Jongste aktiwiteit:

Eddie en die Vodka

My boetie Martin se as ‘n man eers wit spiritus drink dan is hy in sy moer.

So bel Eddie my en oortuig my om vir hom ‘n sonkragstelsel op sy plaas naby die see te gaan installeer. Ek gaan na sy glas paleis wat omtrent 180 grade oor die Strand uitkyk. Hy vra my of ek asseblief vir hom ou ligte, skeepslampe en soortgelyk by ‘n tweedehandse winkel in Vishoek sal gaan koop en ek doen dit. Hy vra my om vir hom ‘n vrag teels met my bakkie by sy huis op te laai en na sy plaas te neem en ek doen dit sommer so met die ry vir die installasie.

Ek kwoteer gewoonlik my kliente en vra ‘n deposito en ek versoek dat die kwotasie per e-pos aanvaar word en dan doen ek die installasie. Eddie is van daardie manne wat net per telefoon kommunikeer, niks op skrif stel nie. Ek benodig egter die werk so ek gaan doen die installasie.

Daar gekom sien ek dit is sulke A-raam huisies, met gras dakke. My keel trek toe. Eddie gaan wys my waar die lapa is en die batterye moet onder die dek van die lapa geinstalleer word en die omsetter agter die kroeg. Die panele op ‘n raam agter die lapa, hy wil nie die panele sien nie. Nou ek is alleen, want my dronkgat werker het weer nie oogedaag vir werk nie.

Ek kruip tussen die spinnekoppe onder die lapa in en le daar half op my sy en half op my maag en koppel die batterye. Trek die kabels vir die omsetter en reguleerder deur en koppel op die panele wat ek klaar op die raam gesit het. Ek grawe self die slote en le die kabels na die eerste huisie, dit is die kombuis of kookhuis ‘n nuwe gebou. Eddie dring daarop aan dat die drade vir die ligte deur die riete getrek moet word, my bors trek nou meer toe. Die draad wat ek gebruik is dubbel geisoleer, maar ek maak ‘n distrusiebord dat wanneer ek die kabel knip trip die krag by die lapa waar die omsetter staan.

Net Eddie sy agtienjare hansgat klong en so ‘n sleg skelm wat vir Eddie werk is daar. Ek trek drade deur, hang ligte, koppel plug punte. Dan kom Eddie in, nee hy wil nie die lig hier he nie, maar daar en hy wil nie die plug hier he nie, maar daar. Dit nadat ons die punte op die muur en balke gemerk het, ek begin kook, maar gaan aan na die tweede huisie. ‘n Plek om te slaap nog ‘n A-raam huisie. Hier is weer drade deurtrek, ligte hang en plugs teen die muur opsit. Na die derde en vierde huisie, hulle staan almal soos soldate in ‘n ry. Daar staan ‘n vyfde huisie eenkant wat eintlik ‘n stoortjie is, hier wil Eddie net ‘n lig binne en buite he. Ek gaan die stoortjie binne en sien ‘n ou gasvrieskas met sy skoorsteentjie aan die gaterkant en ‘n klomp rommel wat in die plek le.

Die eerste aand is ek en Eddie alleen en ek vra hom of ek ‘n vuur kan aansteek, want ek het twee stukkies vleis en ‘n stukkie wors om te braai. Eddie is al op die Vodka en lemoensap en hy se hy het nou nie eintlik iets saamgebring om te eet nie, want hy is te vinnig by die huis weg. Ek maak maar toe twee braai broodjies by om die kos te rek en Eddie peusel aan sy kos wat ek vir hom voorsit en nou trek die Vodka goed. Hy vertel my van sy hansgat laaitie wat nou die Kaap na Rio wedvaart gaan deelneem met sy (Eddie) sy seiljag en die laaitie gaan die jongste kaptein ooit wees wat die Kaap na Rio wedvaart gaan doen. En Eddie brag, die vodka en lemoensap loop en Eddie se tong sleep later.

Ek maak verskoning en gaan slaap in die verste huisie. Ek het net gele toe voel ek daar is iets wat besig is om my op te vreet, sit die lig aan en daar is vismotte, honderde van die goed in my bed. Ek maak ‘n ander plan en probeer slaap sommer op die vloer.

Die volgende oggend begin ek vroeg en Eddie le en slaap sy vodka-roes af. Die hansgat laaitie kom daar aan en jy en jou vir my, ek voel of ek die klong van sy voete af kan klap. Ek maak alles daar klaar wat ek moet, moet weer plugs skuif en ligte verhang, ek is al redelik gatvol. Gaan na die werker se huis toe en daar sit ek nog ligte in en ‘n skakelaar.

Ek gaan plaas myself die laat agtermiddag by die tafel in sy kookhuis, en hansgat kom in. Wat maak jy, vra hy. Ek is besig om jou pa se rekening op te maak, se ek. Haha, se hy nou sal jy sien, wag. Ag jou moer, dink ek en gaan aan met my somme. Ek het ‘n paar honderd meter se drade gele, plugs ingesit, ligte gehang en drie skakel borde gemaak, sodat sodra daar ‘n kortsluiting is die krag kan trip. Gaan met alles na Eddie toe, hy kyk alles noukeurig deur, vra my pen en krap op my faktuur. Hy maak sy somme en betaal my ten minste R8500-00 te min, nou gaan ek ‘n verlies maak. Ek is bef#&*. Eddie gaan haal sy tjekboek en skryf my tjek, ek voel of ek dit kan opskeur, maar se niks, ek loop na die deur toe draai om en se vir hom. Eddie, ek het jou mooi gevra om my ‘n deposito te betaal, jy het nie, ek het vir jou ‘n vrag teels op my bakkie gelaai en van die Strand af hiernatoe gebring en vir jou die ligte in Vishoek gaan koop en jou niks ekstra gevra nie, maar jy besluit jy gaan my betaal vir wat dit vir jou werd is, dit was sy woorde. Hy se my, jy kan maak wat jy wil, ek het niks op skrif gesit nie,

Ek stap die huis uit, my ou TES omsettertjie waarmee ek boor en grind van ‘n battery af, staan op die stoep, ek skop hom in sy moer dat sy binnegoed rondval toe ek hom optel.

Ek klim in my bakkie en ry hek toe, hy het die hek met ‘n slot en ketting gesluit, dit is laat en al donker. Ek onthou ‘n sandpaadjie wat na die bure toe gaan en ek ry hom met my vier by twee Nissan bakkie so vinnig as wat ek kan. Ek gaan klop aan die Oom se deur en vra hom of hy asseblief hulle hek vir my sal oopsluit. Die oom nooi my die huis in, gee my ‘n koppie koffie en vra my of ek nie my vrou wil bel van hulle telefoon af nie, want daar is nie selfoon ontvangs nie. Dit klaar gedoen vertel die Oom my dat hy hom ook ingedoen het, want hy het die lapa se dak opgesit en gedek en toe dit by betaal kom besluit Eddie hy betaal vir wat dit vir hom werd is.

Ek groet die Oom en Tannie wat nou ook al opgestaan het en ek ry huistoe. Die tyd gaan verby en ek vergeet van Eddie.

Maande later gaan braai ons by mense en ons sit en eet aan die tafel, daar is ander gaste ook, vriende van die mense waar ons braai. Skielik se iemand, het julle gehoor wat met Eddie gebeur het, watter Eddie vra ek, man die een waar jy die werk vir amper verniet gedoen het, jy onthou dit tog? Ag ek wou vergeet, maar nou ja. Wat, vra die ander man. Nee man, sy hele plek het afgebrand. O, hel dink ek, hopelik nie ‘n kortsluiting nie!

Nee man, hy en sy gesin en vriende kuier saam daar in die lapa en die wind waai verwoed en hulle hoor ‘n slag en hulle hardloop uit en die stoor en kookhuis is in vlamme. Hulle hardloop vir emmers, maar die vonke na die tweede huis en die se dak raak ook aan die brand en so ook die derde en daar is weer ‘n helse slag en iets trek deur die lug soos ‘n missiel en val op die vierde huis. Toe besef hulle die gasbottel het ontplof en die derde huis se vonke waai op die vierde huis en die brand ook af tot op die grond. Net die lapa wat heelwat terug staan bly oor en almal moes maar daardie nag daar slaap.

By nadere ondersoek kom dit uit dat Eddie het sy sak met drank (Vodka ingesluit) bo-op die gas yskas gesit en dit daar gelos. Later het die skoorsteen se hitte te veel geword en die plastieksak en drank het aan die brand geslaan, die dak het begin brand en die hitte was te veel en die gasbottel het ontplof en op die kookhuis geval en van daar is die brand versprei deur die wind dan nog ‘n gasbottel wat ontplof het. Alles behalwe die lapa, moertoe.

Na die verhaal saak ek ‘n sug van verligting, niks kortsluiting nie.

‘n Maand of wat daarna kyk ek een aand nuus en daar staan Eddie, hansgat klong wat die jongste kaptein van ‘n seiljag in die Kaap na Rio wedvaart was het Eddie se seiljag in ‘n walvis laat vaar. ‘n Gat in die romp en daar sink die seiljag, almal is gered en Eddie se op die nuus, dinge gebeur in driee, eers het my plaas afgebrand toe die seiljag, wat sal die derde een wees.

Weet nie, wat dit was nie en gee ook nie om nie. Ek vergeet weer van Eddie, maar kry maande later ‘n oproep. Hallo, het jy gehoor van my plaas. Ja, se ek ek het jou op die nuus gesien. Man, kan jy kom help, ek het die huise laat oorbou en ek wil he jy moet my sonkrag kom opsit. Ja se ek sommer oor twee weke. Hy bel my weer oor twee weke, waar is jy, vra hy, oppad, Eddie ek is netnou daar. Hy bel weer en ek sit my selfoon af.

Later daardie aand luister ek na my boodskappe en daar is so ‘n sad een: ja, jy sal seker nooit weer hier uitkom nie…….




Ek skryf net omdat dit lekker is, want dit is soos terapie vir my.

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed