Jongste aktiwiteit:

DIE SKEPPING VAN DIE HEELAL – WAT IS DIE WAARHEID?

Hierdie is sekerlik een van die mees tergende vrae waarmee die menslike brein gekonfonteer word. Die mens is geskape met ’n ondersoekende gees en hierin speel sy sintuie, veral sy oë, ’n prominente rol. Die mens se oë soek na orde in elke saak of verskynsel en kanaliseer dan daardie orde na sy brein, wat weer op sy beurt na patrone soek om by sy denke in te pas.
Wanneer ons nou oor die skepping van die heelal praat sal baie teoloë en gelowige Christene vir jou sê dat God van die Bybel alles geskep het. Met ander woorde hulle siening is gegrond op ’n geloofsuitspraak. Godsdiens is gebaseer op geloofsuitsprake wat nie wetenskaplik bewys kan word nie.
Nou maar wat is geloof dan? Albert Einstein, een van die grootste wetenskaplikes wat daar nog was, het tydens sy lewe met verwysing na sy eie persoonlike geloofsoortuiging gesê: Wetenskap sonder godsdiens is lam, godsdiens sonder wetenskap is blind. ‘n Godsdienstige persoon is vroom in die sin dat hy geen twyfel het aan die betekenis van daardie bo-persoonlike voorwerpe en doelwitte wat nie rasionele grondslag vereis of in staat is om te wees nie.’ In teoloë en Christene se denke is geloof ’n vaste vertroue in die dinge waarop hulle hoop gevestig is, synde ’n bewys van die onsienlike.
Teenoor geloof staan die wetenskap. In ’n neutedop is die wetenskap gebaseer op kennis  wat op feite gegrond is. Sodanige feite word deur wetenskaplikes, (Kosmoloë in hierdie geval), bekom deur middel van waarneming en eksperimentering van en met dinge. Kortom, wetenskap konsentreer nét op feitlike bewyse van en oor dinge. Interessant genoeg dat Bybelse uitsprake ook nie deur die wetenskap as ‘onwaar’ bewys kan word nie. (Dít, wys jou hoe groot die God is wat ons dien).
Met verwysing na die feit dat alles in die skepping met nougesette presiesie aanmekaargesit is, meld Gideon Joubert in sy boek ‘Die Groot gedagte’ wat handel oor die ‘Abstrakte Weefsel van die Kosmos’, dat dit inderdaad blyk asof ’n Groot Gedagte, die skepping presies so ontwerp het. Selfs die gerespekteerde Einstein het die skepping beskryf het as ’n ‘put-up-job’. Kosmoloë is ook van mening dat die skepping ontstaan het met wat hulle die oerknal noem. Etlike miljoen jare gelede het die oerknal losgebars uit die groot niks, sê hulle, en wel as gevolg van die geweldige losbarsting van energie. Laasgemelde  het die ‘in die begin’ tot gevolg gehad. Dít is dan ook die woorde waarmee die Bybel  in die boek Genesis begin. Hoe moet hierdie oerknal verstaan word? Wie het, en hoe is hierdie oerknal ‘geaktifeer’. Joubert praat in sy voormelde boek van ’nGroot Gedagte’ en impliseer daardeur dat dit God is wat agter die oerknal sit. In sy boek begin hy met ‘n aanhaling uit die Bybel waarin aanspraak gemaak word dat God alles gemaak het wat ontstaan het. Die vraag wat by herhaling in gelowiges, se gedagtes opkom is: As God dan gesê het Laat daar lig wees!, is die stem van God dan nie miskien die oerknal wat alles uit die groot niks, laat losbars het nie? Met ander woorde moet ons nie eerder praat van die oerknal van God se Stem nie, as om net van die oerknal te praat nie … ?
Aanvanklik benader Joubert in sy boek die skepping met ’n geloofsuitspraak vanuit die Bybel. Dit is egter opmerklik dat hy daarna vasval in oordonderde wetenskaplike argumente. Sy geloofsuitsprake vervaag dus onder die verskoning dat dit moeilik is om die heelal te begryp. Joubert voer aan dat die mens nie die wese en werking van die heelal sal of kan verstaan as hy nie ook die ingewikkelde wese en werking die oneindig klein sub-atomiese wêreld verstaan nie. Die mens bevind hom in, wat Joubert noem, ’n tusseninwêreld van massiewe galaksies en ’n mikrowêreld van sub-atomiese kwarke.’ Sodanige wêreld kan dan, volgens hom net betree word deur in wat hy ’n kwantumsprong noem. Gevolglik word die mens se begripsvemoë volgens hom, oorspan en bevind hy homself in ’n surrealistiese wêreld waarin tyd en ruimte een word en massa onstabiel voorkom.
Kosmoloë is voorts van mening dat die heelal in wat hul noem, ’n ‘kosmiese kode’, geskryf is. Die antwoord op ons begrip van die wese asook die werking van dinge, lê volgens hulle in die ingewikkelde ‘eenvoud’ van die atoom en die wette waardeur sy bousteentjies beheer word. Die vraag is: Kan daar op grond hiervan geredeneer word dat die mens hom bevind tussen iets oneindig groot en oneindig klein, soos wat Leonardo da Vinci, eeue gelede gesê het?
’n Verdere aspek wat ’n vraagteken in die gemoed baie teoloë en Christene laat, is die feit dat kosmoloë, (wat ook Joubert se siening is), die skepping in drie fases plaasgevind het. Fases 1 en 2 wat elk sesduisend jaar geduur het; en Fase 3 wat ’n korter periode was, waartydens die mens geskep is.
Die redenasie van baie gelowiges is dat God die hemel, die aarde asook die mens in ses dae geskep het en dat Hy op die sewende dag gerus het. Laasgemelde is egter weereens ’n geloofsuitspraak wat nie wetenskaplik bewys kan word nie.
In die boek 2 Petrus 3 van die Bybel lees ons in vers 8 dat  ‘ … een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.’  Híerdie vers uit die Bybel dien heelwaarskynlik as teoloë en gelowige Christene se antwoord aan Joubert en die kosmoloë se 3-Fase-skepping argument.
Teoloë en gelowige Christene se redenasie is dat indien hulle interpretasie van 2 Petrus 3 vers 8 korrek is, en hulle somme hulle nie in die steek laat nie, hulle by op hoogstens 7 000 jaar uitkom. Met ander woorde sewe dae van 1 000 jaar elk en dat die getal 7 volgens die Bybel ’n volmaakte is.
Ten slotte bly die vraag nogsteeds: Wat is die waarheid omtrent die skepping?
Wie is reg?
Teoloë en Christene met geloofuitsprake; of
Kosmoloë met wetenskaple uitsprake?
—————————————————oo00oo—————————————-
©Pieter Mostert
VOETNOTAS

  • Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie’ (Hebr. 11:1).
  • Aangehaal uit Einstein’s essay getiteldScience and religion, wat gedurende 1954 gepubliseer is in die tydskrif: The New Republic 1954.
  • Ek het alles gemaak en so het alles ontstaan, sê die Here (Jes. 66:2).
  • ‘ … een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.’  (2 Petrus 3:8).

Bibliografie

  • Boschke, F.L. (1964). Die Skepping duur Voort. Kaapstad. Humman & Rousseau.
  • Calder, N (1997).  Einstein’s Universe. London. Penquin Books.
  • Dake’s Anotated Reverance Bible Old and New Testament (1963) J. Dakes Dakes Bible Sales Inc. Lawrenceville, Georgia.
  • Daniel Arasse, Leonardo da Vinci, (1997) Konecky & Konecky.
  • Die Bybel 1953 vertaling Bybelgenootskap van Suid- Afrika, Roggebaai, Kaapstad.
  • Du Plessis, Isak. God en Wetenskap – en ons wat glo. 2003: Lux Verbi, Kaapstad.
  • Gamow, G. (1952)The Creation of the Universe. New York. Viking Press.
  • Gribon, J (1984).   London: J.M. Dent.
  • Joubert, G. (1977). Die Groot Gedagte Abstrakte weefsel van die Kosmos. Formeset Cape Printers,Wes-Kaap.
  • Liana Bortolon, The Life and Times of Leonardo, Paul Hamlyn, Londen, 1967.
  • Pagels, H,R. (1984). The Cosmic Code. Reading: Penquin Books.
  • ttps://www.filosofie.nl/de-mens-is-groots-in-zijn-kleinheid.



1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed