die houtbankie
naby die houtbankie in die park,
dáár het jy vir my ‘n toorbos geplant
en jou glimlag het die bome laat bot
terwyl die wind uitbundig blare tart
in die duiwe se kir is jou naam gespel
en tussen die boomblare
het die son soos blokkiesglas
geflenter en stom na jou geroep
jou kreukelhande het blind die pad gesoek
na my wat neffens jou in die skadu sit,
ons was mekaar se anker en kompas
wat in elk ander skuiling kon vind
skugter het die bloeisels in jou oë
tot vrug gekom; die geluk het helder
oor jou oumensmond gebreek
waar ons koeksistergevleg sit
© Anzé Bezuidenhout
6 Kommentare
-
-
Seirdna
Pragtige gedig Anze
-
Marsofine
Anze, wat 'n pragtige puik vers.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Marlene Erasmus
Pragtige vers ... vol vrede ...