
Die maan lyk anders
Ek gaan sit die swartsak uit
om middernag
(weer amper vergeet
dis vullisdag)
Die aand is helder lig
en reg in die middel bo
skyn ‘n flits soos deur ‘n loergat
in ‘n gitgrou donker muur
Is dit die hoek
is dit die uur
is dit die stilte om my heen
wat vanaand die maan
so dimensioneel vervreem
wat ‘n ewige vlak van glans
deur ‘n donker knopie oopte
koeëlrond
in soveel volheid vir my leen
hier waar ek op aarde
langs die asdrom staan
aan die gloed se onderkant
alleen
Charleine Collins © 11 Junie 2019
Foto © Gerrie Germeshuizen
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.