Jongste aktiwiteit:

Pieter Mostert
vir

Pieter Mostert

Lees meer oor Pieter Mostert

AUGUSTUS 2025 – LINKSHANDIGE PROJEK

2.Die ‘aandeel’ van die menslike brein in linkshandigheid

Die menslike brein is die mees komplekse struktuur in die skepping van God. Met sowat 86 miljard neurone en triljoene sinaptiese verbindings, vorm dit die sentrum van bewussyn, denke, emosie en die funksionering van die liggaam.
Die brein van die mens kan dus beskou word as ’n biologiese “rekenaar”, wat anatomies bestaan uit twee hemisfere of te wel ’n linker- en regter lob, asook uit die samestelling van grys- en witstof.
Elke deel van die brein vervul ’n unieke rol, maar werk voortdurend saam in geïntegreerde netwerke wat menslike ervarings moontlik maak. Wonderlik nê? Kom ons kyk vlugtig na die anatomie van hiérdie, deur God geskepte ‘biologiese rekenaar’ waarmee hy die mens, by name vir jou en my, toegerus het.

Anatomatiese oorsig

Die brein is verdeel in twee hemisfere, naamlik die linker hemisfeer en die regter hemisfeer, wat deur die corpus callosum verbind word.
Elke hemisfeer bevat vier hooflobbe: die frontale, pariëtale, temporale en oksipitale lob. Hoewel daar ’n mate van spesialisasie is tussen die hemisfere, is dit belangrik om te verstaan dat die meeste kognitiewe funksies ’n hoë graad van interaksie en oorvleueling toon.

Die twee hemisfere van die brein en linkshandigheid

Wanneer mense oor die brein praat, hoor ’n mens dikwels dat daar twee “helftes” is – die linker- en die regter hemisfeer. Die beeld is dat die linkerbrein logies, analities en taalvaardig is, terwyl die regterbrein kreatief, musikaal en emosioneel is. Alhoewel daar ’n kern van waarheid hierin is, is dit belangrik om te verstaan dat die brein baie meer kompleks werk as net ’n eenvoudige verdeling tussen links en regs. Beide hemisfere werk voortdurend saam deur die corpus callosum, ’n dik bondel senuwees wat die twee helftes verbind soos ’n brug.

Linker- en regter hemisfeer – Wat beteken “dominansie”?

Die term hemisfeer dominansie verwys na die feit dat sekere breinfunksies, soos taal, beweging en persepsie, meestal in een van die twee hemisfere gesentreer is. Byvoorbeeld, by die meerderheid mense is taal (spraak, lees en skryf) hoofsaaklik in die linker hemisfeer geleë. Dit beteken nie dat die regter hemisfeer niks daarmee te doen het nie, maar wel dat die linkerhelfte die belangrikste rol speel.
Die hemisfeer wat “dominant” is, beteken dus net dat dit ’n oorheersende funksie vir sekere take verrig. Vir meeste regshandige mense is dit die linker hemisfeer. Maar by linkshandiges is die prentjie nie altyd so eenvoudig nie.

Linkshandigheid en die brein

Handigheid – of iemand links- of regshandig is, is nie ’n keuse nie. Dit ontwikkel reeds vroeg in die moeder se baarmoeder, waarskynlik deur ’n kombinasie van gene en brein ontwikkeling (Papadatou-Pastou et al., 2020). Interessant genoeg is sowat 10% van mense wêreldwyd linkshandig, en dit bly relatief konstant oor kulture en geskiedenisse heen. Dit dui daarop dat linkshandigheid deel is van menslike diversiteit, en nie ’n “afwyking” nie.
Wat taal en hemisfeer dominansie betref, lyk die prentjie só:
• Ongeveer 70% van linkshandiges het steeds linker hemisfeer-dominansie vir taal, net soos regshandiges.
• Ongeveer 15% van linkshandiges het taal-dominansie in die regter hemisfeer.
• Die oorblywende 15% gebruik ’n meer gebalanseerde verspreiding tussen die twee hemisfere (Knecht et al., 2000).
Dit beteken dat linkshandigheid nie outomaties beteken dat die regter hemisfeer “oorheersend” is nie. Dit is eerder ’n spektrum, en die brein van linkshandige mense toon dikwels meer buigsaamheid en variasie as dié van regshandiges.

Hoe gebeur dit?

Wetenskaplikes glo dat hemisfeer dominansie verband hou met hoe die brein tydens ontwikkeling gespesialiseer het. By die meeste mense is die linker hemisfeer eenvoudig meer doeltreffend in die hantering van opeenvolgende inligting – soos die volgorde van letters in ’n woord of getalle in ’n som. Die regter hemisfeer is beter in die verwerking van patrone en visuele of ruimtelike inligting – byvoorbeeld om gesigte te herken of musiek se ritme te voel (Gazzaniga, 2000).
Omdat handigheid ook met beweging te doen het (die linker hemisfeer beheer die regterkant van die liggaam, en die regter hemisfeer die linkerkant), is daar ’n natuurlike verband tussen watter hand ons verkies en watter hemisfeer sekere funksies meer ontwikkel. Maar dit is nie ’n perfekte een-tot-een-verhouding nie. Linkshandigheid kan met óf linker- óf regter hemisfeer dominansie vir taal saamgaan.

Mite: Die “regterbrein-mens” vs die “linkerbrein-mens”

’n Baie gewilde mite sê dat mense óf “linkerbrein” (logies, analities) óf “regterbrein” (kreatief, emosioneel) is. Neuro-wetenskap wys egter daarop dat dit ’n oorvereenvoudiging is. Albei hemisfere is altyd betrokke, selfs in die eenvoudigste take. Selfs taal, wat tipies in die linker hemisfeer gesentreer is, gebruik die regter hemisfeer om intonasie, humor en konteks te verstaan. Net so gebruik musiek beide hemisfere: die regterkant vir toonhoogte en emosie, en die linkerkant vir ritme en struktuur (Corballis, 2014).
Dus, hoewel daar sekere neigings van spesialisasie is, is dit verkeerd om mense in net een boksie te plaas.
Kan dit chirurgies “reggestel” word?
Soms vra mense of handigheid of hemisfeer dominansie “reggestel” kan word – veral ouer generasies het linkshandige kinders probeer dwing om regshandig te skryf. Vandag weet ons dit is nie net onnodig nie, maar ook skadelik. Dit kan byvoorbeeld taalprobleme, disleksie of konsentrasie-probleme vererger, omdat dit die natuurlike brein organisasie versteur.

Wat chirurgie betref:

  • Daar bestaan nie ’n prosedure om hemisfeer dominansie te verander nie.
    • Neurochirurge kan wel, in gevalle van ernstige epilepsie, ’n hemisfeer gedeeltelik verwyder of “afskakel”. Verrassend genoeg kan kinders dan dikwels herstel, omdat die oorblywende hemisfeer sekere funksies oorneem (Vikingstad et al., 2000).
    • Maar dit is ’n uiterste en baie seldsame mediese ingreep, en dit beteken nie ons kan of moet mense se brein “herorganiseer” om hulle handigheid of dominansie te verander nie.
    Handigheid en hemisfeer dominansie is natuurlike variasies. Dit is deel van hoe die menslike brein se rykdom en diversiteit funksioneer.

Wat beteken dit prakties vir linkshandiges?

Die belangrikste gevolg van linkshandigheid is meestal sosiaal, nie neurologies nie. Omdat die wêreld ontwerp is vir regshandiges (deur byvoorbeeld die uitleg van skryfboeke, gereedskap, musiekinstrumente), ervaar linkshandiges soms uitdagings. Maar neurologies gesproke is hulle net so normaal soos regshandiges. Trouens, daar is studies wat wys dat linkshandiges ’n oor- verteenwoordiging het in kreatiewe beroepe, wetenskap en sport (Holder, 2001). Dit beteken nie dat linkshandigheid “beter” is nie – dit wys net dat breinvariasie soms unieke voordele bring.

In ’n neutedop

Die brein het twee hemisfere, links en regs, wat deur die corpus callosum verbind word. Funksies soos taal en beweging is nie gelyk versprei nie; daar is gewoonlik ’n dominante hemisfeer. By die meeste mense – regshandig of linkshandig – is dit die linker hemisfeer. By ’n kleiner groep linkshandiges is dit die regter hemisfeer, en by sommige is dit albei. Handigheid self word bepaal deur genetiese- en ontwikkelings-faktore en kan nie eenvoudig “verander” word nie. Chirurgiese ingryping is nie ’n opsie om dit reg te stel nie, en dit is ook nie nodig nie. Linkshandigheid is ’n normale variasie wat net nog ’n laag byvoeg tot die wonder van menslike breindiversiteit.
———————————————-oooOOooo—————————————-
©Pieter Mostert

Voetnotas

  • Die woord sinapies, is saamgestel uit die Griekse woorde syn, wat ‘saam’ beteken en ‘haptyn’, wat ‘verbinding’ of ‘om saam te voeg’ beteken. “Die woord synaptic verwys na iets wat verband hou met sinapsis, wat die verbinding is tussen twee neurone in die senuweestelsel. Dit sluit die prosesse in verband met die oordrag van seine van die een neuron na die ander in, insluitend die vrystelling van neurotransmitters en die aktivering van die volgende neuron.”
  • Die corpus callosum ’n bondel van miljoene senuweevesels wat kommunikasie tussen die twee kante fasiliteer (Kolb & Whishaw, 2015).

                               Bronne
• Corballis, M.C. (2014). Left Brain, Right Brain: Facts and Fantasies. PLoS Biology, 12(1), e1001767.
• Gazzaniga, M.S. (2000). Cerebral specialization and interhemispheric communication: Does the corpus callosum enable the human condition? Brain, 123(7), 1293–1326.
• Holder, M.K. (2001). Why are more people right-handed? Scientific American.
• Knecht, S., Dräger, B., Deppe, M., et al. (2000). Handedness and hemispheric language dominance in healthy humans. Brain, 123(12), 2512–2518.
• Papadatou-Pastou, M., et al. (2020). Left-Handedness: An Updated Meta-Analysis of Sex Differences in Prevalence, and a Review of Theories of Development and Cognitive Effects. Neuroscience & Biobehavioral Reviews, 119, 282–302.
• Vikingstad, E.M., et al. (2000). Language hemispheric dominance in patients with congenital lesions demonstrated by functional MRI. Neurology, 55(6), 823–828.

 

 

3.Piet Andersom

Soos dit seker maar in enige linkshandige seuntjie se lewe gaan, moes ek ook deurloop onder die venynige tong van ’n onderwyseres gedurende my kinderjare.
Ek was vier jaar oud en in die voorskoolse klas toe my juffrou my potlood uit my linkerhand geruk het.
“Nee, seuntjie, jy hou nie ’n potlood met jou linkerhand vas nie,” het sy beslissend gesê.
Sy het my linkerhand agter my rug onder my vlerkie vasgebind met ’n verband, soos wat jy iemand se arm sal spalk wat gebreek het; en die potlood in my regterhand gedruk.
“Kinders, kan ek asseblief julle volle aandag kry,” het sy met ’n neerhalende glimlag gesê. “Hier sit Piet andersom. Sy linkerarm lyk soos ’n uitroepteken wat ek nou in ’n vraagteken agter sy rug vasgebind het sodat hy soos ’n normale mens regs kan skryf.” Die kinders het heerlik gelag en saam begin spot.
Ek het egter nie gehuil nie, maar teruggetrokke geraak en stilweg verdwyn in ’n wêreld waar letters agteruit dans en papier altyd met natgeswete palmvlekke eindig. Ek’t links gebly, maar reg geleer kyk.
Met verloop van jare het ek begin ag slaan op die fyn lyne van andersheid, soos hoe ek die bladsye van boeke moes omblaai met ’n effense draai van die pols en hoe ek ’n hoe skêr moes vashou sonder om my vingers vas te knyp. Na my mening, so het ek geglo, is die wêreld soos ’n regshandige lessenaar gebou, glad afgewerk aan die regterkant en grof gelaat aan die linkerkant.
My pa het gedink dis net ’n grootword-fase waardeur ek gaan. “Jy moet net wil regshandig wees, my seun. Dis net ’n keuse my seun,” het hy gesê terwyl ek sukkel om my linkerarm agter my rug te hou en vir hom ’n koppie koffie te maak. Die ketel het my gebrand en die koppie met koffie het omgeval en op die vloer in skerwe gespat. Ek het net my skouers opgetrek en met my hande in my broeksakke weggestap. ‘Bogger‘ dit! het ek gedink. Genoeg is genoeg. Van vandag af is links eerste!
Dit was egter nie die alledaagse dinge wat my hoofbrekings besorg het nie. Dit was die si uitdrukkings wat mense gebruik soos onder andere “regterhand van die waarheid”, “die regte pad” en “reguit praat” of “reguit pad”.
Die linkerhand, sê hulle, is die hand van die satan wat bedrog pleeg, steel en verwoes. Laasgenoemde het my laat wonder of my linkerhand my ware hand is. As dit alles waar is, wat beteken my linkerhand dan vir my?
Eers toe ek op Kollege in die kuns begin studeer het, dinge begin verander.
Ek was 19-jaar oud en deel van ’n groep kunsstudente.
Op Kollege het ek saam met my klasmaats voor ’n esel in ’n tradisionele kunsateljee gestaan, met ’n wit verfdoek wat oor ’n eikehout spanraam getrek is. Ons moes leer om soos die groot kunsmeesters van ouds te skilder. Regshandig natuurlik.
Groot was my verbasing toe my einste voorskoolse onderwyseres van destyds die klas instap as kunsdosent. Sy het my egter nie herken nie.
Ek het my spoggerige stel linkerhandse verfkwaste met ’n krom greep wat soos ’n tweede vinger voel, uitgehaal. Ek het hulle spesiaal van Parys af ingevoer om die lewe vir myself makliker te maak.
Die dosent het my lank aangestaar, na my kunswerk gekyk, en toe gesê: “Dis onnatuurlik, daardie vloei. Jy buig jou lyne soos ’n rivier sonder oewer. Jy herinner my so baie aan ’n Piet andersom wat jare terug ’n voorskoolse kleuter in my klassie was.”
Ek het net geglimlag. “Miskien ís ek daardie einste Piet andersom en miskien is my ‘rivier’ in vloed.” Die dosent het my net vererg aangekyk en weggestap.
Later het ek begin om houtskool-portrette te teken. Ek het van regs na links geskets, met skaduwee eerste. Dit is soos om iemand van binne na buite te teken. Jy begin nie met die kontoer nie, jy begin met die skaduwees, en beweeg dan stelselmatig uit na die lig.
Ek het ’n spesiale houtskoolskets vir my dosent gemaak. Vandag hang hy in ’n raam teen haar kantoormuur. Die skets is ’n groot uitroepteken bo-oor ’n groot vraagteken, skuins en andersom, geteken Piet Andersom.
Onlangs het ek tydens ’n uitstalling van ’n reeks van my kunswerke getiteld: ‘Andersom Vingers,’ hierdie storie in ’n onderhoud vertel.
Elkeen van my sketse is met my linkerhand, agteruit, sonder uitvee geteken. Jy sien letters wat agteroorval en vlekke waar my palm die papier bederf het.
Dít is rou. Dít is eerlik. En dít is genoeg.
Dít is ék, Piet Andersom.
—————————————————ooo00ooo——————————————–
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 771]

 

NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP PROJEK

3.Die kwessie van genadedood in ons kontemporêre samelewing

Jare gelede toe ek en ’n jeugvriend van my, Frans du Toit, nagraadse studente in Teologiese Etiek aan die Universiteit van Suid-Afrika, (Unisa) was, moes ons ’n skripsie inhandig wat handel oor die kwessie van genadedood vanuit ’n teologies-etiese gesigshoek.
Onlangse gevalle van genadedood, (soms ook “eutanasie” genoem), het my denke geprikkel om weer nou, na verloop van bykans vyftig jaar, navorsing te doen oor die Etiese, en Godsdienstige en Regsfilosofiese aspekte van genadedood in ons moderne eeu.
Genadedood konfronteer na my mening sekerlik die mees fundamentele vrae van menswees, soos onder andere: Wat is die waarde van lewe? Wanneer, indien ooit, mag ’n mens die dood verkies? Het die mens die reg om sodanige besluit te neem?
Die kwessie is gelaai met emosie, etiek, regsaspekte en godsdienstige oortuigings. In ’n stadige maar merkbare wêreldwye verskuiwing, word genadedood al hoe meer bespreek as ’n moontlike opsie vir terminaal siek mense wat ondraaglike lyding beleef.
In Suid-Afrika bly die praktyk egter onwettig, en die vraagstuk kry besondere relevansie binne ’n kultureel diverse samelewing met diep godsdienstige wortels.
Ek het met Frans probeer kontak maak om te hoor wat sy siening omtrent genadedood is, en of hy nog staan by sy standpunt van destyds dat genadedood verkeerd is … want soos hy altyd gesê het: “Net God gee lewe en nét God mag lewe neem!”
Min het ek kon droom dat Frans intussen besig was om ’n verbete stryd teen terminale kanker te voer. Na ’n emosie-belaaide telefoongesprek met Linda, Frans se vrou, waartydens hy versoek het dat ek hom moet kom sien, het ek onmiddellik in vir my ’n vlug Windhoek toe bespreek, waar Frans hulle gewoon het.
Ek was geskok om hom na al die jare te sien, en kon nouliks glo dat ’n groot sterk man so kon wegkwyn tot ’n patetiese hulpelose figuurtjie. Ek moes hard sluk aan die ongemaklike knop in my keel en my selfbeheersing om nie in trane uit te bars nie, is tot die uiterste beproef.
Ek het langs Frans, wat nou al die afgelope drie jaar bedlêend was, gaan sit. Hy het my hand gedruk en met smekende oë na my gekyk terwyl hy gesê het: “Mossie, my vriend, ek kannie meer nie. Dit is een van die dae weer Kersfees en my hele gesin ly as gevolg van my siekte. Hulle sê dit nie, maar ek kan sien dat ek nou net ’n las vir hulle geword het”.
“Wat kan ek vir jou doen my vriend,” het ek gevra.
Skokkend was sy versoek: “Help my uit hierdie lewe, asseblief Mossie.” Ek kannie meer nie, Mossie. Linda en die kinders sal ’n vreugdevolle Kersfees kan vier, sonder om na my te hoef omsien, asseblief Mossie my ou maat,” het hy gepleit.
Ek het sy hand gelos en met trane in my oë opgestaan. Nee jammer, my vriend,” het ek gesê. “Jy vra die onmoontlike van my. Onthou jy wat jy in ons universiteitdae gesê het,“ het ek gevra.
“Ja”, het Frans gesê: “Net God gee lewe en nét God mag lewe neem!” maar, Mossie, nou voel ek anders oor die saak.”
“Jammer, my vriend, dit kan ek nie doen nie” het ek diep aangedaan gesê. “My bede vir jou is dat God jou lyding verlig en vrede in jou binneste bewerkstellig, totdat Hy besluit om jou te kom haal, want net God gee lewe en nét God mag lewe neem!”
Met hierdie woorde en ’n emosie-belaaide gebed saam met Frans, Linda en die kinders het ek gegroet en lughawe toe vertrek.
Die woorde: “Net God gee lewe en nét God mag lewe neem!” het egter in my kop bly maal.
Verlede Maandag het Linda my geskakel en gesê dat Frans vreedsaam in sy slaap oorlede is.
Teen die agtergrond van hierdie hartroerende insident het ek besluit om weer oor die onderwerp van genadedood na te vors en wel onder die volgende drie hoof-perspektiewe: eties-moralisties, regsteoreties en godsdienstig-teologies.
Ek het egter nie ten doel gestel om ’n finale antwoord te bied nie, maar om ’n genuanseerde begrip te bevorder van die kompleksiteit wat hierdie onderwerp kenmerk.
As vertrekpunt moet ons onsself die vraag afvra: “Wat is Genadedood?”
Genadedood word tipies in drie kategorieë verdeel:
1Aktiewe genadedood:
Dit is gevalle waar ’n dokter of ander derde party doelbewus ’n middel toedien wat die dood van ’n pasiënt tot gevolg het; en
2Passiewe genadedood:
Dit is gevalle waar mediese behandeling, lewensondersteuning of kunsmatige met behulp van masjiene onttrek word, wat die sogenaamde natuurlike dood van ’n pasiënt tot gevolg het.
3. Geassisteerde selfdood:
Dit is gevalle waar waar die geneesheer die pasiënt van die middele voorsien om om self die handeling van genadedood te kan uitvoer op hom / haarself.

Die onderskeid is belangrik, want verskillende lande laat soms slegs beperkte vorme toe. Terwyl lande soos Nederland en België aktiewe genadedood wettig gemaak het, erken baie ander lande slegs die onttrekking van mediese ondersteuning as eties aanvaarbaar.
2. Etiese Argumente Ten Gunste van Genadedood
2.1 Outonomie en Menswaardigheid
Een van die sterkste argumente vir genadedood is die beginsel van persoonlike outonomie, die idee dat elke individu die reg het om oor sy/haar eie liggaam en lewe te besluit. Hierdie beginsel vind grond in liberale etiek en mediese reg, waar ingeligte toestemming sentraal staan.
Indien ’n terminaal siek pasiënt ondraaglike lyding ervaar en geen realistiese kans op herstel het nie, soos wat die geval met Frans was, is die redenasie dat dit onmenslik is om hulle te dwing om verder te leef teen hul wil.
2.2 Voorkoming van Ondraaglike Lyding
Lyding kan fisies, sielkundig of eksistensieel wees. Ondanks moderne pynmedikasie ervaar baie sterwende pasiënte steeds:
• onbeheerbare pyn;
• verlies van funksie;
• verlies van waardigheid;
• depressie en angs; en
• totale afhanklikheid.
Kan geredeneer word dat genadedood, wat Frans versoek het, eerder gesien moet word as ’n daad van barmhartigheid, in die sin dat dit ’n manier sou wees om sy ondraaglike pyn en lyding te beëindig omdat daar in sy geval volgens die medici geen hoop vir verbetering van sy toestand bestaan het nie?
2.3 Bydra tot ’n Menswaardige Sterwe
Waar die filosofie van quality of life oorheers, word aangevoer dat die kwaliteit van lewe soms so laag word dat die verlenging daarvan eties problematies raak. Lewe op sigself word nie as absoluut waardevol gesien nie; dit is die kwaliteit van daardie lewe wat die etiese gewig dra.
3. Etiese Besware Teen Genadedood
3.1 Die Heiligheid van Lewe
Teenstanders argumenteer dat menslike lewe inherent waardevol is, ongeag omstandighede. Hierdie standpunt is diep gewortel in godsdienstige denke, maar word ook deur sekulêre humaniste gehandhaaf. Lewe is nie iets wat deur mense begin of beëindig moet word nie. Laasgenoemde in aggeneem, is dit dan mos reg as ons sê: “Net God gee lewe en nét God mag lewe neem!”
3.2 Gevaar van ’n Glybaan (“Slippery Slope”)
Die wettiging van genadedood kan na my mening tot misbruik lei, in die sin dat:
• dit by bejaarde persone ingeprent kan word om nie ’n “las” vir hul familie te wees nie, (soos Frans self ook geglo en teenoor my bely het tydens my besoek aan hom);
• erfgename kan druk uitoefen op bejaarde ouers wat terminaal siek is deur middel van gedurige manipulasie;
• die gevaar is dat die toepassing van genadedood mag uitbrei na nie-terminale siek pasiënte; en dat
• die moontlikheid bestaan dat kinders, gestremdes of mense met depressie ook vir genadedood oorweeg mag word.
My navorsing het aan die lig gebring dat hierdie glybaan(“Slippery Slope”) in sommige Europese lande reeds op die mespunt van ’n hewige debat is, omdat die kriteria vir genadedood mettertyd uitgebrei het.
3.3 Swak Pynbestuur en Palliatiewe Sorg
Baie teenstanders van genadedood in veral die veld van die mediese etiek, voer na my mening tereg aan, dat beter palliatiewe sorg die meeste lyding van terminaal siek pasiënte kan aanspreek.
Die probleem is volgens hulle nie dat mense wil sterf nie, maar dat hulle nie behoorlik ondersteun word nie.
3.4 Morele Gevolge vir die Mediese Beroep
Die fundamentele mediese etiek van primum non nocere (“doen eerstens geen skade nie”) kom onder druk. Indien dokters die rol van ‘lewensbeëindigers’ kry, kan dit:
• vertroue tussen pasiënt en dokter skaad;
• die aard van die mediese beroep verander; en ook
• dokters se eie gewete teenstrydig beïnvloed.
4. Regs- en Beleidsaspekte
4.1 Internasionale Voorbeelde:
• Nederland en België:
Hierdie lande het aktiewe genadedood wettig gemaak onder streng voorwaardes. Ten spyte van internasionale kritiek toon studies dat die stelsel relatief stabiel funksioneer, maar daar is tog tekens van kriteria-uitbreiding.
• Kanada:
Het in 2016 “MAID” (Medical Assistance in Dying) ingestel. Wat as ’n beperkte wet begin het, is intussen uitgebrei om nie-terminale toestande soos ernstige depressie in sekere gevalle in te sluit.
• Die VSA:
Slegs sommige state laat geassisteerde selfdood toe, nie aktiewe genadedood nie.
• Switserland:
Laat geassisteerde selfdood toe, maar nie aktiewe genadedood nie.
4.2 Die Suid-Afrikaanse Konteks
In Suid-Afrika is genadedood tans onwettig. Tog is daar belangrike regsgevegte:
• Die Stransham-Ford-saak (2015) waarin die Hooggeregshof genadedood vir ’n terminaal siek man wou toestaan, maar die beslissing is later in die appèlhof omgekeer; en
• Parlementêre komitees het oor die afgelope dekade verskeie kere die debat heropen, maar geen wetgewing is nog verander nie.
Suid-Afrika se menseregte-oriëntasie, gemeng met sy godsdienstige demografie, skep ’n besondere kompleksiteit. Die Grondwet beskerm beide die reg op lewe en die reg op menswaardigheid, en die spanning tussen hierdie twee regte vorm die kern van die debat.
4.3 Die Reg op Lewe vs. Die Reg op Menswaardigheid
Regsteoreties argumenteer voorstanders van die toepassing van genadedood dat ’n waardige dood deel vorm van menswaardigheid. Teenstanders van die toepassing van genadedood argumenteer weer dat die reg op lewe ’n hoër orde reg is wat nie onderhandelbaar is nie. Dus: “Net God gee lewe en nét God mag lewe neem!”
Sommige regsfilosowe meen dat palliatiewe sedasie, (laaste-stadium pynbeheer wat die dood kan versnel), reeds ’n vorm van passiewe genadedood is, en dus dat die wet in praktyk reeds ruimtes laat vir waardige sterwe, mits dit nie die gevolg van doelbewuste lewensbeëindiging nie.
5. Godsdienstige Perspektiewe
5.1 Christendom
Die dominante standpunt in meeste Christelike denominasies is dat lewe ’n gawe van God is en slegs Hy die gesag het om dit te beëindig. Tekste soos Psalm 139 en Job 1:21 word dikwels aangehaal. Tog is daar moderne teoloë wat meen dat God se barmhartigheid ook die reg op ’n waardige dood kan insluit.
5.2 Islam
In Islam is genadedood oor die algemeen verbode. Lyding word soms gesien as deel van die menslike toetsing deur Allah, en die beëindiging van lewe word as inmenging in God se wil beskou.
5.3 Judaïsme
Tradisioneel is Judaïsme sterk gekant teen genadedood, hoewel sommige liberale Joodse bewegings beperkte vorme van passiewe genadedood oorweeg.
5.4 Afrika-gebaseerde tradisies
Verskeie Afrikagebaseerde wêreldbeskouings beklemtoon gemeenskap, voorouerskap en die heiligheid van lewe. Sterwe is deel van die siklus van bestaan, en die gemeenskap speel ’n groot rol. Selfstandige besluitneming om dood te verkies kan as kultureel problematies beskou word.
5.5 Sekulêre Humanisme
Humaniste beklemtoon vryheid, outonomie en menswaardigheid. Vir hulle is die beëindiging van ondraaglike lyding ’n rasionele en eties verdedigbare opsie.
6. Sielkundige en Maatskaplike Faktore
6.1 Depressie en Besluitnemingsvermoë
Dit is moeilik om te bepaal of terminaal siek pasiënte wat genadedood oorweeg, dit doen uit rasionele besluitneming of uit depresiewe hopeloosheid. Studies toon dat tot 30% van sulke pasiënte behandelbare depressie het.
6.2 Familie- en Finansiële Druk
Selfs subtiele druk kan ’n groot rol speel. Veroudering, kwesbaarheid en afhanklikheid van familie skep omstandighede waar pasiënte bang is om ’n las te wees. Die vraag ontstaan: Is iemand se keuse werklik vry?
6.3 Die Samelewing se Uitkyk op Ouderdom en Gestremdheid
Waar samelewings sterk fokus op produktiwiteit, kan swak gesondheid as onwaardig beskou word. Dit kan ’n gevaarlike kultuur skep waarin mense voel hulle moet sterf eerder as om afhanklik te wees.
7. ’n Genuanseerde Benadering: Moontlike Riglyne
Indien ’n land soos Suid-Afrika ooit genadedood sou oorweeg, moet streng voorwaardes geld, soos:
1. Onbehandelbare, terminaal progressiewe siekte bevestig deur onafhanklike dokters.
2. Behoorlike sielkundige evaluasie.
3. Bewys dat alle palliatiewe opsies uitgeput is.
4. Geen druk van familie of finansiële oorwegings nie.
5. Onafhanklike toetsing deur ’n etiekpaneel.
Dit sou help om misbruik te beperk en menswaardigheid te beskerm.
8. Gevolgtrekking
Dit bring my nou tot die gevolgtrekking dat genadedood ’n diep menslike vraagstuk is in die sin dat dit handel oor die spanning tussen lewe en dood, vryheid en beskerming, lyding en barmhartigheid.
Ons as mens is na my mening deur God getaak om toe te sien tot die handhawing van die fyn balans wat daar heers tussen:
• individuele outonomie en sosiale verantwoordelikheid;
• mediese vooruitgang en morele beginsels;
• tussen regte en pligte; en tussen
• godsdiens en sekularisasie
Daar is geen eenvoudige antwoorde nie, maar dit is noodsaaklik dat samelewings hierdie gesprekke eerlik, deernisvol en goed ingelig voer.
Wat ook al die uitkoms, moet dit na my mening die menswaardigheid van elke persoon, hetsy in lewe of sterwende te alle tye eer.
Dus was my hantering van Frans se versoek soos voormeld korrek in die woorde: “Net God gee lewe en nét God mag lewe neem!”
————————————————————–oooOooo———————————-
©Pieter Mostert
                                            Bronnelys
Beauchamp, T. & Childress, J. (2019). Principles of Biomedical Ethics. 8th ed. Oxford: Oxford University Press.
Dworkin, R. (1993). Life’s Dominion: An Argument About Abortion, Euthanasia, and Individual Freedom. New York: Vintage.
Keown, J. (2002). Euthanasia, Ethics and Public Policy: An Argument Against Legalisation. Cambridge: Cambridge University Press.
Sulmasy, D. (2018). ‘The Ethics of Assisted Suicide’, Theoretical Medicine and Bioethics, 39(3), pp. 183–195.
World Medical Association. (2015). WMA Declaration on Euthanasia and Physician-Assisted Suicide.
South African Law Reform Commission. (2018). Report on Euthanasia and the Artificial Preservation of Life. Pretoria: SALRC.

 

APRIL 2025 – PATRIOTISME PROJEK

1.Laat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly

Toe ek nog ’n kind was het ek baie vakansies by my oupa op sy plaas deurgebring. Oupa het baie gesegdes gehad, maar die een gesegde wat my altyd sal bybly is: “Pietman … Seun, jy moet altyd ’n ware en opregte patriot vir jou land wees. Dan het hy verder gesê, terwyl hy opgekyk het na die hemel: “Op U almag vas vertrouend het ons vadere gebou. Skenk ook aan ons die krag, o Here, om te handhaaf en te bou, dat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly.”

Op my vraag oor wat ware patriotisme is, het Oupa gesê: “My seun, patriotisme is soos ek en Ouma. Ons is lief vir ons Afrikaner-volk, vir ons Afrikaanse taal, vir ons land en sy vlag, ons Afrikaner-kultuur en ons godsdiens. Ons woon ook gereelde feesdae by en ons onderhou die Gelofte op Geloftedag.”

Vir baie jare was my gedagtes geprikkel deur die woord “patriotisme”. Op universiteit kry ek toe die geleentheid om navorsing te doen oor waar patriotisme sy oorsprong vandaan verkry het en wat patriotisme presies is? Vervolgens deel ek ’n fragment uit my navorsingsnotas met die leser van hierdie artikel.

Die woord patriotisme het sy oorsprong in die Griekse taal, spesifiek vanaf die woord patriōtēs, wat “mede-landgenoot” of “iemand van dieselfde vaderland,” beteken. Laasgenoemde is weer afgelei van die woord patris, wat “vaderland” beteken; en hou verband met patēr, wat “vader” beteken. Vanuit die Grieks het dit deur die Latynse taal (patriota) ontwikkel, en later in Europese tale soos Frans en Engels ingeburger geraak as “patriotism”.

Patriotisme het nie ’n enkele “vader” nie, as ek dit so kan stel. Patriotisme is, sover ek kon navors, eerder ’n idee wat gegroei het uit die denke van verskeie filosowe en historiese figure soos onder andere die Duitse denker Johann Gottfried Herder, wat sover terug as 1744 die mening uitgespreek het dat elke volk sy eie unieke kultuur, taal en identiteit moet hê. Hierdie uitspraak van Herder, het die grondslag gelê vir kulturele patriotisme en later nasionalisme, waar mense trots is op hul erfenis en oorsprong.

Nog verder terug, tot sover as 1469 in die Italiaanse-geskiedenis, het die staatsdenker, Niccolò Machiavelli, ’n pleidooi gelewer in een van sy boeke getiteld “Discourses on Livy,” vir die vorm van sterk republieke vir burgers wat lojaal en toegewyd aan hul staat is. Machiavelli, het burgerlike plig as die noodsaaklikste vereiste vir die voortbestaan van ’n nasie beskou.

In 1945 van die 20ste-eeuse, het die Britse skrywer George Orwell, in sy essay “Notes on Nationalism (1945),” onderskeid getref tussen patriotisme en nasionalisme. Vir Orwell was patriotisme ’n liefde vir jou land en lewenswyse, sonder aggressie teenoor ander.

As mens een invloedryke figuur moet uitlig, staan die naam van die Franse filosoof, Jean-Jacques Rousseau in die jaar 1712 van die 18de-eeuse sentraal. Hy word blykbaar allerweë beskou as die formuleerder van moderne patriotiese denke. Rousseau was ’n sleuteldenker van die sogenaamde “Verligting” en het ook in sy boek: “Du contrat social (1762)” aangevoer dat die staat gebou is op ’n “sosiale kontrak” tussen burgers. Rousseau se idee van die algemene wil het mense aangemoedig om hulself as deel van ’n groter gemeenskap te sien. Dit het sterk bygedra tot moderne idees van burgerlike lojaliteit en patriotisme.

Teen hierdie agtergrond kom ek nou tot die gevolgtrekking dat daar egter ’n dieper betekenis in patriotisme lê. Oppervlakkig gaan dit oor liefde vir jou land; maar op ’n dieper vlak ervaar dit ’n gevoel van “behoort,” soos ’n kind wat deel is van ’n familie. In die diepere sin van die woord is jou “vaderland” dus nie net grond of grense nie, maar ’n geestelike en kulturele tuiste wat insluit taal, kultuur, opvoeding, mense, en gedeelde geskiedenis.

In sy mees gebalanseerde vorm is patriotisme nie blind nie. Ware en opregte patriotisme erken ook foute en werk daaraan om die land beter te maak. Die dieper betekenis lê dus minder in blote trots, en meer in verbondenheid, lojaliteit en verantwoordelike liefde vir die plek en mense waaraan jy behoort.

As ek nou reg verstaan omvat die woord “patriotisme” ’n onwrikbare liefde vir jou land en daarmee saam ook ’n sterk gevoel van trots vir jou godsdiens, taal, kultuur, geskiedenis en morele waardes.

Dus kan met sekerheid gesê word dat sodanige persoon ’n patriot vir sy vaderland is. ’n Ware en opregte Patriot openbaar ook respek vir die landsvlag en die volkslied, neem deel aan geskiedkundige dae en ander gemeenskap aktiwiteite.

Ons is so geneig om altyd alles in die lewe as vanselfsprekend en goedsmoeds te aanvaar. Hoe lees die spreekwoord? “Laat Gods water oor Gods akker vloei.” Beteken dit dat ons net alles wat in die lewe gebeur as Gods water oor Gods akker moet aanvaar wanneer dit kom by vaderlandsliefde of te wel patriotisme?

Hoe dikwels hoor ons nie ’n persoon sê: “Wat moet gebeur, sal gebeur”, of “Vandat ek opgegee het gaan dit met my baie beter.” Hoe naïef is sulke uitlatings nie? Beteken dit dan nou dat ek ’n passiewe houding moet inneem en my patriotiese waardes oorboord moet gooi, teen die agtergrond van die chaotiese wyse waarop my land deur die huidige korrupte regeerders bestuur word?

’n Patriotiese persoon dien sy land, respekteer sy taal en wil nét die beste vir sy land hê. ’n Patriot is nie ’n weghardloper deur te emigreer na ander lande toe nie, maar is bereid om soos die Stem van Suid-Afrika lees: “ … ons sal lewe, ons sal sterwe …,” vir sy land, taal en kultuur, te midde van ’n korrupte sogenaamde demokratiese regering in ons land.

Soos my Oupa, wat in my oë ’n ware patriot was, altyd gesê het toe ek nog kind was: “… laat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly.”
——————————————–oooOooo———————————
©Pieter Mostert [woordtelling = 1097]
Bronne:
* Oxford Languages. (2024). Patriotism. Oxford English Dictionary.
* Merriam-Webster. (2024). PatriotismMerriam-Webster Dictionary.
* Liddell, H.G. & Scott, R. (1940). A Greek–English Lexicon. Oxford: Clarendon Press.
* Lewis, C.T. & Short, C. (1879). A Latin Dictionary. Oxford: Clarendon Press.
* Machiavelli, N., 1998. Discourses on Livy. Chicago: University of Chicago Press.
* Orwell, G., 1945. Notes on Nationalism. London: Polemic.
* Rousseau, J.-J., 1968. The Social Contract. Harmondsworth: Penguin.
* Scruton, R., 2002. A Dictionary of Political Thought. London: Macmillan.
* Worden, N., 2012. The Making of Modern South Africa. 5th ed. Oxford: Wiley-Blackwell.

 

AUGUSTUS 2026 – AANHALINGS PROJEK

2.Waar siel en liggaam ontmoet

Daar is ‘n bekende gesegde wat lui: “Ek sukkel om liggaam en siel bymekaar te hou. ” Die eenvoudigste, maar een van die diepste lewenswyshede wat uit die Kalahari gekom het, is die ou Boesmangesegde; “Ek moes kort-kort op my hurke gaan sit, sodat my siel my liggaam kan inhaal.”
In net ’n paar woorde word ’n waarheid vasgevang waarmee die moderne mens daagliks worstel. Ons leef vinnig. Ons dink vinnig. Ons reis vinnig. Maar ons siele beweeg nie teen dieselfde pas as ons liggame nie.
Wanneer ’n Boesman hierdie woorde uitspreek, dink hy nie noodwendig aan moegheid nie. Hy praat van balans. Hy verstaan dat ’n mens nie net uit vlees en bloed bestaan nie. Daar is ook ’n innerlike mens wat tyd nodig het om alles wat die oë gesien, die ore gehoor en die hart beleef het, te verwerk. Daarom gaan sit hy soms in stilte op sy hurke – nie omdat sy bene moeg is nie, maar omdat sy siel nog op pad is.
Ek wonder dikwels of dít nie juis is wat ons in ons moderne tyd verloor het nie.
Ons jaag van afspraak tot afspraak. Ons telefone lui sonder ophou. E-posse wag vir antwoorde. Nuus stroom elke minuut in oor ons skerms. Selfs wanneer ons sogenaamd rus, bly ons oë vasgenael op ’n skerm wat nooit stil word nie. Ons liggaam is oral, maar ons gedagtes is nêrens. Ons leef, maar ons beleef nie meer nie. Ons kommunikeer ook nie meer nie.
Die ou Boesmans sou ons gejaagde lewenswyse waarskynlik nie verstaan het nie.
Vir hulle is die Kalahari nie ’n leë woestyn nie, maar ’n plek wat praat. Elke wind dra ‘n verhaal. Elke voëlroep het ’n spesifieke betekenis. Die spore van ’n gemsbok, die voetafdruk van ’n springbok of ’n jakkals. Die sirkel van ’n miskruier is nie bloot tekens in die sand nie. Dit is sinne in ’n boek wat gelees moet word.
Maar om daardie boek te lees, moet ’n mens eers stil word.
Dit is waarom stilte vir ’n Boesman nooit leeg is nie. Stilte is vol lewe. Wanneer ’n Boesman op sy hurke gaan sit, mors hy nie tyd nie. Hy vind tyd. Hy luister na die wind wat deur die grashalms fluister. Hy asem die reuk van droë sand in. Hy hoor sy eie asemhaling. En êrens tussen hemel en aarde sluit sy siel weer by sy liggaam aan.
Hoe anders is ons moderne wêreld vandag.
Ons meet sukses aan spoed. Hoe vinniger jy werk, hoe belangriker lyk jy. Hoe voller jou dagboek, hoe suksesvoller voel jy. Ons spog dat ons nie tyd het nie, asof besigheid ’n medalje geword het. Intussen raak ons al hoe vreemder vir onsself.
Miskien verklaar dít juis waarom soveel mense vandag moeg is sonder dat hulle fisies hard gewerk het. Hulle liggame funksioneer nog, maar hul siele sleep ver agter hulle aan. Hulle glimlag nog, maar die vreugde het stilweg verdwyn. Hulle bereik hul bestemmings, maar hulle onthou nie die reis nie.
Die Kalahari leer mens iets anders.
Daar is geen haastigheid in ‘n kameeldoringboom nie. Hy groei stadig – skaars sigbaar. Tog staan hy eeue later steeds waar hy sy wortels diep in die sand ingedruk het. Die duine jaag nie na mekaar nie. Hulle beweeg met die wind wanneer die tyd reg is. Selfs die son kom elke oggend op sonder om ooit te hardloop.
Net die mens dink hy moet altyd vinniger wees.
Daar is nog ’n betekenis in hierdie Boesmanwysheid. Om op jou hurke te gaan sit, plaas jou nader aan die aarde. Jy voel die sand onder jou voete. Jy raak bewus van jou kleinheid. Jy besef jy is nie die middelpunt van die skepping nie. Nederigheid begin dikwels wanneer ’n mens ophou om altyd bo alles te wil uitstyg en weer leer om naby die grond te leef.
Ek glo dit is waarom die Boesmans nooit die natuur probeer oorheers nie. Hulle weet hulle behoort aan en is deel van die natuur. Die wind is nie hul vyand nie. Die son is nie hul teenstander nie. Selfs droogte is nie bloot ’n vloek nie, maar deel van die ritme van die lewe.
Die Boesmans het nie die aarde probeer onderwerp nie. Hulle het haar gelees soos ’n oop boek, haar gerespekteer soos ’n moeder en in harmonie met haar geleef, nooit in vyandskap teenoor haar nie. Waar harmonie ophou, begin verdeeldheid. Waar die mens homself bo die natuur verhef, verdwyn die vrede tussen mens, dier en aarde.
Miskien het ons hierdie geheim vergeet.
Ons bou al hoe groter stede. Ons ontwerp slimmer masjiene. Kunsmatige Intelligensie beantwoord binne sekondes vrae waarvoor mense vroeër dae lank moes soek. Dit wil voorkom asof vrede al moeiliker gevind word. Hoe meer ons besit, hoe meer wil ons hê en hoe minder raak ons tevrede. Hoe meer ons weet, hoe minder verstaan ons soms onsself.
’n Boesman sal waarskynlik net glimlag en dan weer op sy hurke gaan sit. Hy sal sy hand deur die rooi sand laat gly en na die horison kyk waar die hittegolwe dans. Hy sal wag totdat sy asem rustig word. Sonder om een woord te sê, sal hy ons meer leer as wat baie boeke ooit kan doen, want ware wysheid lê nie altyd in gesproke woorde nie. Dit word geleef.
Ek dink elke mens behoort sy eie plek te hê waar hy van tyd tot tyd op sy hurke kan gaan sit. Vir sommige is dit in sy tuin. Vir ander die see, op ’n berg of ’n stil kerkgebou êrens. Vir my is dit dikwels die uitgestrekte Kalahari, waar die wind nog ou tale praat en die duine die geheue van eeue bewaar. Daar besef ek weer hoe klein ek is, hoe groot God is en hoe kosbaar elke oomblik van stilte werklik is.
Die ou Boesmangesegde: “Ek moes kort-kort op my hurke gaan sit, sodat my siel my liggaam kan inhaal.” is daarom veel meer as ’n mooi beeld. Dit is ’n uitnodiging. ’n Uitnodiging om stadiger te leef. Om die geraas af te skakel. Om weer te luister. Om asem te haal. Om te onthou dat ons nie masjiene is wat net moet presteer nie, maar mense met siele wat ook versorg moet word.
Miskien behoort ons almal vandag, al is dit net vir ‘n paar minute, op ons hurke te gaan sit.
Nie omdat ons liggame moeg is nie, maar omdat ons siele nog besig is om ons in te haal.
—————————–oooOooo——————————
Pieter Mostert [woordtelling = 1082]
Aanhaling: “Ek moes kort-kort op my hurke gaan sit, sodat my siel my liggaam kan inhaal.” Uit my persoonlike veldnotas tydens gesprekke met Buks Appelblaar asook my Digbundels:
• Mostert, P. Die taal wat Kaalvoet Praat. 2020: Groep 7 Drukkers en Uitgewers (Edns) Bpk.
• Mostert, P. God die Digter. 2020 HartWood Digital Printing, Midrand, Gauteng.
• Mostert, P. Kalahari-spore. 2020 HartWood Digital Printing, Midrand, Gauteng.

 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed