Jongste aktiwiteit:

Die teddiebeer in my bed

(Woordtelling : 611)

 

Dit mag dalk nuttelose inligting wees, maar wie weet almal dat Nasionale Teddiebeer-dag elke jaar op die 9e September gevier word? En waarom is ʼn ou teddiebeertjie dan so belangrik dat dit sy eie dag moet kry?

Navorsing deur ʼn Amerikaanse maatskappy, Build-A-Bear Workshop, het in 2017 bevind dat meer as die helfte van die 2000 volwassenes wat aan die meningsopname deelgeneem het, ʼn sagte speelding besit (84% mans en 77% vrouens). Wat nog ‘n groter verrassing is, is dat sowat 43% van hierdie 2000 mense snags hul bed met daardie speelding deel. Meestal is dit iets wat uit hul kinderdae dateer, maar baie koop spesiaal vir hulself ʼn miniatuur bedmaat – iemand wat nie terug praat nie en lekker stil slaap. Tog bly dit ʼn vreemde gedagte dat ʼn volwasse persoon met een of ander pop in sy arms aan die slaap raak, al het die grootste meerderheid van hierdie mense reeds kinders van hul eie.

Miskien is dit normaal om vir mamma of pappa met ‘n pop in hul arms te sien slaap, ek weet nie.

Al word sagte speelgoed uitsluitlik aan kinders bemark, geniet kinders van alle ouderdomme dit om iets sag in sy arms vas te hou. Dit is baie dikwels ʼn groot bron van troos vir volwassenes want dit is ʼn effektiewe manier om eensaamheid te verlig. In ons moderne wêreld vereensaam mense baie vinniger as ʼn paar dekades gelede, ten spyte van die gevorderde tegnologie en die feit dat ons oënskynlik makliker kontak op verskeie platforms met mekaar kan maak. Bejaardes, en veral mense wat aan Alzheimer’s ly, vind groot baat by die besit van ʼn sagte pop, iets wat hulle moet versorg en liefde aan kan gee.

Mense wat aan Post Traumatiese Stres, bipolêre versteuring, en ander geestesongesteldhede lei, vind groot baat by die besit van ʼn sagte speelding. Dit bring troos en rustigheid wanneer die persoon baie stres en angstigheid ervaar, en kan selfs jou slaaploosheid tot ruste lê. ʼn Troeteldier verlaag hul eienaar se kortisol en bloeddruk, maar dit is nie altyd moontlik om ʼn troeteldier aan te hou nie. Om aan ʼn sagte speelding te vat het heel onverwags ook dieselfde uitwerking as om oor die pels van jou hond of kat te streel.

Dit help ook vir mense wat hulself in groot hartseer en in ‘n toestand van verlies bevind. Baie van hierdie mense soek iets om vas te hou, en wat is beter as ʼn sagte, wollerige ding wat ook sommer jou trane kan opvang? Daar is kundige mense wat spesialiseer in die maak van teddiebere uit die oorledene se klere, wat dan weer op sy beurt ʼn spesiale plek in die ontvanger se lewe kry.

Wanneer ʼn persoon ʼn ernstige traumatiese gebeurtenis, verwaarlosing of mishandeling in sy kinderdae beleef het, kan so ʼn speelding hom help om die trauma te verwerk. Hierdie pop of beertjie bring ʼn gevoel van onvoorwaardelike ondersteuning en help om die persoon te “ground”, met ander woorde, ʼn gevoel van standvastigheid te gee.

Miskien is die skreeusnaakse rolprente van Mr. Bean en sy voos gespeelde teddiebeertjie toe nie heeltemal so vergesog as wat ek vroeër gedink het nie. En, al dink ek nie enige van my vriende slaap met ʼn sagte speelding nie, het ek nog nooit die moed gehad om enigeen so openlik daaromtrent te vra nie. As my sestigjarige vriendin erken dat sy snags met ‘n pop in haar arms slaap, mag ek dalk net anders na haar kyk!

Maar, om baie eerlik te wees, daar sit ʼn hele swetterjoel sagte speelgoed van allerhande groottes en vorms op die spaarkamer se bed. Natuurlik is dit vir die kleinkinders om mee te speel…




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed