Dagbreek
‘n versluierde tafereel van opaal ontvou
uit mistieke newels van fetale blou
die eindelose wonder van die suisend soekende see
roerende, roepende branders sleur my mee
uit die nag se swart kom die bruidegom
sy lig oorwelf die duister horison
seëvierende son gedra op gegote vlerke
reis triomferend hoog bo aardse perke
ver bo die son ‘n Albatros in vlug
uit die diepte van die see
skor gesmee teen yl blou lug
klink sy oorwinnings skree
golwe lag met ligfletse
branders klinkende kartetse
rotse word met kant omsoom
ritmies roerend isokroon
‘n nuwe dag breek oop in goudstof gedoop
‘n kaleidoskoop met tinte van hoop
‘n sinergie van koperkleur en klinkende-klank
heel ‘n gebreekte dag tot simfonie van lof en dank
SO STORT DIE WONDER VAN ‘N NUWE DAG
UIT GISTER SE GEBRUIKTE GLAS
©Evanthe 2018
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2018 - OOP projek