Jongste aktiwiteit:

Dinge gebeur in drieë … of nie. (Brons)

(Woordtelling: 1052)

Ek glo vas dinge (goed of sleg) gebeur altyd in drieë. Dis nie dat ek ‘n bygelowige persoon is nie, geensins nie, maar vandat ek kan onthou is dit asof ek altyd wag vir daardie derde ding om te gebeur, dan weet ek dit is oor en verby vir ‘n lang ruk.

Vanoggend was nie ‘n uitsondering nie. Al boer ons ‘n hele ent buite die dorp, het ek die dag besluit toe ons, ons kinders vanaf die plaasskool oorskuif na die dorpskool toe, dat ons hulle nie al op laerskool in die koshuis gaan sit nie. Hulle kan koshuis toe gaan sodra hulle met hulle hoërskoolloopbane begin. Met die gevolg dat ek my kinders nog elke dag in en uit ry dorpskool toe en saans slaap my tjorra by my kombuis se agterdeur, onder ‘n lekker groot skadunet. Manlief besluit toe so ruk terug hy gaan eerder ‘n afdak daar laat opsit en die skadunetkonstruksie laat verwyder. Hierdie storie geskied toe net mooi laas Saterdag, maar so stoor hulle, vir eers, die opgerolde skadunet se ‘materiaal’ langs my tjorra onder haar nuwe ‘permanente sambreel’. Elke oggend en aand stop ek op my gewone plek (by die kombuis se agterdeur) en stap verby die gestoorde groen skadunet (wat net langs tjorra lê), sonder om te wis van die verskuilde gevaar daaronder.

Ek bel manlief met my aankoms vanoggend by my kantoor. Sy eerste woorde aan my was of ek weet dat ek vanoggend verby Meneer Rinkhals gestap het. ‘n Rilling rol al langs my ruggraat af. “ ‘n Rinkhals?” vra ek. “Ja”, sê manlief, “ ‘n rinkhals.” Die het sy of haar intrek geneem onder die opgerolde skadunet, net mooi netjies daar waar ek letterlik elke oggend (nie eers ‘n halwe tree weg nie) verbygestap het om Tjorra te laai met die dag se bagasie vir die dorp. Manlief besluit toe vanoggend hy wou die skadunet verwyder en toe die een werker die skadunet oplig, toe staan Ta daar en lyk sommer lelik nors omdat sy skuiling nou weggevat word. Nou duidelik het Meneer Rinkhals nie die vorige 2 rinkhalse se boodskap gekry om van my huis af weg te bly nie. (Die vorige twee was een by my slaapkamervenser en die ander een het hom sommer binne my kombuis se kas kom tuis maak) Nee, hy het hom sommer ewe lekker tuis gemaak en het seker net gewag dat su familie by hom moes kom aansluit. Gelukkig kon die mans Meneer Rinkhals vinnig die deur wys. Nou hoop ek net sy gesin verloor ook die aanwysings na my huis toe, al weet ek diep hier agter in my kop dat dit nie laaste sien van ‘n rinkhals by my huis is nie.

Later die middag bel ek vir sussa om te hoor hoe dit gaan met die sonneblomme se stropery. Sien sy het besluit dat sy vandag na skool saam haar pa wil gaan sonneblomme stroop. Die gesprek het min of meer so gegaan. “Mamma, ek het binne in die wa met die sonneblomme gespeel en nou is my arms en bene orals uitgeslaan.” Ek troos haar dat ons vir haar iets sal aansmeer vir die uitslag wat sy nou het, maar haar volgende woorde omklem my hart yskoud. “Maar Mamma, dis nie die grootste probleme wat ons vandag het nie. Pappa het groter probleme” En daar weet ek, hier kom die derde ding vir die dag. “Die nat grond het onder ons meegegee en die stroper staan nou in ‘n groot gat en ons kan nie uit nie.” Op my vraag hoe diep het die stroper in die gat weggesak, was haar antwoord dat hulle nou amper vir die grond kyk. Nou, baie dinge het deur my kop gegaan in daardie paar sekondes vandat die woorde ge-uiter is. Ek kon sommer in my geesteoog sien hoe skuins die stroper in daardie gat staan. Veral as jou kind vir jou vertel dat hulle vir die grond kyk. Of dalk is dit net ‘n mammabrein wat oortyd werk. Ek probeer my stem so kalm as moontlik hou. “Engel, sal julle kan uitkom”. Bedoelende, sal pappa daai stroper uit die gat getrek kan kry.” “Nee, Mamma, ons maak net die deur aan pappa se kant oop, dan klim ons uit.” Ek kon net glimlag. Hier staan ek en bekommer my oor hoe hulle daai stroper uitgetrek gaan kry en my dogtertjie is geensins bekommerd nie, want hulle kan darem by haar pappa se deur uitklim, al staan die stroper skuins. Boonop is hulp blykbaar op pad. Die een werker het gou die groot trekker by die huis kom haal en kon hy hulle uitgetrek kry.

Drie dinge op een dag en drie rinkhalse in 3 jaar se tyd. Mmm, dinge gebeur altyd in drieë. Of is dit dalk net ‘n menslike ding om orde in patrone te soek om so sin van chaos te probeer maak. Dalk, ek weet nie. Maar as jy om jou rond kyk, sal jy orals die patroon van drie kan raak sien. Net om ‘n paar voorbeelde te noem. Die tower getal drie (soos die Engelse sê: Third time lucky), dit is ook die getal van tyd: die verlede, die hede en die toekoms en geboorte, lewe en dood, asook die begin, die middel en die einde. Dan het jy net drie primêre kleure nodig om die meeste van die ander kleure te kan meng. Die getal drie maak ook sy verskyning in stories: Die Drie Varkies, Goue Lokkies en die Drie Bere, die Drie Blindemuise, Die Drie Musketeers, die drie wense wat iemand mag maak in verskeie kinderstories. Die Rosetta steen bevat byvoorbeeld drie tale, nl. Egipties, Hiërogliewe, en Klassieke Grieks. Selfs in die diereryk maak die getal drie sy verskyning. ‘n Seekat het drie harte, kamele het drie ooglede en katte het ‘n derde ooglid (genoem Tertia palpebra). So die getal drie maak beslis sy verskyning orals in ons lewens en dit wil my voorkom of dit wel ‘n belangrike rol in ons alledaagse lewens speël. Dalk is dit hoekom sommige van ons glo dat dinge in drieë gebeur, want dit is dalk sterker in ons onderbewussyn ingeprent. Maar hoe dit ookal sy, al wat ek weet is, as dinge gebeur (goed of sleg) dan hou ek my asem op, want die derde ding gaan beslis gebeur.

©Taai Bonthuys




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed