Die vrug van vriendelikheid en getrouheid
Die vrug van vriendelikheid
o Heer, vriendelikheid beteken nie net ‘n glimlag
‘n sagte woord, goedheid, dienende hande nie
maar dat ek die vrug van verdraagsaamheid moet baar
ander te vergewe soos U my vergewe
hulle ‘n kans te gee en nie te veroordeel nie
om hulle te help, te red en te lei
laat my verby ander se foute kyk
om my geliefdes, vriende en landsgenote
deur U in hulle self te laat glo
die beste van hulle vrugte voort te bring
Vader, laat vriendelikheid my hele menswees infiltreer
om bruikbaar, diensbaar, positief en nuttig te wees
dat U my toerus met ‘n geestelike metafose
uit my negatiewe en afbrekende kokon
sodat al die vrugte van my lewe soet en sappig
in die mond van my medemens sal smaak
en leer my die
Vrug van getrouheid
o Vader, ek faal so dikwels om die
vrug van vertroue, geloof en getrouheid
te dra en na ander te saai
dat ek met integriteit en volhardend
stiptelik, betyds my geloof laat ryp word
o Heer, leer my om eerlik te wees
leer my om getrou te wees aan U
getrou aan my lewensmaat
getrou aan my geliefdes
getrou aan my vriende
getrou teenoor my werknemers
getrou aan my beroep
getrou aan my passies en liefde
getrou hier waar ek woon
Mag U die Heilige Gees die vrug van geloof
en van vertroue in my lewe laat ryp word
leer my om as ‘n betroubare mens
trou in U diens sal bly staan
sodat ek my naam eendag
in die boek van die lewe sal vind
©kopiereg Linda du Plessis 2023
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.