Dertien minute te laat
Dertien minute te Laat
Deur Johan J van Rensburg
Bronsafdeling
Barend Coetzee het God se stem gehóór; én daarop gereageer.
Op sewe-en- veertig leef hy sy roeping uit deur daagliks die Goeie Nuus te verkondig op ‘n plaaslike gemeenskapsradio. Hy wéét daar is sowat sewentig duisend mense wat élke dag sy stem oor die radiogolwe hoor. Sý tydgleuf is gedurende oggend- spitstyd: die tyd waarin die meeste lede van ‘n gemiddelde gesin in die beknopte ruimte van hul voertuie sit oppad, óf werktoe óf skooltoe. Gedurende hierdie tyd dra Barend sý deel by deur die padwoede statistieke te verlaag, en hy poog om hoop te bring, en vrede, om mense wat genadeloos uitgelewer is aan ‘n vaste roetine positief te probeer beïnvloed, en soms, tong in die kies, te laat lag.
Hy ìs immers ‘n sendeling.
Daar was nog nooit ‘n verveelde oomblik in sy lewe nie. Geen roetine kan hierdie Gestuurde van God baasraak nie. As hy moet tel hoeveel poste hy al beklee het in sy lewe, sal sy vingers en sy tone te min wees!
Die algemen man op straat verstaan hom nie. Hoe hy net nie tot “nesskrop” kan kom, of nêrens wil wortel skiet nie. Want met sy werk is geen fout te vind nie. Hy volg die stem van die Here oral waar daar nood is en die deure vir hom oopgaan. So was Barend al ‘n tyd lank Jeugpastoor in die Middestad, waar ontwrigte en deurmekaar tieners met verskeie vorms van afhanklikheid tydig en ontydig op hom gesteun het.
Hy was ook Arbeidsterapeut by ‘n groot hospitaal, en het menigte Uitreik-geselskappe gelei, tot in die hartjie van Afrika! Hy was ‘n kruier in Nepal, en het vir vyf jaar ‘n kliniek in daardie area bestuur. Terug op die vasteland was hy betrokke in verskeie voedingskemas.
Barend is ‘n gesellige ou en ‘n ware vriend vir almal wat ‘n vriend nodig het. Sy oor is nooit te besig om na jou te luister nie, en sy hand is nooit te kort om te help nie. Hy het ook ‘n vier-en-twintig uur hulplyn waar enige iemand in nood, van watter aard ookal, by hom sal geholpe raak. Defnitief.
Sy betrokkenheid by Radiouitsending is vanweë die oproep as motiveringspreker by skole en geleenthede. Barend het bekend geraak en die mense was honger vir sy boodskap van Hoop en Redding vir alle nasies.
Barend het alle situasies leer hanteer. Hy weet hoe om sy vrede te hou, hy weet hoe om tot tien te tel, hy weet hoe om op sy tande te byt as die verkeerde opmerking op die verkeerde tyd gemaak word.
Soos nou weer: ‘n Dame met goed gemoduleerde stem het ingebel. Sy wou ‘n vraag vra. Natuurlik, Barend is nie bang vir vrae wat, soms aan uitlokking grens, en somshom heeltemal van koers af stuur nie. Tog voel Barend ‘n gekriewel hier agter sy kopvel, ‘n vae ongemaklikheid, maar wat die rede is, weet hy nie.
“Hoe hanteer jy ‘n persoon wat nie wíl verander nie?”
Barend het hierdie gesprek al ‘n paar keer met verskeie “anonieme” dames gehad. Die stem kom te goed gemoduleerd voor, te afgestomp en ontneem van alle emosie. Hy het te doen met ‘n vrou wat haar man wil verander. Die verhaal het homself ten volle afgespeel in die stilte wat rek na haar vraag.
Dis ongemaklik, hierdie soort vrae. Daar is soveel dinge wat in ag geneem moet word. Een ding wat vir Barend stuit teen die bors, is geweld teen vrouens en kinders. Miskien omdat hy vanuit so ‘n huis kom!
Barend kondig beleefd aan dat daar eers musiek gespeel gaan word voordat hy die vraag sal antwoord.
Terwyl hy nog aan die praat is gaan vier vingers op vir die klankman agter die glas venster. Die teken is gegee en die musiek begin draai.
Barend haal die gehoorstuk af en sit dit op die lessenaar voor hom neer. Hy en sy klankman glimlag in mekaar se gesigte waar elkeen in sy eie klankdigte hokkie teenoor mekaar sit. Albei weet hoe Barend hierdie vraag gaan beantwoord. Met behulp van ‘n staaltjie uit sy lewe. Barend bid dat die verhaal wat hy gaan vertel die antwoord op die dame se vraag sal gee. Dit gebeur baie dat hy niksvermoed ‘n staaltjie vertel wat antwoorde op dringende kwelvrae vrae gee. Dan skakel bewoë luisteraars later in en getuig vol verwondering van God se Wonderbaarlike Genesende Krag nadat hulle geluister het na Barend se staaltjie.
Barend haal diep asem. Hy is gereed vir die antwoord.
Ewe professioneel kom vyf vingers agter die glas op wat begin aftel. Die musiek draai sagter en maak plek vir die rustigheid van Barend se stem. Hy het dertien minute voor die volgende musiekinsetsel gespeel word.
Dis dertien minute wat ‘n verskil in hierdie dame se lewe kan maak.
Hy begin die verhaal van Victor van Rooyen. Hierdie sestienjarige seun het saam met sy ouers op ‘n plot net buite Delmas gewoon. Sy pa was die buurt se “backyard Mechanic” en motorwrakke het daagliks soos paddastoele die plot vol opgeskiet.
Victor het ook ‘n ouer broer, wat op die selfde perseel in die garage teenaan die huis sy eie “Spray-painting” besigheid het.
Almal in die buurt ken die van Rooyen familie. Daar is heeltyd mense op die erf: vuil mans wat op tyres sit en kuier met ‘n bier in die hand waar Pa aan hulle karre werk, of jong ouens wat teen die muur van die garage leun en sigaretstompies skiet terwyl Victor se broer hulle karre spray-paint.
Die tannie langsaan, op die plot teenaan die van Rooyen’s s’n, neem gereeld Vrydae aande haar seun Josua en Victor saam met haar dorp toe waar sy die week se groente gaan aflewer by die groentemark.
Victor se pa dink dat hy die buurvrou met die taak help, maar Victor en Josua is deel van die Jeug van ‘n gemeente op die dorp. Hulle is goeie vriende.
Josua weet dat Victor nie in die prentjie van die van Rooyens pas nie.
Victor praat nie baie nie. Hy is sensitief, kunssinnig, en het ‘n vreemde passie vir musiek en liriek,dit kom al van jongs af. Dis net Victor ma wat hiervan weet. Sy musiekboeke hou hy veilig weggesteek onder sy bed. Sy ma het toevallig daarop afgekom terwyl sy skoongemaak het. Sy bewaar sy geheim diep in haar hart.
Victor se ma is ‘n verwaarloosde gryskop vroutjie wat leef op die krummels liefde wat sy by haar man en kinders kry. Haar dae bestaan uit huis skoonmaak en kosmaak en sepies kyk. Die ander van Rooyens verstaan Victor gladnie, en het geen goeie woord nog ooit vir hom gehad nie. Die dat hy maar uit hulle pad bly!
Dis op een van hierdie Vrydag aande dat Victor vir Barend by die Jeugbraai ontmoet het. Hulle het vuur gemaak om wors te braai. Barend het op ‘n stomp gesit met sy blikkitaar en himself vermaak met ou Praise en Worship liedjies. Victor het oorkant Barend gaan sit met die vuur tussen hulle, en het dadelik aanklank by die musiek gevind. Ure lank het hy stil sit en luister na die eenvoud in Barend se woorde.
Barend het Victor ongemerk dopgehou en die liefde vir Taal en Klank in sy honger oë raakgesien.
Die mure om die tenger sestien jarige het vinnig verkrummel in die aanbiddingsatmosfeer wat Barend onwetend geskep het.
Terwyl hulle later die wors braai het Victor stotterend homself voor Barend leer ken. Barend het hom saggies gelei, wetend dat die kind se siel broos is. In die drie jaar wat Josua Victor ken, het hy hom nooit so baie hoor praat nie. Dis asof die kitaarspel die stywe noot in Victor se samestelling laat skiet het.
Victor vertel van ‘n afwesige pa wat heeltyd by die huis is, van ‘n broer, niks minder as ‘n groot boelie, en van ‘n stil afgeremde ma wat in meer as ‘n jaar nie die buitekant van hul erf gesien het nie.
Sien, Victor, sensitief wat hy is, het die wanbalans in sy gesin waargeneem, hy kon dit selfs verwoord…maar hy kon niks daaraan doen nie. Hy het Barend gevra hoe hy dit kan regkry om dinge te verander.
Victor het nog nooit die binnekant van ‘n kerk gesien nie.
Met ‘n ma wat van selfbejammering wegkwyn en ‘n pa wat naweke die grootste deel van sy werk inkry en ‘n broer wat alles wat sy pa doen slaafs navolg, laat dit hom nie ‘n keuse nie.
Barend se hart skeur in twee vir Victor.
Hy sleutel sy nood-nommer in op Victor se foon. Niemand was nog ooit vir Victor daar nie. Enige tyd van die dag of nag kan hy Barend bel. Victor bewaar die nommer soos ‘n kleinood.
Na hierdie Vrydag aand het die lewe sy gewone gang gegaan. Barend was op daardie tyd betrokke by ‘n sopkombuis in die plakkerskampe op Krugersdorp.
Victor het skooltoe gegaan, en huistoe gekom. Hy het sy pa gegroet en sy ma gegroet, sy kos in sy backpack gepak en verdwyn. Dit was elke dag se roetine. Kinders word mos gesien en nie gehoor nie. En hy mag nie sit en tande tel nie. Sy ma het hom stil aangekyk. Sy broer en sy pa het met ghriesbesmeerde hande hulle borde kos gevat en op die stoep gaan sit en eet. Sy ma het die remote gevat en verdiep geraak in die sepies op die TV. Dit was háár “escape”.
Victor se “happy place” is in die ruim van ‘n ou groen Volkswagen Kombi. Al wat van hom oor is, is die buikwerk, die engine het sy pa al lank terug vir spare parts gebruik. Hy het dit mooi ingerig, daar is ‘n bar-fridge vol coke, daar is ‘n stukkende sitkamerbank met ‘n kombers oor en ‘n mat oor die geroesde vloer gegooi. Victor gooi die deure gewoonlik wawyd oop en sit vir lang ure en mediteer op die stukkende sitkamerbank. Sy uitsig is nie wat wonders nie, scrap en scrap en nogmals scrap.
Ten minste kan niemand hom hier sien dagdroom nie, en hy doen die meeste van sy skryfwerk nét hier. Hy skryf gedigte. Nie oor die liefde nie, want hy het geen ervaring nie! Nie oor diep en donker dinge van die wêreld nie, want die sien hy genoeg van!
Nee, hy droom van ‘n vuurrooi sonsondergang in die Karoo, of ‘n maan wat hang oor ‘n blinkstil dam, of van sagte reëndruppels op ‘n groen blaartapyt… Alles dinge wat sy hart ligter laat voel.
Dis hier waar die Egiptiese Kobra vir hom gewag het.
Toe Barend die oproep kry, moes hy eers mooi dink wie praat. Hy kon uiteindelik twee en twee bymekaarsit. Aan die swaar asemhaling aan die anderkant van die lyn kon hy agterkom dat hy die heel laaste op Victor se lys was om te bel.
Al was sy pa daar, al het sy broer om die muur gestaan en rook, en al was sy ma in die huis verdiep in die sepies, het geeneen ag geslaan op Victor se hulpkreet nie. Niemand het die foon beantwoord toe hy aanhoudend huistoe bel nie.
Barend het dadelik uit Krugersdorp gery. Hy was ál een wat die kind kon red!
Hy was te laat. Victor was klaar dood.
Victor se foon was nog in sy hand vasgeklem toe die gif sy lyf oorwin het.
Barend het later gereeld by Victor se ma gaan draai. Sy is die hardste deur Victor se dood getref, en het vir maande gebuk gegaan onder ‘n las van selfverwyt. Sy was so platgeslaan deur ‘n harde en liefdelose huwelik dat sy die sonstrale wat God op haar pad gesit het, nie raakgesien het nie.
Nou is dit te laat.
Later het sy haar berus.
Sy het haar man se liefdeloosheid vergewe. Sy het haarself vergewe vir die kokon van selfbejammering waarin sy haarself so vasgedraai het dat sy niks vir enige iemand kon beteken nie. Sy het haar huis aan die kant gemaak en haarself opgeruim.
Sy het saam met Barend gegaan en elke dag vars brode in die townships gaan aflewer. Genesing het gekom deur van haarself te gee. Saans het sy ligaamlik vermoeid, agter die kospotte, ‘n nuwe lied geneurie.
Die lewe maak net sin as jy dit wil laat sin maak.
Dertien minute is verstreke. Barend sien die vyf vingers wat die draai van diemusiekinsetsel aandui. Hy vee oor sy oë. Dit is een ding wat sy werk nie maklik maak nie. Die herinnering aan elke keer wat hy te laat was om te help. Dis ingegraveer in sy geheue, en dit dring hom om te doen wat hy doen.
Hy wat Barend is weet, dertien minute, op die regte plek, kan die verskil tussen lewe en dood beteken.
Die foon lui. Bewoë bedank die dame vir Barend. Die antwoord is duidelik: Om ander te verander moet jyself eers bereid wees om te verander. Al is jou lewe nie perfek nie, fokus op die mooi wat daar is. Gee tonne liefde vir elke persoon rondom jou, en jy sal self God se genesing ervaar.
En die belangrikste – Blom waar jy geplant is.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2023 - OOP projek