos juwele dra
want hulle is mýne
my gitrok sal skitter
’n parfuum van skande en swael
sal om my hang
en wanneer ek voor Hom moet staan
sal ek verwyfd curtsy
en vir Hom netjies verduidelik
dat my catsuit
(opgevou in die groot tas langs die vanity case)
fire-resistant is

mev. van blerk

op ’n maandagnamiddag
(die 17de februarie teen 17:34 om presies te wees)
begin mev. van blerk
(sy is 64 jaar oud, ’n moeder van 3, ouma van 5,
en ly aan hoë bloeddruk)
dans
sy het nog nooit vantevore gedans nie
nee wag dis ’n leuen:
sy het wel by 9 troues
(waarvan 1 haar eie)
en 4 skuurdanse gedans
maar hierdie keer is dit anders:
sy pirouette die pad af
en neurie-neurie in haar kop
totdat die spataarbene wild begin spring
en haar los tiete soos klokke om haar swaai
haar purple-rinse haredos bons saam allegro
’n boemelaar ’n bedelaar staar agterna
en ’n motoris ry in ’n lamppaal vas
van blote kyk
sy was moeg van die kool- en pisstank
van die ouetehuis (kamer 42 haar eie)
vir die dood wat in velle
los en swaar aan die skelet hang
maar nou is daar musiek te maak uit verkeersklanke:
toeters en enjins en remme sing vir haar om te hoor
’n robotkoor
sy skets haarself teen die lug
in ritme
en sierlike sirkels vol betekenis
mev. van blerk dans deur die besoedeling
uit die stad verby die plakkerskamp oor grense
en om haar stort vliegtuie neer
treine ontspoor soos meganiese slange
wat beroertes kry
en al wat sy hoor is die gekners van slaginstrumente
die 71 kwylbekbejaardes van haar ouetehuis
bekyk haar passies op TV-skerms
(kameramanne en nuusspanne
agtervolg haar die wêreld deur)
die ouvrou dans op water
verby plesierbote en bo-oor duikbote
jagse mans op olieplatforms juig haar toe
sy hoor net musiek
sy teken deurskynende vlinders met haar hande in die lug
later fluit missiele oor haar kop
haar pantoffels sink stadig af
na die bodem van die atlantiese oseaan
maar mev. van blerk dans voort
totdat daar êrens
êrens ’n eiland stil en stewig met ontelbaar baie palmbome
wit en groen op die horison breek
haar passies vertraag
maar haar hart bly klop bly klop
sy loop moeg deur die vlak water
en die branders vee die strand skoon
vir haar voete

Kunswerke: my vriende

[Dawie]
Mistig dobber berg agter huis en huis agter jou
in waterkleure van grys en in-die-verte blou;
daar is ’n kaal akkerboom wat teen die hemel klou
en in die waas slaan jy jou kraag op teen die kou.

[Pieter]
Abstrakte beeldhouwerk vang niks, maar ook alles, vas;
lompe vorme van metaal, van hout, van klip, van glas
wat sinies en saggies en sterk in mekaar inpas
om een figuur te skep: wie jy is en wie jy was.

[Francoise]
Ruiters, krygers, swart figure op erdeware
wat al Trojane verslaan vir duisende jare,
omgeef deur lynfyn patrone op hierdie rare
kruik: val van die valse, oorwinning van die ware.

[Marike]
Woorde is te vaag en rof om marmer vas te vang,
om te wys dat die rok in perfekte voue hang,
om die standbeeldgesig, dalk mooi, dalk wys, dalk ook bang,
kompleet te skets met hoop in die oog, traan op die wang.

[Cor]
Dié potloodskets vind jou in die vroeglente van Maart:
die Londense winter los jou met ’n stoppelbaard
wat jou gesigdetail laat lyk na ’n ou padkaart
van jou hawelose siel se lynperfekte aard.

[Hester]
Presiesheid ryg ’n patroon deur jou ganse bestaan
en vorm ferm en duidelik iets wat almal verstaan;
dié tapisserie: ’n vrou wat kleurvol koers inslaan
en, met besef van haar tekstuur, ’n eie weg baan.

[Ula]
Die’s wat jou nie ken nie voel dit is te helderblink,
te veel wit en sonskyn, met gans te min skadu-ink,
maar die geraamde wit-en-swart foto laat mens dink
aan jou bloeiselreuk en jou lag wat na lente klink.

[Liezel]
Dit is kleur en kleur wat regdeur al die skerwe straal,
glasstuk is woord, lood is stem, die venster is ’n taal
wat spreek tot al die toehoorders in die katedraal.
Elk faset ’n fabel; jou skakerings, ’n verhaal.

[Marissa]
Jy skitter nie. Geen geil goud of smalende smarag
sal in dié juwele pronk, want hul het te min krag
en stewigheid, hul is ydel en versier te sag
om weerlose forsheid te vind in al jou prag.

[Francois]
Soos klein branders lê die paletmes jou kleure neer;
in dikdonker hale word dit oor die doek gesmeer,
maar ook soms fyntjies deur ’n sabelpelskwas beheer
en omskep tot ’n ongeraamde werk van Vermeer.

[Gideon]
Die waterkleure op die nat pleisterwerk is vars
soos dit onskuldfigure vorm wat druiwe pars,
maar dan later, in aandkleure wat skilfer en bars,
aanbid hulle in dié fresko die oorloggod Mars.

Kennistog

Eens was wat ons gehad het
’n onsekere koeplet
maar soos ons liefhet dag na dag
het die eenheid begin vervaag
en toe
het passie en belofte
en die kennis van
ontdekkingstogte
ons verwring laat dans
en dans
en ons standbeelde in keldergrafte
wat weggesteek was was
oud en besig om te
ver-
krummel
maar met die wending
wagtend op verdieping in
die einde … dalk tekens van progressie?
het die juiste woord ons ontglip
en nou kan ek nie anders as om aan te hou vertel skryf oor wat gebeur het nie want dit bly in my mond soos jou speekselsmaak dof en aanhoudend soos banale selfbewuste prosa.

Swig

slaan jou tande in my nek in
laat my bloed
op jou fluweelvlerke drup
begin die tog
en vlieg na waar die maan se sekel
puntig dreig
en die sterre om ons val

Vir Pieter

Met ons stewigheid
agtergelaat
dink jy
dat dié spieël
– wat in ’n duisend
skakerings van homself
versplinter het –
nie jou growwe hand
– waarvan hy stukkies
soms reflekteer –
liefhet nie?

Brief aan Donovan

Liewe sussie
ek moes jou stywer vasgehou het
daai dag op clanwilliam se rugbyveld
toe dit gereën het
en die wêreld om ons ’n kring grysheid
en die bome oumensvingers en gebeentes
was
maar ek het maar net gesê alles is fine
net soos daai saterdag
toe jy uiteindelik van die kaap af teruggekom het
en jy stukkend was
ek wou met my woorde
die kleur weer na jou vel toe terugbring
die rowe soos skimmels van jou pols afvryf
maar ek het maar net gesê alles is fine
en ek hoop dinge gaan nou beter
en so aan …

my god
hoe kon ek so ongenaakbaar
teenoor jou naaktheid wees
jy van alle mense

PS
jy weet
altyd
ek dans met jou in drag op kleindorpse verhoë
ek gil en hol met jou (soos hoere) agter ’n bus in kaapstad aan
ek bibber soos ek na ons tydens pouse kyk
met die besneeude berge en gespierde troepe
in blou en blou en wit om ons
en dan lui die klok
en ons klompie draf saam die koue ewigheid in.

En as jy dan – (vir M)

En as jy dan,
so nakend en alleen,
die plaasvlaktes se eensaamheid
sonder my
of enigeen
aandurf,
onthou net terwyl jy loop:
binne jou was die kiem,
die liefde,
nou wel verstoot,
wat die stofdroë landskap
tot ’n groen paradys kon doop.

Laaste scene

ek, verlate
tog gelate
op ’n pad wat strek
en agter op die horison
aan die aandson raak
ek kyk vir die kamera
en smalend krul
die hoeke van my mond
(ek dink aan jou)
ek draai om
die lens trek terug
vir ’n panoramic shot
en dan die klank van ’n tjello
hol én vol
soos die end credits begin rol

’n Liefdesvers

vergeet die dagboeke, briewe, notas (oor pruime
al dan nie). vergeet die handskrifte uitvoerig
soos frillerige ondergoed, outoritêre partiture

want liefde kom ook in sans serif
op vousels en strokies uit jou sakke.
’n duideliker danigheid dié.

om te weet jy was op 06/05/2011 16:08
lus vir ’n fanta. jou banksaldo is min of meer
wat ek verwag het. om te lees “your waiter on duty:

jo-anne” o, jo-anne! het jy ook gevrek
oor die grys kolle in sy kenstoppels?
hartstog in die detail: vat # 4820853876

jy vuis sommer munte so toe in kwitansies
en a, ek vou dit oop, blomknoppe!
beminde, ek sal duisende origami-duiwe

stryk uit gekreukelde papier, hulle loslaat
à la groot en kitsch troues, jirre, ek gaan tekere asof ek
die dooie see se rolle ontdek.

afsendings en bewyse van jou
in ’n wêreld waar ek nie by jou is nie. jý maak selfs
“credit authorised” betekenisvol.

liefde op dun papier, selfs hier
by die wankelrige ritme van ’n wasmasjien

Bewolk, kans op neerslag

ek, jaloers op die gedagtes van karakters in tekenprente
soliede wolkies wat opgroei oor skouers
ek wil ook denke knus verpak
almal se besinnings ’n heilsamer besoedeling
bid jou aan, cirrus uncinus bo sportvelde
ganse universiteite omhul in orkaan

of alleen in die bed met my wolkie, ’n ekstra kussing
of ek stap met ’n gepofte silwerrand straataf
selfs die geringste oorweging saamgetrek
as ’n prettige natuurlike partytjie-ballon

maar, hoe lank voor dit lastig gaan raak? ek word
agtervolg deur ’n stoute troeteldier, dit belemmer
my uitsig oor die agtermiddag, die gepiets
van stry so onder my geliefde se cumulo-
nimbus, en tydens die dink vir gedigskryf
die skuinsstrepies reën, tot dun akute vereenvoudig?

mens sal net daaronder wil uitstap, geïrriteer
en gaan staan in die wyer front van ’n hoër weer

Bloekomboom 

op ‘n vlakte buite malmesbury
staan ‘n bloekomboom soos scarlett o’hara
teen ‘n bult – uitheemse vivien leigh
ritsel in die bries haar hare
die kontoere se hale
vlei haar focal point posisie
in die grootliks vertikale
komposisie van die raam
agter haar drom donderwolke saam
sy wag vir die swartland se flash photography
vir die reen se applous, vir die was
van haar colour-coordinated bas
en haar juweellose takke
vir die afspoel van die miere in haar kieliebakke

Boomskets

skets die dooie boom wat staan
buite brackenfell
in ’n dam teen die N1:

suggereer die takke se gebare
’n mime-show van die Dood
of iets anders o so diep
hoewel die dam se water
net so kniehoog kom

evoke: die boom ly aan depressie
die boom is ’n nudis
’n billboard vir die niet
die boom is stom en woedend
sy weerkaatsing rimpel nie

weerstaan versoekings
om te kontrasteer: hou die kragtoring
wat duskant strut
buite die raam
met die buzz van die substasie
en die laat verkeer

teken takke wat lyk na wortels
opgebuig en voëlloos, rumatiekvingers
in, verkieslik, hale houtskool

suggereer dié dinge, maar moenie iets
vasvang nie:
hou jou greep
soos die boom s’n op die lug

Fabulisha de la Queillerie in ’n steeg

sy sien ’n entjie in begin die plakkaat-
beplakte mure skurf, verbleik tot strekkings skeursels
sy gaan vryf so fresh french tips en al
oor die kryterige oppervlak

patrone skuins oor baksteen, wit vorm na vorm
oorvleuelde merke, onlangse geskiedenis, bleek woorde:
live!, -LEGS EEN WEEK, presents:, kaartjies nou
en sy lief dit, hierdie stedelike mos
gegroei so skoon, ’n ou gebou in furs
of nee, point de venise selfs hier
waar bergies pis en hoere hurk

buitekant wat skielik niks en alles is
toggie, al die muso’s en akteurs wat in die shows geglo het
terwyl die eintlike ding hier stadigaan gebeur:

’n uitvoering van uitvoering as uitvoering
sonder dat dit voorgee om werklik byvoorbeeld
die maan se gesig te wees, om als daaroor te weet

sy lig haar oorpoeierde profiel
streel haar crinkled cotton-top
oor die eerlike vals gesit van haar tiete, sy
bruid en bruidegom, in ’n steeg van konstante konfetti

Hockney

die swembad is almal goedgesind
dit verander beweging tot uitdrukking
maar niks maak wérklik saak behalwe die frisste lig
water is ’n lover
dit glip met die afleer van swaarte
plons, klap soos ’n groot soen moet
’n wildheid kalm gechloor
tot somerse agtelosigheid, intense oppervlak
die swembad ontknoop die sonlig
word vonk en weerligstraal, geraam
dis vlekkeloos maar obseen
en vat ditself ook darem nie té ernstig op nie
maak selfs van ’n leë seilstoel ’n esteet
die swemmer klim uit, trek sy baaibroek los
waar dit té styf sy vorm verklap
soos hy staan daar langs die bloute
wat verplat in perspektief, wat weet dat alle plesiere
eenvoudig is, tweedimensioneel is
die swembad skik sy kinkels lig weer reg
in afwagting ’n middag wyd

Interteksseks

ek het johann de lange in ’n publieke toilet gescore
(ek’t hom moeilik herken van sy skrywersportrette)
in die stank van pis, kak, ammoniak
het hy my ’n cubicle ingevat –
daar’s poësie te vinde in toilet-graffiti
kunstige komposisie in versteende stront
in ’n bak met ’n eie koue akoestiek –
hy sê “suck my dick”, ek dink: hoe onsubtiel vir ’n digter
tog, die lomp jagsheid van die middeljare
maak hom ’n curio retro fuck, minder ervare
as prinsloo, meer byderwets as aucamp…
en ek kyk rond – daar’s tronksonnette te skryf
op súlke kakpapier, en geskets teen die muur
is ’n ontliggaamde piel in dik rooi pen
ondervoets is die teëls mondrian-presies –
na als klaar is (hy’t gekerm toe hy kom) stap hy weg
ek sê “ek skryf ook!”, hy stop, hy draai
en antwoord “ek weet, ’n skrywer’s altyd ’n slegte naai”
– toe hy weg is, het ek hande gewas, opgekyk
en in die spieël gelet: ’n onbemiddelde selfportret

Hawe

kapenaar, leser, wieookal, só haal die geboude wêreld homself
uitmekaar
kyk daar: die laaikrane is die stad se enigste eerlike torings
gebeenterig maar ook kinderlik die kleure
van candy canes
besig met inpak of losmaak en die weeg van aankoms/vertrek
sonder drama
sonder die kitsch en stralende eindervaarwelle
van bv. o wee die betraande emigrante van weleer
(eerder die see se rand nes gehamerde staal)
slegs die sopperigste digter
sien die wuif van sakdoekies
in stukke plastieksakke gehaak aan die omheinings, want hierso
slyt en kraak die enorme dinge
en enigiets kan geweeg, belas, gegee word
aan die geskuif van masjiene en getye
“Please note: This is a loading zone. Parking
at own risk.”
’n stad wat uit homself uit verhuis:
kratte en bakke en tenks, trokke
is lego gestapel
sodat die laat kapitalisme homself êrens anders
weer kan inmekaarsit
ja, die onderdele van stede in skure, maar hierso
blink dit nie, want die weelderigheid behoort
aan die see
tog ook net sóms lyk haar helder gegly van afstand
na iets belangriks, meestal net
’n tipe fondament
vir die hawe se geloof in vertikale:
lere
maste
spreiligte se pale
skaduweestrepe word breër en breër in riffelsink
en dan, hoe die wêreld hier klink
die klank van kettings, ’n roep, ’n roep, ’n toet, stoordeurgerammel
voëlgeluide vreemd soos die geknip van skêre
en die klap van water, asof die see so heeldag haarself
in die stad bly skink
en êrens lag ’n dokwerker
in hierdie plek van koue, souterige eggo’s
in hierdie plek van droogdok-, sleephelling-, kielkurwe-
akoestieke
apart van die dag sit ’n vispakker en rook
(teen waterpatrone op ’n baksteenmuur
langs turquoise bondels net)
sy’s oud, sy’s moeg, sy rol nou ’n tweede
verbeel ek my: haar hande wat bewe?
sy rook asof sy bydra tot die dofheid van die dag
want mis is ’n hawe se éérste element
en vandag, lig-lig mistig soos in ’n foto overexposed
stelasies in ’n onduidelikheid
maar kyk, die dwarsstawe moerbeknop, en gevlek, geskraapmerk, geroes
roes
godweet oral is roesblasies, soos herpes, hier
op die privates van die kaap
en die silwer krake in die vuilste ruite
en ook daai droewige pienk van gebleikte verkeersteken-
rooi, en onkruid in die verlede se tremgroewe …
spandeer ’n dag tussen die besonderhede van verweer
dit sal jou mal maak, skryf dit op, skryf dit op
want jirre daar kan iets bestaan
soos ’n blomkunde van getorringde tou-ente!
daar is buitebande teen die kaai en in een van hulle
lê ’n rob
in die draai van sy kop
is amper vermaak?
vermaak deur die bohaai van ’n hawe
voor hy perfek weer terugglip soos iets
wat vergeet word
maar dit word weer opgeneem in die ritme van ’n trein in die verte
’n reëlmaat van slytasie
nes voetval wat sloof
oor ’n betonvlak vol slik, en stukke draad
seemeeue, en ’n boei, oopgekraak
’n dokwerker loop huistoe … daarteenoor
vérder, ’n verkrimping in die rigting van daai atlantiese blootheid
’n front ’n horison verdik tot blouer blou lae
en ’n windjie en ’n rilling
deur die grander bote
se kleurvolle vlae

Kloofstraat, perspektief
vir Kabous

kloofstraat eindig in ’n kerktoring geraam deur ’n flatblock
maar hoe om te begin? het ’n straat as ’n enkele ding
enige sin? bo die gelaste sypaadjies sit balkonne, houers
van ’n laaste bietjie intieme ruimte, rustig, tussen
straatligte en kragpale en diefwering en pilare:
’n stad, vertikaal in ’n soort barcode vertaal, alleen
op ’n hoek trap ’n man sy sigaret met ’n frons
asof hy álles bedink, die gegons van verkeer
en karre se metaal buig die son tot ’n flits,
’n straat wat ervaring kan fokus tot ’n punt
soos ’n kerktoring, kyk, hier word elke kleur
geadverteer, en ’n winkelpop bekyk niks
vanuit ’n boutique, klere-reklame wat sê
“be unique”, en dan ’n kar se alarm:
’n stuk musiek op één aparte noot
en dis ook hoe dit hoort, want
vanmiddag is kloofstraat
’n teenargument
in teer en sement,
wat jy afstap
is ’n anti-
landskap

aan die fontein in ons flatblock se quad
Vir Inge en James

tussen geparkeerde karre en twee stelle trappe
ingedruk, koi-loos, jy
met geen klaarblyklike doel behalwe versiering
jy, ’n reus se bidet, jou sement gekraak
slik-verdik en gorrelend, drinkplek vir hawelose katte
met een vuil vlegsel lig wat val, jou rimpels
weerkaats almal bewend en grys: eternal youth, ha!
betesda sal haar vir jou skaam
jou geklots laat mens vroegoggend dink dit reën
jy het ’n geringe stem vir een van jou soort –
o, die refreine van pissende gerubyne
klein herrysende atlantisse sis kaskades
ganse operettes van borrels in parke!
maar jy, jy besig jou met murmelary
ek’s verbaas: ’n muntstuk op jou bodem
van een of ander dwaas, maar
ek moet ook seker dankbaar wees vir jou
in ’n tyd van beknopte bestaan:
tussen studente-flats:
ons muwwe afgodsbeeld van water
herskryf tog daagliks duidelik teen die mure
‘n vryhandgedig in die helderste lig

Ontologieles

die oggend is donker, ek stap werk toe oor ‘n plein
die dinge van die stad begin aan my verskyn
en soos dit mos ‘n Digter dan betaam
probeer ek, maar natuurlik, die Syn
se geheim bepeins, o, poëties verstáán
maar in ‘n systraat is ‘n neonbord
waardeur my vrae beantwoord word:

meubelwinkel LEWIS se letters is gebreek
maar eenvoudig waar: lees daar, klein rymelaar:
nét “…IS” “…IS” “…IS” flits weer en weer

jirre, dat selfs die werklikheid moet adverteer

Papiertjie

aan ’t stry oor die politiek gaan sit almal aan tafel, maar
als kantel, eetgerei kletter, glase mors wyn
gaste kyk agterna soos ek die trappe op verdwyn
na my lessenaar, gedek vir skryf, chaotiesdeurmekaar
ek vat ’n halfklaargedig, vou dit ’n paar keer
gaan stoot dit onder die poot sodat als balanseer
die mense glimlag, klink ’n glasie op my
ek dink: ai, papiertjie, dís ware littérature engagée

 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed