Pieter Mostert
Desember 2024 – Kersfees projek
3.Eensaam en alleen
Vir baie bejaardes is Kersfees na my mening ’n tyd van groot hartseer. Soos vir die moeder wat netjies aangetrek, in die voorportaal van die ouetehuis sit en wag dat haar kinders haar kom haal. Senuagtig vroetel sy met haar verrimpelde hande in haar skoot. In haar handsak het sy twee geskenkies, netjies toegedraai. Sy het regdeur die jaar ’n groot deel van haar pensioen gespaar om die geskenkies vir hulle te kan koop.
Verlangend en hoopvol staar sy na die deur, maar geen kind of kraai wat haar kom haal nie. Hartseer vee sy ’n traan weg, staan moeisaam op en verlaat die voorportaal, om eensaam en alleen Kersfees in haar kamer te vier.
Menige kinders laai hul bejaarde ouers in ’n ouetehuis af en vergeet van hulle.
Waar is jóú bejaarde ouers hierdie Kersfees?
—————————————————-oo00oo——————————————————
©Pieter Mostert
(Silwer)
[Woordtelling = 137]
APRIL 2025 – AARDE PROJEK
1.Gebreekte skakels
Bekend is die spreekwoord: ‘n Ketting is net so sterk soos sy swakste skakel. As ek praat van ‘n ketting van die aarde, dan bedoel ek ekologiese-ketting. Met die skepping van lewe op die aarde, het God, na my mening, ’n volmaakte ekologiese-ketting vir die voortgesette versorging en instandhouding van die aarde uitgewerk. Daarna het Hy die mens geskape uit die stof van die aarde en die mens aangestel as Sy rentmeester op aarde.
God se opdrag aan die mens was, en is nogsteeds, om die aarde te bewerk en te bewaak met behulp van die ekologiese ketting wat Hy vir die volhoubaarheid van die aarde uitgewerk het, om as riglyn te dien wat die mens in sy bestuur van die aarde moet volg. Ek moet egter toegee dat agnostici of ateïste hul eie siening en geloofsoortuigings oor die aarde en sy welstand hou. Gevolglik leef hulle volgens hul eie oortuigings om harmonie met die aarde te kan bereik. Maar dit nou daargelaat. Ek kyk na die problematiek waarmee ons te kampe het, vanuit ’n christelike gesigshoek.
Al wat die mens moes doen was om híérdie deur God-uitgewerkte ekologiese ketting, (ekologiese sisteem), vir die aarde te bestudeer en instand te hou. Nou kan jy vir jouself oordeel of die mens by hierdie opdrag van God hou, en of hy reeds van hierdie skakels gebreek het en steeds voortgaan om hulle te vernietig? Waaruit bestaan hierdie Godgegewe skakels in die ekologiese ketting van die aarde? Laat ek verduidelik.
Alle plante en diere wat in ’n pesifieke habitat, bekend as ’n bioom, leef en dus ’n bepaalde biotoop op die aarde beset, verteenwoordig ’n belangrike skakel in die ekologiese ketting van die aarde. Die mens is veronderstel om toe te sien dat hierdie skakels, waarbinne die omgewingstoestande van sodanige aard is dat dit ’n natuurlike leefplek (habitat) bied vir sekere spesies, soos onder andere voëls, te versorg en in stand te hou, om sodoende die voortbestaan van die aarde te verseker. Nou is dit so dat die lewensgemeenskap, wat die mens insluit, van ’n bepaalde biotoop, voortdurend eise vir die behoud van sy skakel in die oorlewingsketing stel.
Elke spesie op die aarde het ’n spesifieke funksie te verrig in die ekologiese ketting van die aarde. Sy tolleransievermoë bepaal die behoud van sy skakel, waarin die mens natuurlik as rentmeester, ’n kardinale rol vervul. Of moet ek eerder sê nie vervul?
Wat is die sleutel tot versterking van hierdie ketting? Net een woord naamlik harmonie. Versteur die harmonie in een van die skakels en dit het ’n nadelige invloed op al die ander skakels in die ketting en dus die voortbestaan van die aarde. Die mens is veronderstel om te sorg dat daar nie uitermate spanning op ’n spesifieke skakel in die ketting geplaas word nie, sodat dit nie breek en algehele uitwissing in die gesig staar nie.
Die skrikwekkende wyse waarop die mensdom aanwas, asook die tegnokratiese industrialisasie tesame met die kommerwekkende toename in armoede, voedselvoorraad en die vernietiging van natuurlike hulpbronne, het ongelukkig reeds verskeie skakels in voormelde ketting gebreek, terwyl van die ander skakels onder groot spanning verkeer.
Die skakel wat die meeste onder geweldige spanning verkeer is besoedeling van die aarde. Voorts is daar ook geweldige spanning op die skakels van gronderosie, vergiftiging van die aardbodem en daarmee saam die uitwissing van plante en diere.
Ek persoonlik, het ’n liefde en deernis vir die aarde en in besonder die ekologie, asook ’n liefde vir voëls. Dus sluit ek hierdie meningstuk af met die volgende gedig oor Rüppelse Aasoël wie se skakel gebreek het en hy uitgesterf het:
Gebreekte skakel
Ek soek na jou swewend
aan die koepel van die hemelblou
maar ek sien jou nie meer daarbo nie
jy wat so volmaak geskep was
met jou oranjegeel snawel swart
washuid en deurdringende bleekgeel oë
ek mis jou, jy met jou lang kaal nek wat donserig
grysgroen kol-kol gevlek ligpers verander
wanneer jy opgewonde raak
ek sien nie meer jou geskubte veremantel
met spierwit rande wat blink soos diamante
in die spieëls van die son
nou kan ek jou nog net op ’n foto bewonder
lof toeswaai in my poësieboek
of jou op die Internet gaan soek
jý; eens pragtige Rüppellse Aasvoël
wie het jou skakel gebreek uit die ketting
van die Skepper se ekologiese plan?
——-oo00oo——-
Ek nooi jou vandag uit, liewe leser, om met nuwe oë na die aarde te kyk en te sorg dat jou bestuur van God se ekologiese ketting in lyn is met die opdrag aan jou as rentmeester, bewerk en bewaak … voorkom dat die God se ekologiese ketting breek.
—————————-ooo0000OOO0000000—————————–
©Pieter Mostert [Aantal woorde = 772]
3.Die aarde — Deur die oë van Digters
Digters het na my mening ‘n uitnemende ‘sinestesie-oog’ vir die deernis en prag van die aarde waarvan hul deel is. In die woorde van die Amerikaanse digter, Emily Dickinson: “O, ongeëwenaarde aarde, ons onderskat die geleentheid om op jou te woon!” As elke mens kan leer om vir ‘n oomblik stil te staan en met, of te wel, deur die oë van ‘n digter na die aarde kyk, sal hul meer bewus word van die kosbaarheid van die aarde wat onder ons rentmeesterskap staan.
Die digter, Eugène Marais, beskryf in sy gedig Winternag, die aardse skoonheid van ‘n hoëveldse winternag, deur gebruik te maak van “subtiele klankskoonheid en metaforiese krag”. Voorts kom Marais se siening oor die natuur, (aarde), baie sterk na vore uit sy gedigte oor die Boesmans waarin hy aantoon dat daar ast’ware ‘n hegte band tussen die mens en natuur, (aarde), is, en dat die primitiewe mens hul nie gedistansieer het van dit wat eg aards is nie. Bykans al Marais se gedigte spreek van die natuur se prag en skoonheid.
Verder kom sy siening oor die natuur dan ook duidelik na vore uit sy bekende gedig ‘Die dans van die reën’, waar hy die reën deur middel van personifikasie as ’n vroulike danseres voorstel, wat die natuur tot ‘n groot dans oproep. “Die dansmotief bring samehang in die gedig, wat ‘n gevoel van viering en onderlinge verbondenheid binne die natuurlike wêreld oproep. Die beelde wat Marais in die gedig gebruik asook die ritmiese trant waarin dit geskryf is, laat die klem val op die unieke skoonheid en diversiteit van die Afrika se pragtige landskap.”
Dan was daar die digter C.L. Leipoldt wat gejubel het oor die prag en skoonheid van die aarde. Dít kom veral na vore uit sy gedig ‘Oktobermaand’, waarin hy hom vereenselwig met koggelmandertjies, goggatjies, die miertjies, ens. In ’n Hand vol gruis uit die Hantam, raak hy weer digterlik oor die “geil lusern in die laagste landjie”, en ruik die “keurbos” oral om hom. Aardse dinge soos ’n geil lusernlandjie in die laagte en ‘viooltjies in die voorhuis’ was vir hom die “beste dinge.”
Elizabeth Eybers weer raak liries oor die Sonneblom in een van haar gedigte en ook die fluit van die Piet-my-vrou in ’n ander.
Jan F.E. Cilliers (1865 – 1940) spreek weer sy siening, na my mening, oor die aarde uit in sy lang gedig ‘Die vlakte’, waarin hy soos volg begin:
“Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
ongesien, ongehoord,
en dof en loom in my sonnedroom,
ongewek, ongestoord.
Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande
skuif my breedte uit,
wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur,
wat my swyend omsluit.
Jong aarde se stoot het my boesem ontbloot
bo die diep van die meer;
en volswanger van lewe oor waat’re geswewe
die gees van die Heer.
Uit die woelende nag van haar jeugdige krag
brag die aarde voort … ”
Dit is nou bykans 85 jaar later en ek voel genoop om, as digter wat besorgd is oor die aarde, my hoof in skaamte te sak in my volgende Fragment-Pastiche: ‘Elegie’, aan Cilliers:
Elegie
my droom verdof in die stof
geblus my rus ontstellend onrusbarend
uitgestrek uitgerek verstoord
oor my breedte uitgeskuif
berge rommel plastiek saai paniek
afgeskuif op my bodem frommel
stootskrapers rommel oor my boesem
skeur kettingsae in flarde my binneste
afval uit die onheilsdal het in my skoot geval
geslagte en geslagte geweldadige magte
stortreën kernafval in die sloot van my skoot
sus vrees onrus oor wat my lot sal wees …
Die digter T.T. Cloete, wys weer in sy gedig God: die digter, daarop dat:
“daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die môremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ‘n digter gemaak.” (Driepas, 1989).
Die liedjieskrywer, Pieter van der Lugt, spreek weer sy kommer uit oor die ekologiese toestand van die aarde onder die titel ‘Nuwe aarde’.
Die talentvolle kunstenaar, Nataniël sing sy Liedjie getiteld ‘Sy is al wat ons het’.
“Moeder aarde draai haar om uit die son se ergste brand
En sy droom van digte woude en haar oë waai vol sand
Sy soek na haar kinders maar hul dans nou met musiek
langs duisend vuil riviere en berge van plastiek.”
Wat ’n riller boodskap is hierdie een van Nataniël nie?
Om metafories-mooi oor die aarde te dink, dig en skryf moet digters met ‘sinestesie-oë’ die aarde getrou bly.
Is jy getrou aan die aarde?
—————————————–oo00oo———————————-
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 782 ]
Bibliografie
- Eybers, Elizaheth. Rymdwang. 1987. Kaapstad: Human & Rousseau.
- Marais Eugène N. 1959. Dwaalstories. Kaapstad: Human & Rousseau.
- Louw, N.P. van Wyk. 1981. Versamede gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.<
- Opperman, D. J. 1974. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
- Sewall, Richard B. 1974. The life of Emily Dickinson (Deel I). London: Faber & Faber.