Jongste aktiwiteit:

Chucky herleef in 2019

Vandag, vir die eerste keer in my ganse lewe, was ek bang vir ʼn kind. Daardie verlammende vrees wat so stadig oor mens kruip tot jou spiere heeltemal lam word. My bloed het yskoud en dik in my are gevloei en hoendervleis het van my bene al boontoe gekruip. Of dit sy houding, gesigsuitdrukking of blote teenwoordigheid was, sal ek dalk nooit weet nie, maar dit gebeur nie aldag dat ek in ʼn hoek sit en bewe na die interaksie met ʼn elf jarige kind nie.

Op dae wanneer vriendin se hande te vol is, help ek graag met haar periodieke boek uitstallings by Afrikaanse Laerskole. So deur die afgelope jare het ek hierdie kort geleenthede met die jonger kinders baie geniet en oor die algemeen hulle goed gemanierd. Oor die algemeen. Nou en dan gebeur dit tog dat mens by ʼn skool besoek aflê waar die kinders se morele kompas oënskynlik nie heeltemal ʼn reguit lyn kan trek nie. Of dit die gehalte van die onderrig is, die buurt waarvandaan die kinders kom of dalk meer waarskynlik die opvoeding tuis, maak seker nie veel saak nie. Die feit bly dat sommige skole se kinders langer vingers het as ander, meer bevoorregte skole. Maak nie saak dat almal blank en Afrikaanssprekend is nie.

Lyk my die beskikbaarheid aan voldoende spandeergeld hou die meeste se vingers ʼn rapsie korter as ander. En glo my, dit is iets waarvoor ek heeltemal begrip het. As jy nou regtig iets met jou hele-hele hart begeer maar dit nie kan bekostig nie, dan is dit sommer net tjok-en-blok propvol hartseer. As kind moes ek dikwels hoor dat ons iets nie kan bekostig nie. Daar was nie geld vir gekoopte klere, ballet klasse of ʼn handvol toffies nie. Ek het kaalvoet atletiek gehardloop en my skoolrok het van graad 1 tot standerd twee gepas. Elke dag het ek by die kafee ingehardloop, ʼn brood van die rak gegryp en vinnig die munte op die toonbank neergesit voordat ek die snoepgoed kon raaksien. Hoe minder ek gesien het, hoe minder het dit gepla. Maar dit het nie beteken dat my hartjie nie gesnik het van begeerte nie.

Maar nou eers weer terug na vandag se skool.

Dit is ʼn vier-dag lange uitstalling en ek is op my eie daar. Die stapels en stapels boeke word uitgesorteer en gepak volgens die kinders se ouderdom en/of leesvermoë. Ek probeer om orals te sien, maar my twee oë kan net nie orals gelyktydig kyk nie. Nou en dan sal mens aan ʼn kind se liggaamshouding opmerk dat sy sakke leeg van munte is maar dit beteken nie dat hy (of sy) die vertrek sonder inkopies gaan verlaat nie! En dit is moeilik om gelyktydig polisieman sowel as verkoper te speel.

Die een kind – ons noem hom sommer Chucky – laat my hare rys. Letterlik. Hy is so ʼn stil kind met broeiende oë. Praat nie ʼn woord nie en sluip van die een boek na die ander met honger duidelik leesbaar op sy gesig. Elke hartklop pols begeerte. Toe hy op ʼn keer by my tafel kom staan en my baie ernstig aanstaar, dop my hart ten minste twee maal in die verkeerde rigting om.

Ek begin wonder oor hierdie outjie. Oor sy huislike omstandighede en so aan. Wat leer hy tuis wat so ʼn koelbloedige uitwerking op sy lewe het? Is dit sy pa, ma of dalk sibbe wat hom afknou? Word hierdie kind mishandel of bloot net opgelei in misdaad? My hart vertel dat hierdie kind nie oud sal word nie en dat sy lewe heel moontlik voor sy agtiende verjaardag gewelddadig sal eindig. As hy gelukkig is, mag dit dalk met ʼn paar jaar en die uitdien van tronkstraf verleng word. Verder is daar … niks. En as jong kind is hy alreeds ʼn koelbloedige misdadiger.

Met die aanbreek van die tweede dag begin hy smeek vir ʼn boek. Alhoewel my hart vir elke leesgierige kind bloei, kan ek nie, mág ek nie boeke weggee nie. Dit is nie my eiendom nie en ek het nie ʼn eindelose bron van kontant om vir elkeen wat met ʼn groot storie daar aankom, ʼn boek te koop nie. Nie die geld of die boeke behoort aan my nie, maar ek is verantwoordelik om aan die einde van die dag die balansstaat te laat klop en die veilige bewaring van die boeke rus swaar op my skouers.

Later die dag wil Chucky een van sy eie boeke omruil vir die boekwinkel s’n. Hy verstaan maar swaar dat dit nie so kan werk nie. Vroeg die volgende oggend is hy bereid om sy Bybel vir my te gee in ruil vir ʼn ander boek. Ek moes lag vir sy innoverende plan. Óf daardie Bybel het nie die verwagte waarde nie, óf hy reken dit het genoeg waarde om as ruilmiddel aangebied te word.

Na die derde boek reg onder my neus uit gegaps word, laat ek die hoof se kantoor weet dat hierdie skool ʼn spul diewe huisves. Ek is skuins-vies en wil net oppak en huis toe gaan! Dit lok die gepaste reaksie uit en gou-gou maak ʼn senior personeellid sy opwagting om die storie te hoor. Ons praat onder andere oor Chucky en dat hy bekend is vir sy besonderse lang vingers.

Vroeg die volgende oggend word ek daarvan bewus dat die twee jong misdadigers blykbaar belet is om naby die saal te kom. Maar dit keer nie heeltemal vir Chucky nie. Net vir oulaas moes hy om die deur kom loer en my baie duidelik laat verstaan dat hy my dophou. Ek wonder of dit nodig sal wees om gewapen skool toe te kom? Word my lewe werklik bedreig deur ʼn elf jarige snotkop kind met te veel waagmoed en te min gesonde breinselle?

Hierdie kind se houding is vir my die simptoom van ʼn veel groter probleem en nie soseer die probleem self nie. Word kinders met geestelike versteurings gebore of gebeur daar iets onnoembaar wat hul op so ʼn afdraande pad na ʼn lewe van groot smart aanhelp? Was dit voor geboorte reeds so beplan of is hy die onwillige hoofkarakter op die verhoog in sy eie lewe? Elkeen het ʼn keuse in elke situasie, maar dit lyk asof sommige nie die onskatbare waarde van daardie keuse raaksien nie.

Wanneer ʼn nuwe mamma haar baba vir die eerste keer in haar arms vashou, dink sy sekerlik nie dat hierdie kind dalk eendag ʼn dief/vroueslaner/verkragter/dwelmhandelaar of dalk ʼn moordenaar sal word nie. Al wat sy raaksien is die volmaakte mensie wat skeeloog na haar kyk, mondjie soekend na ʼn lou-warm ete. Waar begin dit verkeerd gaan?




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

2 Kommentare

  • Kiekies

    En as jy daai antwoord kry, sal jy ons asseblief ook inlig? Jy het my soos 'n Hoover ingesuig, opgesuig, met hierdie skryfsel!

    • Ano

      Kyk hoe mooi speel die heelal saam, en ek beland heel "toe-val-lig" in die geselskap van 'n kindersielkundige! Kon byna nie wag dat daar 'n oomblik van stilte aanbreek nie :-D Sy se dat dit meestal oorerflike eienskappe is. Sou daardie kind by iemand anders grootword, ;n 'normale' huislike lewe kry en gesonde waardes ingeprent word, mag daardie eienskappe dalk nooit ontwikkel nie. Nou, hier by die ouer wat aan daardie persoonlikheidsversteuring ly, is die kans byna 100% dat die kind ook so sal word. En omstandighede maak dit ook nie makliker nie. 'n Gebrek aan geld gee daardie kind op vele vlakke reeds 'n agterstand. Dink maar daaraan dat so 'n kind nooit by 'n professionele persoon sal uitkom wat hom dalk sal kan help om sy gedrag te verander nie. Sy reken dat hierdie kind dalk reeds manipulerende gedrag aangeleer het, en my bloed ys as ek dink wat ook dalk eendag deur hom oorgedra sal word.

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed