Die ongemagtigde biografie van Sneeuwitjie
In 1746, na die Slag van Culloden het die leier van die Skotte gesê: “Dit is die oorwinnaar wat die geskiedenis skryf, en die dooies tel”. Dit beteken basies dat die een wat ‘n konflik wen, die een is wat in die magsposisie is, om die gebeure te neer te skryf soos uit sy.
Moderne mense is geneig om stories of verhale te skei van geskiedenis. Fiksie teenoor nie-fiksie. Stories is fantastiese verhale wat tydens slaaptyd geweef word, die intrige van melodramatiese sepies opgetower uit die verbeelding van ‘n verteller. “Storie” kan selfs gebruik word om ‘n volstrekte leuen te beskryf. Geskiedenis, volgens ons definisie, is weer rekords van ware gebeure. Geskiedenis verwys na elke gebeurtenis wat hierdie oomblik vooraf gegaan het.
Ons word egter herinner aan die werklikheid in die Engelse woord vir geskiedenis: “History”, oftewel “his story”. Sy storie. ‘n Weergawe van gebeure wat iemand vertel vanuit sy oogpunt. Dit is moeilik om so ‘n monumentale woord, soos geskiedenis te definieer, sonder om te worstel met die ewewig wat feit en fiksie is, asook wat ingesluit is en wat weggelaat is.
Ons ken almal die stories en feëverhale wat geskryf is deur die Grimm broers – die broers wat kinders al vir ‘n meer as ‘n eeu vermaak. Rooikappie en die wolf, Hansie en Grietjie, Aspoestertjie, Raponsie, om net ‘n paar te noem. Ons neem aan dat dit stories is, opgetower deur die verbeelding van die twee talentvolle Duitse skrywers. Wat min mense besef is, dat meeste van die “verhale” niks minder as geskiedenis is nie.
So is dit ook met Sneeuwitjie en die sewe dwergies. Hierdie is die geskiedenis van Sneeuwitjie en die sewe dwergies; die weergawe gefluister deur die nasate van die verloorders…
Maria Sophia von Erthal is gebore op 15 Junie 1729 in Lohr am Main, Bavaria. Sy was die enigste dogter van Prins Philipp Christoph von Erthal en sy vrou, Barones von Bettendorff.
Maria Sophia, of Sneeuwitjie soos sy jare later so bekendstaan, was ‘n doodgewone klein dogtertjie. Sy was besonder mooi, met hare so swart soos ebbehout, bruin oë wat diep in jou siel kon kyk en lippe so rooi soos bloed. Die Barones het gereeld vir vriende vertel dat sy haar vinger per ongeluk met ‘n naald geprik het, en dat die bloed op die sneeu buite haar venster en op die hout vensterbank gedrup het. Betower deur die kleure van die rooi bloed op die spierwit sneeu, en op die donker vensterbank het sy haar oë toegeknyp en gewens dat sy ‘n dogter gehad het met vel so wit soos sneeu, lippe so rooi soos bloed en hare so swart soos die ebbehout waarvan die vensterbank gemaak is. Wanneer die Barones die gebeure vertel het, het sy altyd geknipoog aan die einde – as teken aan haar gehoor, dat die gebeure dalk bietjie van ‘n wit leuen was.
Maria Sophia het ‘n gewone en baie gelukkige jeug gehad – of so gewoon as wat die rykdom van koninklikes ‘n kind toelaat om ‘n kind te wees. Net na haar veertiende verjaardag het Maria Sophia se lewe egter drasties verander. Haar ma is ewe skielik oorlede. Maria Sophia se hart was gebreek en sy het begin om haar dae te vertoef, agter geslote deure, in haar slaapkamer. Prins Philipp was net so gebroke. Sy manier om te treur was egter om Maria Sophia heeltemal te vermy, omdat sy hom te veel herinner het aan sy vrou, die liefde van sy lewe. So het tyd aangeloop, en pa en dogter het onder een dak as vreemdelinge begin leef.
Die dood maak egter nie dat die wêreld ophou draai nie. Prins Philipp moes steeds na sy deel van die land, Main-Spessart, omsien. Dit was ‘n tyd in geskiedenis toe Europa ‘n kontinent van konflik en bloed was. Een adellike het ‘n ander ingeval, in ‘n poging om ‘n groter koninkryk te bekom. So ook het die koning van die buurstaat, Reichenstein, gedreig om Main-Spessart in te val. Na onderhandelinge is daar besluit dat Prins Philipp met Claudia Elisabeth Maria von Venningen, Gravin van Reichenstein, sou trou om almal gelukkig te hou en vrede tussen die twee streke te verseker. So is Prins Philipp bykans ‘n jaar na sy vrou se dood, met Gravin Claudia Elisabeth Maria von Venningen getroud.
Claudia von Venningen het geweet sy moes haar plig doen vir haar land en nasie. Daar was geen liefde tussen haar en Prins Philipp nie, maar hulle was ten minste hoflik teenoor mekaar. Elke lid van die gesin het hulle eie gang gegaan. Maria Sophia toegesluit in haar kamer, afgesonder van die res van die mensdom. Prins Philipp het sy koninklike pligte nagekom en soveel deur sy landgebied gereis, as wat moontlik was – net om die vrou en dogter in sy kasteel te vermy. Claudia het haar tyd verwyl deur te lees – die een handgeskrewe boek na die ander. Dit was beskou as totale vreemde gedrag, siende dat bitter min mense in daardie tyd kon lees, en vroue wat kon lees was totale onaardsheid. Dit was so vreemd vir die gepeupel, dat daar agteraf gefluister is dat die gravin ‘n heks moes wees.
Dit was eers weke nadat Gravin Claudia by die kasteel ingetrek het, voordat sy gehoor het die diensknegte praat van Maria Sophia – Prins Philipp se dogter. Stomgeslaan dat sy nog nie die kind gesien of eers van gehoor het nie, het Claudia haar diensmeisie beveel om haar na Prinses Maria Sophia toe te neem. Maria Sophia het egter geweier om haar stiefma in haar kamer toe te laat. Na vele boodskappe en briewe na Maria Sophia het die gravin maar opgegee. Sy kon nie die vreemde gedrag verstaan nie, maar het maar vrede daarmee gemaak.
Die lewe het, soos die lewe maar is, vir beide die gravin en die prinses skielik en onomwonde verander. Die omwenteling het begin toe Claudia een aand laat, op en af in die kasteel gewandel het. Soos gewoonlik het slaap haar ontwyk, omdat sy konstant bepeins het oor die tronk sonder slotte waarin sy haar bevind het. Claudia het diep ingedagte deur die donkerte gestap, met slegs die flou lig van ‘n flikkerende kers om die donker te verdryf. ‘n Beweging, iewers net buite die kring van lig, het haar terug na die werklikheid toe geruk. Aanvanklik het Claudia aangeneem dit is ‘n dienskneg wat besig is met hul pligte in die nagtelike ure. Claudia het na die persoon toe gestap, in die hoop om ‘n gesprek aan te knoop Daar was nie veel in die vorm van interaksie met ander mense in haar lewe nie, en sy was altyd uitgehonger om die stem van iemand anders te hoor. Toe die lig egter die waarheid ontbloot, het die gravin ‘n gil gegee, en agteruit gesteier. Voor haar was die wit gedaante van … ‘n spook! Die figuur het onheilspellend doodstil bly staan, en Claudia het diep asemteue gevat om kalm te word. Uiteindelik het Claudia weer nader gestap, met die vlam van die kers omhoog, nie net om lig te maak nie, maar ook om ‘n nuttelose skuld tussen haar en die bedreiging te wees. Voor Claudia het ‘n pragtige tiener meisie gestaan, met hare so swart soos die nag self en rooi lippe wat enige vrou sou beny. Haar vel was spierwit. So wit soos sneeu. Claudia was geskok. Die enigste keer wat sy al ooit iemand met daardie skakering vel gesien het, was toe sy haar oorlede ouma se lyk gesien het. Doodsbleek. Die meisie het agteruit getree om uit die lig te kom, maar Claudia het ‘n tree vorentoe gegee, om die meisie nie in die donker te verloor nie.
Claudia het moeite gedoen om elke liewe dienskneg in die kasteel, se naam te ken. Sy het egter nie hierdie meisie herken nie.
“Maria Sophia?”, het Claudia uiteindelik die stilte gebreek met ‘n raaiskoot.
Die meisie het die gravin ‘n oomblik aangegluur, haar boonste lip opgetrek, om haar tande te ontbloot en ‘n geluid gemaak wat iewers tussen die grom van ‘n wolf en die sis van ‘n kat was. Toe verdwyn die meisie geluidloos die donker in. Claudia het grootoog, woordeloos bly staan. Sy het alles probeer inneem – probeer verstaan wat sy sopas gesien het. Die meisie – wat sy aangeneem het is Maria Sophia – se onnatuurlike gelaat en die manier hoe sy reageer het met daardie aggressiewe geluid. Maar wat Claudia bygebly het was die twee slagtande in die meisie se mond. Soos die van ‘n dier. ‘n Roofdier.
Vir dae het Claudia die kortstondige, maar skrikwekkende, ontmoeting met die prinses oor en oor in haar gedagtes herleef. Dit was vir Claudia ‘n totale raaisel, en sy het uiteindelik haar diensmeisie uitgevra oor Maria Sophia. Die diensmeisie se oë het so groot soos pierings gerek, duidelik gevul met vrees, en geweier om enige iets oor die prinses te sê. Claudia het die arme diensmeisie gesmeek, en uiteindelik gedreig dat sy haar werk gaan verloor, voordat die diensmeisie uiteindelik ingegee het. Nie dat sy regtig veel inligting gehad het oor die vreemde prinses nie. Net fluister-stories wat vertel is in die gange van die kasteel. Daar was gesê dat Maria Sophia net in die aand uit haar kamer gekom het. Telkemale was daar ‘n lyk, van ‘n dienskneg of bedelaar, in die woud buite die kasteel gevind. Wit soos geen gewone lyk nie, asof daar geen bloed in hul liggaam was nie. Daar is opgemerk dat die lyke gevind is elke keer wanneer die prinses uit haar kamer gekom het in die nagtelike ure. Dit was maklik vir dorpenaars om die nodige afleidings te maak.
Maria Sophia se abnormale voorkoms, vreemde gedrag en die dood wat haar gevolg het, het iewers in Claudia se agterkop ‘n klokkie gelui. Claudia het haar persoonlike biblioteek ingevaar, en koorsagtig die een boek na die ander deurgeblaai*. Uiteindelik het sy dit gekry wat bevestig het wat sy vermoed het.
“Die eerste vampier waarvan daar vertel word is Vlad III Drakula, of net genoem Drakula deur beide sy vyande en sy volgelinge. Drakula was die heerser van Transsilvanië van 1456 tot 1462. Drakula was berug daarvoor dat hy ‘n genadelose krygsheer was, en dikwels die lyke van sy slagoffers op pale om sy paleis vertoon het. Na sy onverklaarbare verdwyning het van sy diensknegte na vore gekom en vertel dat Drakula ‘n wese tussen ‘n mens en ‘n vlermuis was. Hy het volgens oorlewering sy vyande se bloed gedrink en bedags in ‘n houtkis geslaap omdat hy glad nie in die son wou kom nie. Drakula was allergies vir knoffel, en was vir dae siek as dit in sy kos gebruik was. Hy het ‘n vrees gehad vir alle Christelike simboliek soos kruise. Hy is beskryf as ‘n lang man met ‘n spierwit gelaat, soos die van ‘n dooie, swart hare en skerp oogtande soos die van ‘n wolf. Drakula se lewe is, volgens die legende, beëindig deur ‘n dokter, Abraham Van Helsing, wat een dag Drakula se kasteel ingesluip het, en ‘n houtpen deur Drakula se hart gekap het.”
Claudia het die boek in ‘n totale tweestryd neergesit. Hoe het dit gebeur dat Prins Philipp se dogter ‘n vampier geword het? Wat moet sy daaromtrent doen? Maria Sophia doodmaak om die mense wat sy vermoor, se lewens te red? Dit sou, ongetwyfeld, onmiddellik oorlog tussen haar mense en die mense van Main-Spessart laat ontvlam, en duisende lewens kos. Doen sy niks omtrent Maria Sophia nie, is sy net so skuldig aan die moorde as Maria Sophia self.
Vir weke kon Claudia nóg minder slaap as voorheen. Die innerlike konflik het haar feitlik waansinnig gemaak. Uiteindelik het sy ‘n boodskap na haar vriend – en eintlike geliefde – Fabio, die koninklike jagter van Reichenstein, gestuur. Enkele dae daarna het Fabio voor sy geliefde Claudia se deur gestaan, reg hom haar te help met enige taak wat sy uitgevoer wou hê. Fabio het aandagtig na Claudia se verhaal geluister en sonder om te aarsel ‘n oplossing voorgestel. Hy sou Maria Sophia ontvoer en in die woud haar hart uitsny om seker te maak dat sy werklik dood is. So sou Claudia glad nie betrek word met Maria Sophia se verdwyning en dood nie. Claudia het vir Fabio gewys waar Maria Sophia se kamer was, en hom hartseer vir oulaas gegroet. Albei het geweet dat Fabio waarskynlik van daardie dag af ‘n voortvlugtende sou wees. Dit was ‘n warm, sonnige somersdag; nie ‘n wolkie in die lug nie. Fabio het gewag tot vroegmiddag, wanneer al die diensknegte en soldate middagete gehad het, voordat hy Maria Sophia se kamerdeur oopgestamp het. Soos hy verwag het, was Maria Sophia in ‘n diep slaap – die kamer donker soos die nag, danksy swaar gordyne. Fabio het Maria Sophia versigtig vasgebind, toegerol in ‘n tapisserie en die kasteel uitgedra, sonder dat ‘n enkele siel hom gewaar het. Hy het sy gevangene dwars oor ‘n perd se rug gegooi, op sy eie perd geklim en die woud ingery.
Fabio het die perde gedryf asof die duiwel hom jaag. Hy wou so ver van die kasteel en Claudia af kom, vóór dit donker was. Hy het geweet hy moes die daad pleeg voor sononder, anders was hy, en waarskynlik Claudia ook, in dodelike moeilikheid. Oplaas, toe die perde nie meer ‘n enkele tree kon gee nie en die laaste paar sonstrale deur die digte woud se takke breek, klim Fabio van sy perd af. Hy gooi Maria Sophia op die grond neer en haal sy slagtersmes uit. Hy rol die tapisserie oop om sy prys vir oulaas te beskou. Dit neem hom ‘n oomblik om alles in te neem. Die pragtige gesig van die bloedjong meisie, met haar gitswart hare, onbeskryflike bruin oë, haar rooi lippe wat hom aanloklik nader roep, sonder om ‘n enkele woord te uiter. En haar vel, wit soos sneeu, soos fyn porselein wat gaan breek as jy te hard daaraan vat. Maria Sophia kyk diep in Fabio se oë. Fabio vergeet van moord. Hy vergeet van Claudia. Al wat hy sien en begeer is die jonge Maria Sophia – onwetend dat hy onder die mag van die vampier was. Versigtig maak hy die toue om Maria Sophia los en help haar op.
“Jy moet vlug! Vlug vir jou lewe! Ek sal saam met jou kom en jou versorg!”, gil Fabio vir haar bykans buite homself.
Maria Sophia glimlag net. Twee skerp oogtande steek by haar bolip uit. Sy steek haar hand uit. Sonder dat sy ‘n woord sê weet Fabio wat om te doen. Hy gee sy jagmes, soos ‘n geskenk, in Maria Sophia se hande. Maria Sophia bly glimlag vir die man wat twee koppe bo haar uittroon, en in ‘n blitsige beweging – vinniger was wat die oog kon sien – steek sy Fabio in sy keel, reg waar sy slagaar loop. Soos wat Fabio vooroor val tot op sy knieë, gryp Maria Sophia hom asof sy hom hartstogtelik omhels. En Maria Sophia vier fees met die bloed van haar slagoffer; drink dit asof dit ‘n soet wyn is.
Die jare het gekom en gegaan. Claudia von Venningen was stoksielalleen in die vervalle kasteel. Meeste van die diensknegte het hul pos verlaat, want Prins Philipp het nie weer teruggekeer na die nuus van sy dogter se verdwyning hom bereik het nie. Op ‘n dag stap Claudia deur die dorp se mark, toe sy twee van die dorpenaars hoor praat. Hulle praat van ‘n pragtige meisie met swart hare, rooi lippe en ‘n spierwit vel wat in die dorpie Bieber, wes van Lohr, woon aan die voet van ‘n bergreeks wat die Sewe Dwerge genoem was. Die dorpenaars het gespot en gesê hulle prinses wat verdwyn het, het weer in Bieber verskyn waar sy nou die mense daar en terroriseer. Haar naam was egter Schneeweißchen, oftewel Sneeuwitjie in Afrikaans.
Claudia het onmiddellik besef dat dit nie toeval was nie. Sy het dieselfde dag nog te perd die tog aangepak na die Sewe Dwerge toe.
Sowat drie dae later het Claudia haar bestemming bereik. Sy het begin rondvra oor die Sneeuwitjie vrou, en sonder moeite die nodige inligting gekry. Die aand, net na skemer klop Claudia, vermom as ‘n hawelose vrou, aan die huis waarna die inwoners van Bieber haar verwys het.
‘n Pragtige vrou maak die deur oop en tuur Claudia suspisieus aan. Hare so swart soos ebbehout, lippe so rooi soos bloed, en ‘n vel so wit soos sneeu. Claudia was by die regte plek.
Claudia hou ‘n mandjie voor haar uit.
“Goeienaand dame, ek verkoop blutwurst…”, sê Claudia en probeer soos ‘n stokou vrou klink. Sy hoop die rou wors, wat gemaak is van varkvleis en bloed, is onweerstaanbaar vir die vampier voor haar.
Sneeuwitjie aarsel eers, maar die reuk van vars, rou bloed oorval haar en dit is asof sy in ‘n beswyming gaan. Sneeuwitjie gryp die mandjie by die ou vrou, gooi ‘n muntstuk op die grond langs Claudia en slaan die deur toe.
Claudia glimlag, draai om en loop. Nou hoef sy net te wag.
Binne die klein huisie kon Sneeuwitjie skaars haar lus inhou. Die deur is skaars toe, of sy het ‘n stuk bloedwors in haar hand en begin gulsig daaraan eet. Sy besef dadelik iets is fout. Haar keel trek toe en die vertrek begin om haar swem. Knoffel.
Claudia loer deur die venster en wag dat die knoffel doen wat dit moet doen.
Maria Sophia sak inmekaar.
Net toe Claudia deur die venster wil klim, kom Fabio uit die ander vertrek na Sneeuwitjie toe aangehardloop. Trane loop vrylik oor Claudia gesig. Haar geliefde Fabio… Die vampier het hom gebyt, maar nie doodgemaak nie. Fabio was nou ook ‘n vampier; vir ewig die onwetende slaaf van Sneeuwitjie. Fabio hurk langs Sneeuwitjie, druk sy vinger in haar mond, en skep soveel van die wors uit as wat hy kan. Stadig maak die beeldskone vrou haar oë oop, asof sy uit ‘n koma uit kom. Dan buk hy af en soen haar hartstogtelik en help haar orent. Claudia kon nie verder die toneel aanskou nie. Sy het omgedraai en snikkend die nag in verdwyn.
In sprokies is daar altyd ‘n gelukkige einde. Die helde van die verhaal leef die res van hulle lewens in eindelose geluk en vrede, tot in lente van dae. Met geskiedenis is daar nie altyd ‘n gelukkig einde nie. Veral nie as jy die verloorder is nie.
Niemand weet wat van Sneeuwitjie, Fabio of Claudia geword het nie. Claudia het lank genoeg geleef om háár weergawe van die gebeure aan iemand te vertel. Die onsterflike Sneeuwitjie se weergawe is egter die weergawe wat van geslag tot geslag oorvertel word. Almal hou tog van ‘n gelukkige einde… **
* In Sneeuwitjie se weergawe word daar vertel dat Claudia ‘n spieël geraadpleeg het, en dat sy jaloers was op Sneeuwitjie se skoonheid. Vreemd dat dit meer geloofwaardig is dat die stiefma ‘n towerspieël raadpleeg, as wat sy naslaanwerk in boeke doen. Claudia von Venningen het wel ‘n spieël besit wat buitengewoon blink en gelyk vir daardie era was. Die weerkaatsing was so duidelik, dat die spieël “Die Pratende Spieël” genoem is, omdat dit altyd die waarheid gepraat (weerspieël) het. Die spieël hang vandag nog in die Spessart museum.
** Elke jaar verdwyn sowat 100 000 kinders en volwassenes in Duitsland. Sowat 99 persent van die vermiste mense word weer gevind. Elke jaar verdwyn sowat 1 000 mense in Duitsland, en word nooit weer gekry nie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2021 – OOP projek