Jongste aktiwiteit:

Die wêreld in 2021

NIEMAND het die ineenstorting van 2020 sien kom nie! En ALMAL se verwagtinge – wat dit ookal sou behels – moes opnuut herrangskik en heroorweeg word. Buiten die twee wêreldoorloë, het ons al ooit op hierdie skaal so ʼn globale trauma beleef? Enige verwagting dat ons lewe rustig in sy gebaande weë sou voortbestaan asof niks ooit gebeur nie, het ewe skielik ʼn wake-up call gekry. Dis amper soos om vir ʼn kind ʼn pienk roomys te belowe en ʼn vrot kool in sy hand te stop.

Maar meer as enigiets anders, bepaal ons verwagtinge die kwaliteit en realiteit van ons lewe. Met ander woorde, dit wat jy glo is hoe jou wêreld lyk. Die uitkoms van enigiets word bepaal of jy glo jy iets kan doen of nie. Eintlik is dit baie eenvoudig, maar blykbaar onmoontlik vir sommige om te verstaan en nog moeiliker om toe te pas!

Navorsing het bewys dat mense wat in hulself en hul vermoëns glo, ʼn baie groter kans het vir ʼn positiewe uitkoms. Diesulkes gebruik ook ʼn groter gedeelte van hul brein en meer breinkrag om ʼn probleem op te los. Metakognisie is dus baie belangrik vir prestasie want die persoon benader ʼn probleem vanuit meer as een hoek, is meer aanpasbaar en dus word dit makliker om uitdagings die hoof te bied. Aanpasbaarheid is dus ʼn groot voordeel wanneer dit by verwagtinge kom.

Die kersie op die koek is dat hierdie geloof in jou eie vermoëns ook ʼn positiewe invloed op almal rondom jou het. En wanneer ons in iemand anders se vermoëns glo, help dit ook daardie persoon om in sy eie vermoëns te glo! Die beste dokter se behandeling sal niks help as jy nie self ook glo dat dit sal werk nie. Die plasebo effek speel dus ook ʼn rol wanneer die grootste kwaksalwer se raad ʼn positiewe verskil in jou gesondheid maak. Met ander woorde, jou brein kan jou oor berge laat spring of in ʼn donker put vasgeketting hou.

Daar is egter agt verwagtinge wat jou lewe ernstig kan omkrap:

1. Dat die lewe regverdig is. Dus, jy verwag nie dat jy ooit belieg, besteel, gebroke verhoudings of verlies sal ervaar nie. Jy verwag nie dat enigiets sleg ooit met jou sal gebeur nie – tot dit gebeur en dan is die duiwel los. Jy blameer als wat leef en beef en sukkel om die gebeure te verwerk. Waar die idee vandaan kom dat slegte goed nie met goeie mense kan gebeur nie, kan maar net geraai word, want enigiets kan enige tyd met enige persoon gebeur. Daar is dus nie ʼn goed of sleg nie. Hoe vinniger die persoon dus uit hierdie gedagtegang kan breek, hoe vinniger sal hy ʼn oplossing raaksien. Goeie goed gebeur immers ook met slegte mense, of hoe? En wie is immers die beoordelaar of iemand goed of sleg is?
2. Geleenthede gaan soos ryp vye in jou skoot val. Jy kan maar op die rusbank plak en alles gaan na jou aangestap kom. Jy gaan ʼn wonderlike werk met ʼn uitstekende salaris kry – maar sonder om ooit ʼn aansoekvorm in te vul! Jou hart en siel gaan van alle hartseer en probleme vergeet, maar sonder om ooit die (soms uitmergelende) emosionele pad daardeur te stap. God sal mos vir alles sorg, ons moet mos net ons probleme in Sy hande laat, dan nie?
3. Álmal hou van my! En álmal sal my altyd met respek en liefde behandel. Die uiteinde van so ʼn verwagting is net teleurstelling. Die persoon wat altyd verwag dat ander van hom sal hou, is op pad na ʼn nare ontnugtering. Dit is gedagtes wat by ʼn kind hoort, want meestal is dit maklik om van kinders te hou. Soos jy groei en jou persoonlikheid ontwikkel, sal jy vind dat jy nie almal tevrede kan stel nie en jy self ook nie van almal hou nie. Onthou, jy is nie pizza of tequila nie.
4. Álmal gaan altyd met jou saamstem en mense gaan altyd dink jy het die wonderlikste idees. Hulle gaan oor hul voete val om in jou teenwoordigheid te wees. Maar aangesien elke persoon ʼn individu is met sy eie belangstellings en idees, kán almal nie altyd met alles saamstem nie. Die wêreld het mense met verskillende idees nodig sodat ingewikkelde probleme opgelos kan word. As almal dieselfde dink en dieselfde doen, sal niks ooit verander nie.
5. Mense weet sommer vooraf wat jy wil sê en jy hoef nooit jou gedagtes of motiewe te verduidelik nie. Dit gebeur dan ook dat mense soms baie onnadenkend praat, ʼn ander tot in sy siel seermaak maar dan die verskoning gebruik dat hy of sy dit ‘net goed bedoel het’. As kommunikasie nie duidelik en direk is nie, is daar altyd plek vir misverstande.
6. Ek gaan faal. Deur slegs daaraan te dink dat jy nie sukses gaan behaal nie, maak jou kanse op sukses drasties kleiner. Mense wat hul glas altyd as half leeg sien, se lewens is ook half-leeg. Dit is moeilik en ʼn voortdurende opdraande stryd om dag na dag jou eie negatiewe gedagtes rond te piekel.
7. Besittings maak jou gelukkig. Wel ja, besittings maak verseker jou lewe meer gerieflik, maar ʼn ryk persoon is nie noodwendig meer gelukkig as ʼn arm mens nie. Dit mag dalk lekkerder wees om in ʼn nuwe Mercedes te huil as op ʼn fiets, maar daardie blink kar maak nie jou lewe noodwendig gelukkiger nie. Die belangrikste faktor vir geluk lê binne jou en nie in die grootte van jou bankbalans nie.
8. As ons eers getroud is, sal hy meer bedagsaam wees/minder drink/minder tyd by die werk spandeer/meer tyd tuis saam met die kinders deurbring. Die idee dat een persoon ʼn ander kan vorm en verander het al tot vele onvervulde drome en hartseer eindes gelei. Die ENIGSTE persoon wat jy kan verander is jouself en die ENIGSTE persoon wat vir jou geluk kan sorg, is jy. Niemand anders kan vir jou dink, iets in jou lewe verander, jou aan die lewe hou of jou selfs net gelukkig maak nie. Hou dus mense met ʼn positiewe ingesteldheid naby jou en spandeer min tyd saam met mense wat jou in die donker dieptes aftrek.

Om op te som, jy spandeer baie meer tyd saam met jouself as saam met enige ander lewende wese. Let op die kwaliteit van jou gedagtes want dit wat jy glo word bewaarheid. Max Planck (23/04/1858-4/10/1947) het gesê: “When you change the way you look at things, the things you look at change”. Wayne Dyer (10/05/1940-29/08/2015) het hierdie selfde gesegde herhaal en verder die wye wêreld ingedra.

Kyk vandag na slegs een area in jou lewe wat nie werk nie. Benader dit vanuit ʼn ander hoek en maak ʼn nuwe besluit oor dit wat jy kan doen om ʼn permanente verandering teweeg te bring.

Bron : https://www.forbes.com/sites/travisbradberry/2016/08/02/8-unrealistic-expectations-that-will-ruin-you/?sh=4138770a19f0




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed