Die man in blou
Om middernag beier die klokke en musiek dryf deur die stil gange van die hospitaal. Slapende pasiënte word wakker wanneer ’n figuur in blou stadig by die gange af loop, ’n silwer fluit teen sy lippe gedruk. Om hom gaan die verpleegsters en dokters met hulle werk voort en merk nie die musiek of die figuur op nie; hulle sien net die pasiënte raak lusteloos.
Hier en daar loer pasiënte vanaf die deure na die lang, maer man wie se jas in skadu gehul is. Sommige begin bid en hulleself te kruis, forseer hulle voete om nie saam met die anderwêreldse musiek te begin beweeg nie. Einde ten laaste tree ’n man van sy saal en volg die anderwêreldse musiek en die man in blou.
Tree vir tree volg hy die donker figuur, in vervoering, en swaai op die maat van die musiek wat net dié wat besig is om te sterf kan hoor. ’n Vrou sluit by hom aan, wit nagrok blink in die hospitaal se halfdonker gange. Saam dans-loop-wals hulle agter die man in blou aan, by die sale en gange uit, deur die ontvangs na ’n welige tuin wat net buite die skuifdeur verskyn.
Weg is die elektriese ligte, die geraas en besoedeling van die stad. Dit word vervang met die note van die soete musiek wat nou selfs mooier as binne-in die hospitaal klink. Die man draai na hulle, en hulle sien dat sy middernag jas eintlik blink vlerke is. Hy laat sak die fluit van sy lippe, maar die musiek bly speel.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.