
Die pers heks van Blommeland skryf weer ’n wintervers
My liefling,
dis weer winter
ek verlang net (dis maar al)
soms as dit so koud is
en die reën so aanhou val.
Maar vandág, my lief
is dit mooiweer in die Kaap.
Die wolke (wat so grou was)
is na elders weggeraap.
By Houtbaai se hawe
vlieg die seevoëls salig, vry
oor die bote wat daar vasmeer
en tot by Hangberg
en verby.
En onthou jy nog die meeue
wat krappe vang en vreet,
of het jy lank reeds van die meeue
en die louheid van ’n wintersdag
in Juniemaand vergeet.
(Alles gaan verby, my lief
ook hierdie sagte son;
die skadu’s en die skemertes
en die donkertes sal kom.)
Die mis styg uit die water op
om tussen boot en mas te hang;
so is dit maar dat ek middaglaat
weer veels te veel verlang.
Lief,
dit word nou skemer…
ek sien Venus is aan’t vlug
oor die hawe hier by Houtbaai
en oor Karbonkelberg se rug.
En soms hunker ek na jou
na ons saamwees
na jou lag –
soos na ’n hawe in ’n storm
en soos na Houtbaai (met haar liggies)
in die nag.
© Carma Shaw
8 Julie 2020
5:41
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Koos Elsum
Magtig dis wragtig pragtig en goed 👍 Al is ek nou so bietjie blou... Ons het laas oor die Viooltjie gesels maar nou meer belangrik. Ek glo almal kan leer by almal in ons gedigte werêld. Ek het onderneem om kommetaar te lewer op gedigte, in getal van tenminste 10% van die aantal gedigte wat ek al geplaas het. Kan ek vra dat jy die uitdaging ook aanvaar?