Jongste aktiwiteit:

DIE KOSBLIK

Uit die kombuis hoor sy hoe fluit hy die bekende deuntjie. Hy doen dit altyd, waarmee hy ook al doenig is. Nes sy oupa ook altyd gedoen het.

Fanja stap saggies nader om te sien waarmee hy nou weer besig is. En dit so vroeg in die môre op ’n dag waarop al die kinders vrygeskeld is van lesse. Glo omdat daai reisiger-prediker iewers in die omgewing sal wees. Dié jong man verkondig dat hy graag die kindertjies ontvang en vra dat die volwassenes hulle sal toelaat om na hom te gaan. Feit van die saak is, sy wat Fanja is, hoor dat derduisende mense hom volg om te sien hoe hy een wonder na die ander verrig.

Dis nie soos sy hom ken nie, hierdie Helmi seunskind van haar. Op enige vakansiedag is daar gewoonlik een van twee moontlikhede. Of hy is teen sonop al op die strand met sy eie net, in die hoop om ’n paar blinklyf harders uit te trek. Vir hom en sy maters om later oor die kole te braai en sommer daar op die sand te verorber. Of, as dit koud is, slaap hy tot sy hom uit die kooigoed boender, om aan die kant te maak.

Vandag is hy egter besig om vir homself ’n kosblik te pak. Gedroogde vis en van haar tuisgebakte broodrolletjies. Dis vreemd.
‘Boeta, waar is jy op pad heen met daai kosblik?’ vra sy belangstellend en effe verward.
‘Ek gaan na daai Jesus ou luister. Ek hoor baie dinge, maar ek wil met my eie twee ore hoor en met my eie twee oë sien. Die outjies by die skool vertel my hy doen wonderwerke. Heng, ek sal daarvan hou om so iets te sien. Dink net!’
‘Nou hoekom pak jy dan kos in. Tant Martha vertel my sy was anderdag by ’n troue en toe die wyn opraak verander hy sommer water en in wyn en voila! Die gaste kon heerlik verder kuier.’
‘Ek vat liewer my eie kos want sê nou hy verander ’n slang in wors en wil hê ek moet daarvan eet. Jig. Ek vat liewer kos wat ek ken. Weet ma wat sê hy glo nog?’ vra hy, met sy wipneus in voutjies opgekreukel.
‘Ek gee op, vertel my.’ Fanja trek ook haar neus op ’n plooi in kamma groot afwagting op die antwoord.
‘Hy het glo vir oom Nikodemus gesê dat ons in die koninkryk van die grootste god kan gaan woon vir altyd en altyd, maar dan moet mens eers weer ’n keer gebore word. Hoe kan mens weer gebore word, hê ma?’ Die kind is skoon uitasem by vertelle van dié interessante nuus.
‘Nee o maggies, dit klink vir my na ’n storie wat ’n klomp ou manne om die kampvuur opgedis het. Dis tog onmoontlik om twee keer gebore te word!’ verklaar Fanja met oortuiging.
‘Verstaan ma nou hoekom ek self na hom wil gaan luister?’

Fanja ken haar seun maar alte goed en weet sy sal hom nie met stokke en swaarde van die wonderwerker af weghou nie. Sy hoop tog net die vent prop nie haar kind se kop vol allerhande onmoontlike snert nie. Sy hoor juis hierdie man skroom ook nie om bevriend te raak met Samaritane nie.

Goiingsak oor sy skouer en kaalvoet, draf Helmi in die stofpaadjie af. Nuuskierig om te hoor wat die man te vertel het.

Sommer gou sien hy die horde mense wat saam-saam in ’n rigting beweeg. Hy kan nie die voorlopers sien nie, maar hy is doodseker Jesus moet daar tussen hulle wees. Hy val sonder skroom agter hulle in.

Die prosessie beweeg in die rigting van die rotsrante net buite die nedersetting. Daar klim Jesus en die twaalf manne wat hy uitgekies het om te leer in die dinge van sy vader, tot bo-op ’n koppie sodat al die volgelinge hom kan sien en hoor. Helmi hoor die mense om hom noem die leerlinge die dissipels van Jesus.

Heeldag lank vertel Jesus stories. Stories wat die mense leer hoe om te leef, te glo en lief te hê. En hoe om ’n kind van die enigste lewende almagtige God te word. Hy raak mense aan en oombliklik is hulle gesond en ontslae van siektes waaraan sommige al jare ly.

Oopmond luister Helmi na alles wat Jesus sê, maar ook na die aanmerkings van die grootmense om hom. Hy is beïndruk. Vreeslik beïndruk. In sy hart wens hy dat hy net naby genoeg kan kom om aan hom te raak, maar elke keer as hy op sy hurke kom, druk iemand hom plat. Hy leef hom so in die vertellinge in dat hy skoon vergeet om sy kos te eet.

Die son sak in die weste. Die menigte luister al heeldag na Jesus se lesse, maar niemand het nog iets te ete gehad nie. Jesus vra vir Philippus:
‘Waar kan ons brood koop om die mense te voer?’ Phillipus val amper reg agteroor. Hy glo nie wat hy hoor nie. Wafferse dom vraag is dit dan? Hy probeer die sarkasme onderdruk toe hy antwoord: ‘al het al twaalf van ons die afgelope twaalf maande se salarisse gespaar gehad en al was die skelm onder ons nie in beheer van ons geldsake nie, sou ons nie eers naastenby genoeg geld gehad het om vir al hierdie mense net brood te koop nie, Meester.’ Verder dink hy ook daaraan dat naaste mark om kos te koop, ten minste ’n uur se stap vêr is.

Dis toe dat Andreas begin rondkyk en vir Helmi gewaar met die sak op sy skoot. ‘Seun, het jy dalk iets te ete in jou sak?’
Trots daarop dat hy vir hom self voorsien het, sê Helmi toe hy sy kosblik oopmaak en vir Andreas wys: ‘Ja, meneer. U Hoef nie oor my te bekommer nie. Ek het genoeg vis en brood vir myself.’ Hy is erg verbaas toe Andreas na Jesus uitroep: ‘Hier is ’n seun met vyf broodjies en twee visse, Jesus.’

Andreas voel dadelik soos ’n aap toe hy die aankondiging maak. Wat het hy gedink moet met die bietjie kos gedoen word? Wie gaan eet en wie gaan kyk? Tot sy algehele verbasing sê Jesus: ‘Sê vir die mense om op die grasperk te ontspan en laat die seun sy kos vir my bring.’

Helmi wag nie vir Andreas se opdrag nie. Hy spring op en in sy hart jubel dit: ‘Hier is my kans! Nou kan ek naby aan Jesus kom! Hý het vir mý wat Helmi is gevra om my kos vir hom te gee en ek gee nie om of hy alles opeet nie. Hierdie storie gaan my maters nooit-ooit glo nie!’
Vinnig is hy voor Jesus en hou sy kosblik na hom uit. Toe Jesus dit by hom neem staan Helmi eerbiedig terug, vir Jesus om daarmee te doen net wat hy wil. Watookal dit sal ’n eer wees!

In sy wildste seunsdrome sou hy nie kon droom wat Jesus toe doen nie. Hy spreek dankwoorde aan sy vader, al was dit Helmi wat die kos vir hom gegee, maar nieteenstaande is Helmi tevrede. Daar is ’n gevoel van afwagting wat sy hart vinniger laat klop. Toe steek die wonderwerker sy hand in die kosblik en haal ’n broodjie uit en gee dit aan om vir die mense uit te deel. En nog een…..en nog een…en nog een! En daarna doen hy ook so met die vissies. Een na die ander…..een na die ander.
Helmi glimlag van oor tot oor en sy oë vonkel. Dit kom alles uit sy kosblik uit. Hy kan sy oë nie glo nie! Daar is genoeg vir almal. Omtrent vyfduisend mans en meer vrouens en nog kinders ook. Genoeg sodat hulle versadig is! Propvol! Ook hy het homself knuppeldik geëet.

Nadat almal genoeg gehad het, gee Jesus ’n opdrag aan die twaalf:
Gaan maak al die oorskiet bymekaar sodat geen kriesel verlore sal gaan nie. Hulle maak vir ’n lang ruk oorskiet bymekaar. Helmi skat daar is genoeg om twaalf vismandjies vol te maak.

Voor hy klaar gewonder het wat hulle daarmee sal doen, kom hulle na hom toe en Andreas sê: ‘Seun wys ons waar jy woon, sodat ons die oorskiet daar kan aflewer. Jesus sê dis joune, omdat jy jou bietjie kos vir hom gegee het.’




Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

6 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed