Jongste aktiwiteit:

Die Ongeskrewe Boek

Wat sou ek sê
in ‘n boek wat
ek nooit sal skryf nie?
Sou ek vertel van
al jou lag, jou huil?
Sou die trane oor my wange
ink wees waarmee ek
al die blaaie vul?
Sou ek daarin vertel
van droomverlore nagte,
van liggame verstrengel
met net die nagwind
as ons kleed?

Wat sou ek sê
in so ‘n boek wat
ek tog nooit sal skryf nie?
Sou ek vertel van
leë beloftes
wat die vleuels
van my hart kon breek?
Sou ek in sierskrif alles
skryf wat niemand
ooit sal lees nie?
Sou die voorblad
swart wees met
‘n enkel ster wat huil?

Wat sou ek sê
in hierdie boek
waar pen en ink
nooit die papier
ontmoet nie?
Sou ek net ongeskrewe
letters in ‘n enkele
papierkardoes kon skommel
en dan uitstort soos
die dolosbeentjies
van die waarsêer?
Sou dit net ‘n ode
aan die liefde wees
wat amper was maar
nooit kon wees nie?

Wat sou ek sê
in hierdie boek wat
ek tog nooit sal skryf nie?

©Anton Bosch 27/07/2018




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed