
Die Veldmuis
‘n Yswind waai die droë gras en blare oor die bruin veld. Die hase hardloop en boks wanneer hulle mekaar se paaie kruis. Blou-grys tarentale wei in hul trop – die enigste kleur in die dorre gebied. ‘n Muis skarrel agter ‘n dorre boom in en hou als nuuskierig dop.
Feetjies land saggies agter ‘n groot miershoop, hul verf, sade en ander gereedskap reg vir die nuwe seisoen. Die wind hou op waai noudat hulle dit nie meer aanpor nie.
‘Julle weet wat om te doen,’ sê hul leier.
Nes elke lente voor dié een plant hulle sade, sing vir die blomme en bosse om te groei, verf nuwe blare helder groen en leer die voëls om weer te sing.
‘Waarom?’ vra die Assassyn die Feë Koningin waar hulle buite sig agter die Sluier staan.
‘Want hulle het almal nodig om te hoop.’
Sy glimlag toe ‘n rooikat met nuut-geverfde sleutelblomme verby hardloop, ‘n paar wimpel-Feë jillend op sy spoor.
‘Hul hoop bou ons magiese kragte. Moenie die mag van emosies onderskat nie, Cian.’
Sy hou al die klein seisoen Feë dop terwyl hulle hul bes doen om die Yskoningin se werk ontdaan te maak. Hul energie en hoop spoel oor haar en die veld soos ‘n vars lente briesie.
‘Dit gaan nie genoeg wees nie…’ die Assassyn bly doodstil toe ‘n muis nuuskierig voor hom tot stilstand kom en die lug snuif. Vir ‘n paar oomblikke hou hy die dier dop voordat die roep van ‘n seisoen Fee die muis se aandag na kos skuif.
Die Feë Koningin lag saggies.
‘Ontspan, Cian. Dinge het dalk verander – baie verander – maar hoop is een van daardie emosies wat mens, dier en fee aan klou en veral sterk voel wanneer lente kom.’
Hulle hou die aktiwiteit op die veld vir ‘n paar oomblikke langer dop, die son hoog in die hemelblou lug. Die muis kyk weer vir hulle, maar voordat hy terug na hulle kan hardloop verdwyn die Assassyn en Feë Koningin.
Die muis strek lekker in die son en geniet die aandag van die Feë wat hom voer en borsel. Lente is altyd welkom na ‘n lang, honger winter.
*Jy kan hierdie verhaal en ander in “Eens…” lees in sagteband deur na die boekwinkel hier op INK te gaan of as ‘n luisterboek deur Audioshelf (gebruik hierdie skakel: http://shop.audioshelf.co.za/product/eens-verhale-mites-en-legendes-van-feerie/ ) of as ‘n eboek deur jou gunsteling web winkel (gebruik hierdie skakel: https://www.books2read.com/u/bwYWzZ ).*
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die September - Lente projek