
Die gegons oor bye.
Die gegons oor bye.
In 2014 het Slowenië met ’n briljante idee te voorskyn gekom. Hulle het ’n idee voorgelê aan die Verenigde Nasies (VN) om jaarliks ’n Wêreld Byedag te vier op 20 Mei. Aanvanklik het daar niks van hierdie voorstel gekom nie, maar in 2017 het die VN die voorstel goedgekeur. Van toe het dit ’n jaarlikse instelling geword om Wêreld Byedag op 20 Mei te vier.
Die vraag op baie se lippe is, hoekom vier ons Wêreld Byedag? Die hoofdoel is sodat die mensdom meer bewus kan raak van bye en selfs ook ander bestuiwers se rol vir die ekosisteem. Dit sal nie die bye help om die dag te vier nie, maar so word daar seker gemaak dat daar ’n bewusmaking van hulle belangrike rol is. So ’n dag sal help daar baie meer praatjies en gesprekke rondom bye en hul voortbestaan gevoer sal word.
Hoekom is bye belangrik?
Heuningbye speel ’n uiterse belangrike rol in ons ekosisteem asook in die voedselsisteem. Hulle vervul ’n kritieke rol as dit by bestuiwing kom. Isabelle Dajoz, ’n navorser in bestuiwingsekologie aand die Sorbonne in Parys, Frankryk het intensiewe navorser oor die bye gedoen. Sy het ook gekyk na wildebye en die rol wat hulle speel.
Bye is verantwoordelik vir hulle taak as bestuiwers van baie soorte gewasse wat aan die mense voedsel moet voorsien. Baie gewasse, insluitend vrugte, groente, neute en sade is afhanklik van bestuiwing. Sonder heuningbye sal bestuiwing van baie verskillende plante aansienlik verminder. Dit sal ’n negatiewe impak op voedselvoorraad en biodiversiteit hê.
Die gewone heuningby; Apis mellifera is ’n indrukwekkende insek.
Bestuiwing: Volgens die Voedsel- en Landbouorganisasie (FAO) van die Verenigde Nasies is dit bykans ’n derde van die wêreld se voedselproduksie af van bye!
Voedselsekerheid: Heuningbye dra by tot die diversiteit van voedselbronne deur hulle bestuiwing.
Biodiversiteit: Groot populasies wilde plante wat biodiversiteit ondersteun word onderhou deur heuningbye.
Ekonomiese rol: Die Byeboerdery bedryf het ’n ekonomiese impak. Dit skep werksgeleenthede en diegene wat betrokke is by produksie van heuning en ander byeprodukte.
Sosiale Struktuur: Heuningbye word aangetref in kolonies of korwe. Hierdie kolonies is gemiddeld 50 000 bye sterk. Almal in die kolonie speel ’n rol in die voortbestaan van die gemeenskap.
Interessante feite oor die heuningby.
Bye het vier vlerke, twee aan elke kant. Die vlerke hak by mekaar in om een groter paar vlerke te vorm as hulle vlieg. Hulle voorste vlerke is gewoonlik groter as die agterste vlerke.
Bye gebruik hulle vlerke vir meer as net vlieg. As die bye stil staan, gebruik hulle hul vlerke om die lug in die byekorf te sirkuleer. Die beweging van hulle vlerke is baie belangrik om die hitte en humiditeit te handhaaf. So help hulle ook om die vog na die nektar te laat verminder.
Bye kommunikeer deur te dans. Dit lyk of hulle dans, dit is hulle manier hoe hulle met mekaar kan kommunikeer. Hulle help mekaar en wys voedselbronne so uit.
Die nuwe koningin eet koninginjellie. Die werkerbye kies ’n jong larwe en voer haar met koninginjellie om te verseker sy word groot en baie vrugbaar.
Heuningbye het vyf oë. Jy sal twee groot oë vind wat uit honderde klein lense bestaan, en dan ook drie kleiner oë wat in ’n driehoek op hulle kop vorm. Bye kan die meeste kleure sien wat ons as mense ook kan sien.
’n Kolonie bestaan uit drie tipes bye. Die koninginby se werk is net om eiers te lê. Sy skei sekere stowwe af wat die ander bye se gedrag bepaal. Die werkerbye se werk is om stuifmeel en nektar te kry, om die byekorf te bou en te beskerm, skoon te maak en ook om die lug in die korf te sirkuleer. Die hommelbye se enigste werk is om met die koninginby te paar.
Hommelbye word uit die korf verban in die winter. Tydens lente en somer is daar honderde hommelbye. Sodra die winter aanbreek gaan die hommelbye egter uit die korf verban. Hierdie vorm deel van die bye se oorlewings-taktiek.
Een heuningby kan nie veel heuning maak nie. Dit vat ’n hele kolonie om heuning te maak in groter hoeveelhede.
Is dit net heuningbye wat belangrik is?
Nee, volgens navorsing speel wildebye ook ’n baie belangrike rol. Wiledebye sal jy egter nie soos heuningbye sommer in swerms aantref nie. Verskillende blomsoorte het verskillende bye wat hulle optimaal kan bestuif.
Die Europese boomgaardby, Osmia Cornuta is byvoorbeeld die ideale by om appels te bestuif. So is die hommelby, Bombus meer ideaal vir groente soos byvoorbeeld eiervrug en tamaties. Hulle is ook die wat moet help om aartappels, amandels en bloubessies te bestuif.
Bye en hul rol in biodiversiteit.
Daar is verskeie diere soos byevangers, ratels en die bedreigde violet oliekewer wat afhanklik is van bye vir hulle voortbestaan.
Bye is toegerus met ’n ongelooflike goeie reuksintuig en kan ook klimaatsveranderinge aandui. Die bestuiwingsproses speel ook ’n rol op absorbering van koolstofdioksied.
Bye en blomme is ’n uitstekende voorbeeld van simbiose. Bye kry hul proteïen in die stuifmeel en in die nektar kry hulle weer al hul koolhidrate. Blomme is die bye se hoofvoedingsbron. Aan die ander kant kan blomme nie sonder die stuifmeel wat bye versprei voortbestaan nie. Die volgende is baie waar; as bye toegang het tot goeie voedingsbronne, het die mens toegang tot goeie voedingsbronne. As daar nie bestuiwing kan plaasvind nie, sal daar ook minder natuurlik plantegroei wees.
Alhoewel daar nie genoeg statistiek is oor die afname in byegetalle nie, is daar baie redes vir die verminderde getalle bye. Siektes, parasiete en gifstowwe is van die enkele grootste oorsake in die verminderde byegetalle. Die aanplanting van byvoorbeeld een soort gewas, soos sojabone het tot gevolg dat daar nie genoeg kos vir hommelbye is nie. Plaagdoders en gifstowwe is ook ’n ernstige bedreiging vir bye.
Byeboerderye is ook ’n bedreiging vir inheemse wildebyspesies. Afrika se heuningbye is oorheersend wild.
Waarom is beskerming noodsaaklik?
Aangesien baie bye in Suid-Afrika wild is kan jy korwe op veilige, voedingsryke plekke plaas. Dit is maar een van die maniere hoe om bye te bewaar. Alhoewel dit nie voel of dit baie is om te doen nie, is dit ’n baie goeie begin as jy besluit om die bye te help . Dit sal ook help as jy jou tuin bestuiwingsvriendelike plek vir bye kan maak. Oop, sonnige plekke en dooie hout is ideale broeiplek vir wildebye. Plant paar dekgewasse om die grond te voed en kos vir die bye te verseker. Vul jou tuin met blomme en struike wat bye, voetjies en skoenlapper na jou tuin toe lok.
Laat ons bewus word van die bye!
©MarleneErasmus
(1100 woorde)
Bronne:
https://af.wikipedia.org/wiki/Heuningby
https://southafrica.co.za/af/die-voeding-van-heuningbye.html
https://www.landbou.com/landbou/nuus/die-mens-is-bye-se-grootste-vyand-20210507
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Mei 2024 - OOP projek