Die wiel van die Digter
spiraal Sy diggenre
in die uitdyende kosmiese gewelf
orden Hy uit wanorde toonset
oneindigheid en liriek die ewigheid
van sy skeppingsgedig in vloeiende strofes
die Digter laai die nag- en daeraad af
tel die dae op in weke
verdeel hul in maande
vermenigvuldig hulle in jare
en liasseer hulle in seisoene
tussen die blaaie van sy digbundel
midddelpunt hy die onbekende
in sy ewig uitdyende genadesirkel
die wiel van die Digter spiraal
ewigheid
oneindigheid
tydloosheid
onbekendheid …
waar
wanneer
sal Sy wiel stop
om my af te laai?
——-ooo000ooo——-
(© Pieter Mostert) [Silwer]
(NOTA AAN DIE LESER: Ek stel God as digter van Sy skepping voor binne die ordelike diggenre van sy almag, en wel in alle eerbied en nederigheid binne die raamwerk van die talent wat hy vir my gegee het om in ons pragtige Afrikaanse taal te kan skryf en dig. Vir my lê die onbekende in die laaste strofe van my gedig).
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Junie 2024 – Die onbekende projek